Die koning van rose

Ludwig Taschner en gesin. Foto: ludwigsroses.co.za

Ludwig Taschner en gesin. Foto: ludwigsroses.co.za

Volgens Ruth Stout is daar vrede in ʼn tuin. Vrede en resultate.

Ludwig Taschner, eienaar van Ludwig’s Roses, sal dit sekerlik kan beaam.

Sy liefde vir rose het as ʼn kind in Oos-Duitsland begin. Hy het grootgeword in ʼn kwekery waar hy altyd rose vir die blommewinkel moes pluk. Hy het opleiding as blomkweker ontvang en is toe Engeland toe om verder in dié bedryf te spesialiseer. Volgend Ludwig is dít waar sy liefde vir rose begin blom het. Hy het ook ervaring in Switserland opgedoen.

Hy het in 1962 in Suid-Afrika aangekom. “Dis ’n lang, lang tyd terug,” skerts hy. Ludwig sê dis ʼn absolute plesier om in Suid-Afrika blomme te kweek, want hulle blom nege tot tien maande van die jaar. Ludwig’s Roses is in 1971 gevestig en is tans een van die suksesvolste roosplase in Suid-Afrika.

Ludwig sê hy het nooit dié sukses verwag nie. “Daar was ʼn tradisionele manier van rose kweek. Toe ek my eie besigheid begin het, het ek besluit om nié hierdie metode te volg nie.”

Dit het tyd geneem, maar die plaas het al hoe meer uitgebrei  en vandag is Ludwig se drie kinders ook by die besigheid betrokke. Hy sê dit gee hom meer tyd vir sy eerste liefde – om rose te kweek. “Ek is mos ʼn pensioenaris,” skerts hy.

Ludwig sê die sleutel tot ʼn suksesvolle besigheid is  ʼn goeie idee en om daarby te hou. Volgens hom moet mens ook jou bedryf en mark goed ken. Hy meen dat daar altyd terugslae is, maar dat ʼn mens hierdie uitdagings as ʼn leerskool moet beskou. “Moenie opgee nie, en hou by jou besigheid!”

As jy ooit gewonder het oor hoe om ʼn roos vir iemand te kies, gee Ludwig die volgende raad: “Rose het hul eie persoonlikhede, net soos mense. As jy ʼn roos vir iemand kies, moet jy weet waarvan die persoon hou. Die kleur van ʼn roos is baie belangrik. Ek hou van oranje, maar my vrou hou van geel rose en dit help nie ek gee vir haar ʼn pienk roos nie.”

En die koning van rose se gunsteling roos? “Ek sal nooit sê nie!”

Besoek gerus Ludwig’s Roses se webwerf.

varieties

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MJL ·

Hulle het nie net mooi rose nie. Daar is ook lekker roosgegeurde melkskommels en rooskonfyt.

Fransie ·

Pragtige blomme, ek ruik sommer die rose deur net na die foto te kyk. Hoe bevoorreg is hy nie om sulke wonderlike werk te kan doen nie. Rose was nog altyd my gunsteling blom en laat my na my Ma en Ouma verlang.

Roosliefhebber ·

Ludwig’s Roses is voorwaar n kuierplek van vormaat!! Met speelplek vir kinders. Oom Ludwig en sy vrou is ook geliefd in die gemeenskap en doen baie vir die gemeenskap. Besoek gerus die plaas. (en die Turkish delight is uit die boonste rakke!!)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.