Die lewenslange prys van seksuele geweld

Argieffoto

Seksuele geweld. Verkragting. Die gewelddadigheid van die aksie self is maar een van die vele faktore waarmee ʼn slagoffer (mans en vrouens) te kampe het – meestal vir die res van hul lewe.

Baie jong kinders verstaan nie eens wat met hulle gebeur nie – al verstaan hulle ook instinktief dat dit verkeerd en onwenslik is. Die probleem is natuurlik dat hulle nie aan ’n volwassene kan verduidelik wat met hulle gebeur het nie – en dit is uiters moeilik om op te tree, tensy daar ʼn ooggetuie was.

Die Zondi-getuienis in die Omatoso-hofsaak in die Oos-Kaapse hooggeregshof, het uitgewys dat seksuele geweld teen kinders meermale plaasvind waar die ouer persoon ʼn sielkundige houvas op die kind kry, wat hom in staat stel om oor ʼn lang tydperk seksuele geweld te pleeg omdat die kind te bang is om die waarheid te berde te bring.

Navorsing wat by die UCT gedoen is, wys dat 34% van Suid Afrikaanse meisies tussen 15 en 17 jaar seksuele mishandeling ervaar het.

Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos, wys daarop dat sulke vroeë mishandeling ʼn kind se vermoë om op vele vlakke (veral sosiaal en geestelik)  tot gesonde volwassenheid te ontwikkel, strem. Dit verhoog die kanse van geestesiektes soos depressie, antisosiale gedrag, om sy/haar eie lewe te neem, en natuurlik, middelafhanklikheid. “Hierdie kinders sal meer geneig wees om vertroosting in verslawende middels te soek,” sê sy.

Van der Merwe sê navorsing onderstreep die feit dat vroeë blootstelling aan mishandeling ʼn langdurige effek op kinders het. Verkragting en seksuele geweld kan lewenslange nagevolge hê. “Ons Grondwet sê dat kinders die reg het om nie bang te wees nie – maar seksuele geweld veroorsaak dat vrees die oorheersende emosie in ʼn kind word.

“Baie kinders wat in pleegsorg geplaas word, het sulke trauma ervaar, en gevolglik word almal om hulle daardeur geraak. Oor die lang termyn word die hantering van die emosionele gevolge van seksuele mishandeling ʼn lewenslange proses.

“Dink by voorbeeld aan kinders wat as die resultaat van verkragting gebore word. Hul kom die wêreld as verworpenes binne en dra die vrug van geweld vanaf geboorte met hul saam. Ons het onlangs ʼn geval gehad waar ʼn ma wat 5 jaar gelede so ʼn kind gehad het, en die kind vir aanneming opgegee het, nou haar kind wil sien. Maatskaplike werkers het ʼn bykans onmoontlike taak in sulke gevalle.

“Ten slotte is dit ʼn feit dat ons samelewing nooit van die gevolge van seksuele geweld en verkragting bevry sal wees nie. Meer mense as waarvan ons ooit sal weet, ly as gevolg van hierdie kriminele gedrag,” het van der Merwe afgesluit.

  • CMR Gauteng-Oos werk met kinders en gesinne in die Tshwane-metro deur  13 streekkantore wat strek vanaf Bronkhorstspruit tot by Midrand. Meer inligting kan bekom word by Henda van der Merwe by 072 801 0092.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Pompies ·

Molestering van ‘n minderjarige kind kan voor die deur van die ouers (versorger) gelê word en voorkoming kan daar plaasvind.
Ons is nou betrokke by die gemeenskap waar daar onder meer na minderjarige kinders omgesien word gedurende die tyd wat die ouers werk.
Kenmerkend is dat kinders wat abnormale seksuele neigings toon kom uit ouer huise waar daar drank misbruik is en ouers wat nie betrokke is by die kind se opvoeding.
Sodra die saak onder die ouers se aandag geplaas word is dit gewoonlik iemand anders se skuld en die blaam verskuif.
Intussen is dit die kinders wat skade optel en die misbruiker gaan voort met sy dade. In een geval het die vriend by die ouers van die kind gekuier en drank verskaf. Sodra die ouers gedrink raak en onbewus is van wat om hulle aangaan het die persoon toegeslaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.