Die installering en afwerking van ‘n bootvormige hartbeeshuis se vloer

hartbeeshuisie-01

Foto: Argief.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, bekyk in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis se klei- of grondvloer geïnstalleer en afgewerk het.

Deel VI: Die klei- of grondvloer  2: installering en afwerking van die vloer

Voordat die vloer geinstalleer is, is die grondoppervlak eers gelyk gemaak en vasgestamp.[1] Daarna is die gebreide grond- of kleimengsel, wat redelik styf moes wees, op die grond uitgegooi en vasgestamp.[2] Vir dié doel is ʼn stamper of ʼn slaanhout gebruik.[3]Die vloer is met ʼn reihout gelyk afgewerk en daarna natgespat en met ʼn skuurklip of troffel glad gevryf.[4]

Barsies wat gedurende die droogwordproses in die vloer ontstaan het, is met ʼn slaanhout aan weerskante van die barste toegeslaan. Die proses is herhaal totdat daar nie meer barsies was nie en die vloer heeltemal droog was.[5] By potkleivloere is dun klei gebruik om barste te herstel.[6]

Om die voltooide vloer skoon te hou, is dit gereeld natgespat en gevee.[7] Die vloer is ook daagliks of een maal per week met ʼn mengsel van vars bees, bok- of skaapmis en water gesmeer.[8] Dit het ʼn harder en duursamer vloer tot gevolg gehad en het die vloer koel en vry van stof en insekte soos vlooie gehou.[9]

Voordat met die mis aangesmeer is, is die vloer eers skoon gevee.[10] Die mengsel is met die handpalm óf met ʼn lap of besem in sirkelbewegings aangesmeer.[11] Soms is variasies van blom-, sig-sag- en golwende patrone met die vingers op die vloer aangebring.[12] Om ʼn grondvloer donker te kleur, is die as van gebrande gras of roet bo-oor gesmeer.[13] As mis oor die roet gesmeer is, het die patrone duidelik vertoon.[14] C. van Zyl skryf in haar herinneringe “Hoe meer kinkels, draaie en swaaie jy in jou gesmeerde vloer kon sit, hoe deftiger lyk dit.”[15]

ʼn Ander metode om die vloer te preserveer, was om dit een- of tweekeer per week met geklitste skaap- of beesbloed en water te smeer.[16] Bloed het die vloer duursaam en hard, maar ook baie glad gemaak.[17] Dit het ʼn blink, donker vloer tot gevolg gehad.[18]

Vloere is ook met olie gepreserveer deur dit met ʼn mengsel van roulynolie en grond of skoon roulynolie te smeer.[19] Indien skoon roulynolie gebruik is, is die vloer eers hiermee behandel waarna dit met ʼn maalklip en melk geskuur is.[20] ʼn Olievloer was blink en glad soos glas; so glad dat mense op die vloere kon gly.[21]

Dít wat in die onmiddelike omgewing beskikbaar was het die bestanddele en afwerking van die vloer bepaal en gevolglik het talle variasies voorgekom. In die Lydenburg-omgewing is turksvyblare se dorings byvoorbeeld afgevryf, die blaaie oopgesny en die vleiskant oor die grondvloer gesmeer. Wanneer die sap droog geword het, is die vloer blink gevryf.[22]

 Bronne:

[1] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900. D.phil-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1988, p. 326.

[2] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 326; P. van der Merwe, Die maak van vanslewe se misvloer nr. 7, 1980, p. 8.

[3] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 102; Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16; M.J. Oosthuizen, Terugblik op die verlede: die plaaslewe vanouds, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 39.

[4] Skriftelike mededeling: M.C. Botha, Posbus 65, Pienaarsrivier, 1991-08-16; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06.

[5] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 326.

[6] Skriftelike mededeling: Z.C. Grobler, Arend Dieperink Museum, Potgietersrus, 1991-09-15.

[7] A.R. Barnes, The colonial household guide (Cape Town, 1889), p. 122.

[8] J. de Coning, Die grasdakhuise van ou Kapaailand, Tydskrif vir Volkskunde en volkstaal 26(6), April 1970, p. 16; E. Kretzschmar, Schetzen uit Zuid-Afrika (’s-Gravenhage, 1854), p. 18; H. Lichtenstein, Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805, and 1806 I (Cape Town, 1928), p. 131; H. Mulder, Dit was gister en eergister (Kaapstad 1970), p. 131; M.J. Oosthuizen, Terugblik op die verlede: die plaaslewe vanouds, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 39; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa (Cape Town, 1966),  p. 54; G.J. Schutte (red.), Briefwisseling van Hendrik Swellengrebel jr. oor Kaapse sake, 1778-1792 (Kaapstad, 1982), p. 169; A.A.J. van Niekerk, Herneuter (Kaapstad, 1975), 21; T. Venter, Die Bosveldhuis, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 47(1), April 1991, p. 44.

[9] J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa (London, 1844), p. 114; A.R. Barnes, The colonial household guide, p. 122; E. Kretzschmar, Schetzen uit Zuid-Afrika, p. 18; H. Lichtenstein, Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805, and 1806 I, p. 131; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa, p. 54; C.P. Thunberg, … travels at the Cape of Good Hope 1772-1775 (Cape Town, 1986), p. 139; A.A.J. van Niekerk, Herneuter, p. 21; T. Venter, Die Bosveldhuis, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 47(1), April 1991, p. 44.

[10] A.A.J. van Niekerk, Herneuter, p. 21.

[11] A.R. Barnes, The colonial household guide, p. 122; E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 332; J. Murray (Ed.), Young Mrs. Murray goes to Bloemfontein (Cape Town, 1954), p. 27; P. van der Merwe, Die maak van vanslewe se misvloer nr. 7, 1980, p. 8; A.A.J. van Niekerk, Herneuter, p. 21; C. van Zyl, Huisversiering en aan kant maak in vroeëre dae, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 17.

[12] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 30; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; Mondelinge mededeling: D.J. Rossouw, Oorlogsfontein, hoewe 45, Potgietersrus, 1991-09-17; P. van der Merwe, Die maak van vanslewe se misvloer nr. 7, 1980, p. 8.

[13] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 333; P. van der Merwe, Die maak van vanslewe se misvloer nr. 7, 1980, p. 8.

[14] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 333.

[15] C. van Zyl, Huisversiering en aan kant maak in vroeëre dae, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 17.

[16] Suid-Afrikaanse Argiefbewaarplek: MSB240, p. 142: Mediese handboek vir de Afrikaanse huisgesin, J.F. Häszner, 1793; K. Schoeman, Dogter van Sion: Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749-1799 (Kaapstad, 1997), p. 87; H. van der Merwe, Pionierslewe in die Boesmanland, Die Kultuurhistorikus, Oktober 1986, p. 50.

[17] C.P. Thunberg, … travels at the Cape of Good Hope 1772-1775, p. 139.

[18] Persoonlike waarneming tydens die eksperimentele rekonstruksie van pioniersstrukture in die Voortrekkeraanvangsnedersetting van die Schoemansdal Museum, 1989.

[19] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek, p. 30; Mondelinge mededeling: Z.C. Grobler, Arend Dieperink Museum, Potgietersrus, 1991-09-15; K. Schoeman, Dogter van Sion…, p. 87; E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 333; G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekkertydperk II, p. 181.

[20] Mondelinge mededeling: Z.C. Grobler, Arend Dieperink Museum, Potgietersrus, 1991-09-15.

[21] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge…, p. 30.

[22] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 343.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae