Die monument wat geskend móét bly

Die Burgermonument in Harrismith. (Foto: Verskaf.)

Harrismith se Burgermonument was reg van die begin af erg omstrede. Die monument, wat in 1938 onthul is, het ongemaklikheid tussen die Afrikaners veroorsaak en ongelukkigheid onder die Engelse. Harrismith se eie geskiedenisdelwer en -skrywer Leon Strachan vertel hoekom dié monument se storie vir hom die interessantste in die land is.

“Die oorspronklike idee om ’n monument vir slagoffers aan Boerekant van die Anglo-Boereoorlog te bou, het van kmdt. Gert Beukes van Warden gekom. Hy was tydens die Rebellie van 1914 saam met genl. Wessel Wessels en genl. Christiaan de Wet in die veld. Daarenteen was twee ander leiers wat vir die monument gewerk het, lt.kol. Piet du Plessis en kol. Jan Jacobsz weer deel van die Unie-Verdedigingsmag teen die rebelle,” sê Strachan.

Tog het daar besinning gekom en is die Rebellie se dinge vir ’n wyle opsy geskuif. Manne wat tydens die Rebellie in mekaar se visier was, het nou skouer aan dieselfde wiel gesit.

Die herdenking van die Groot Trek in 1938 was in dié jare in aanloop en ’n gees van samewerking en patriotisme is by Afrikaners gewek wat die ander prominente kultuurgroep ongemaklik gehad het, verduidelik Strachan. Daar is vroeg reeds besluit om die onthulling van die monument saam met die aankoms van die simboliese ossewatrek op Harrismith op 8 November 1938 te hou.

“Die komitee het van meet af aan groot gedink. Hulle het ook besluit om die distrik se burgers wat elders in die Boereoorlog gesneuwel het, op te grawe en op Harrismith te kom herbegrawe op dieselfde dag as die onthulling. Hulle het begeesterd aan die werk gespring, sonder benul van die groot drama wat op hulle gewag het.”

‘n Deel van die skare met die Burgermonument se onthulling. (Foto: Verskaf.)

ʼn Monument verrys, maar…

Daar is fluks gevorder met die insameling van fondse vir die monument. Die komitee het op ’n hoë, soliede granietvoetstuk besluit, met die beeld van ’n knielende burger van wit Siciliaanse marmer in gevegshouding bo-op. Die plan was om dit reg voor die stadsaal in die dorpstuin staan te maak.

Dis toe net daar waar die moeilikheid begin het.

Harrismith was toe nog ’n Engelse dorp en die oorgrote meerderheid Engelssprekende inwoners se simpatie was aan Britse kant. Aan Boerekant was daar ook natuurlik Britse meewerkers wat uiteraard baie sensitief was oor hul geskiedenis. Vir die twee groepe sou daardie gedenknaald ’n blatante herinnering wees aan die onaangename aspekte van die oorlog: konsentrasiekampe, kindersterftes, joiners, verraaiers en ’n orgie van plaasvernietiging ― ’n balk in die oog op die mees prominente plek in die dorp, reg voor die stadsaal.

Maar die reëlings het voortgegaan. Crankshaw Brothers, graniet- en marmerhandelaars van Newcastle, se tender vir die konstruksie van die monument is aanvaar en vakmanne het die boog-voetstuk voor die stadsaal gebou. Op die pilare daarvan is gedenkplate aangebring ter ere van die burgers wat in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het, asook die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe omgekom het. Die marmerbeeld van die knielende burger het per trein aangekom en is gemonteer, waarna dit in ’n bokseil toegewikkel en met toue vasgewoel is.

Op Dinsdag, 8 November 1938, breek die groot dag uiteindelik aan. Daar heers ’n feestelike atmosfeer en aanvoelbare afwagting onder die skare wat van vroegoggend al by die oop graf in die begraafplaas saamdrom vir die herbegrafnis van Harrismith se gesneuweldes tydens die ABO. Daarna het almal afgesit Markplein toe, waar agt duisend mense in die bloedige hitte om die Burgermonument vergader het.

Almal wou die knielende burgerfiguur op die granietboog sien wat nou bedek was met ’n baie geskiedkundige Vrystaatse vlag wat tydens die Slag van Platrand gebruik is ― bloedbevlek en met koeëlgate. Dit word ontknoop en stadig afgetrek. Daar staan die monument toe – reg voor die stadsaal, bo-op ’n triomfboog.

Maar dis nie waar die storie eindig nie. Inteendeel.

Die ontwerpvoorstel uit Italië. (Foto: Verskaf.)

Spanning bereik (letterlik) breekpunt

Tien maande later, in die lente van 1939, val Hitler Pole binne. Die Britse regering verklaar gevolglik oorlog teen Duitsland. Spanning tussen Suid-Afrikaanse Engelssprekendes, wat in die algemeen ten gunste van deelname aan die oorlog was, en ’n beduidende aantal Afrikaanssprekendes wat daarteen was, vlam weer vuurwarm op. Onder laasgenoemdes ontstaan die Ossewa-Brandwag (OB), wat die saak teen die oorlog bevorder.

Hitler se vroeë Europese suksesse het die OB se gewildheid vinnig laat styg, ook in Harrismith, sê Strachan. “Dit moes pro-oorloggesinde inwoners met toenemende kommer gelaat het. Met daardie kommer in gedagte kuier ’n klompie soldate van die Unie-Verdedigingsmag met rooi lussies een Donderdagaand in die Central Hotel. Hulle was op pad noorde toe en was bekommerd dat die OB ’n staatsgreep kan uitvoer terwyl hulle in Noord-Afrika sit. Wat sou van hulle gesinne word?”

In die stadsaal was daar terselfdertyd ’n dans aan die gang om fondse vir die oorlog bymekaar te maak. Die klompie soldate in die Central het goed gedrink en is laataand besope uit die kroeg uit stadsaal toe om ’n bietjie te gaan dans. Hulle vat kortpad deur die tuine, maar voor die hoofhek steek twee van hulle vas. Dis twee broers, vertel Strachan, en hulle weier om onder die monument deur te loop.

“‘Hy moes nooit hier gestaan het nie!’ skreeu hulle in dronk bravade. ‘Die Boere gaan jou d*nner,’ koggel een van die ander hom. Met dié gryp een van die broers ’n stuk loodwaterpyp wat daar rondgelê het, en klim met hulp van die ander bo-op die monument. ‘Laat hulle kom!’ gil hy, en slaan ’n woeste hou na die burgerbeeld. Gelukkig tref die pyp net die hoed en gesig skrams, maar tref die geweerloop met volle impak. Met dié verloor hy ook sy balans en val hom katswink op die plaveisel onder die granietboog.”

Op Vrydagoggend, 1 Maart 1940, ses maande ná die aanvang van die oorlog, word Harrismith wakker met die ontstellende nuus dat die Burgermonument beskadig is. Woedende mense drom om die monument saam, nuuskieriges kom by, wilde wraakdreigemente word gemaak, meer as een keer moet gekeer word dat vuisgevegte uitbreek.

Afrikaners het die voorval aangegryp om die pro-oorlogseksie se lojaliteit teenoor Suid-Afrika te bevraagteken, sê Strachan. Daar was kort tevore ook insidente by die Brand-beeld in Bloemfontein en by die Voortrekkermonument in Pretoria wat nog in aanbou was, waarmee die voorval in verband gebring is. In die daaropvolgende weke word woorde soos ‘sameswering’, ‘sabotasie’ en ‘skandalig’ gehoor, en die vyand van die Boerevolk het die skuld gekry.

Crankshaw Brothers, oprigters van die monument, het intussen op eie inisiatief en sonder om enigiemand te konsulteer ’n werkspan Harrismith toe gestuur om die geweerloop kosteloos aan te heg en met marmerstof en kleurlose bindmiddel te herstel. “’n Mens sou verwag het dat dit die einde van ’n sensitiewe saak sou wees, want die monument was nou weer reg en dit het niks gekos nie,” sê Strachan.

‘n Nabyskoot van die Burgermonument in Harrismith. (Foto: Verskaf.)

Die toekoms ná ʼn tweede skending

’n Week later het die dorp verdwaas wakker geword. Die monument is ’n tweede keer geskend. Dié keer was dit lede van die OB, wat die herstelde geweerloop afgebreek en verwyder het om te voorkom dat dit weer herstel kan word. Die plan was om ’n politieke martelaar van die burgerbeeld te maak – dit moet geskend gelaat word sodat dit as ’n herinnering van verontregting kon dien.

’n Nuwe granietplaket is laat maak met die woorde: “Hierdie monument is in die oggend van 1 Maart 1940 deur die vyand van die Boerevolk geskend.” Dit is op die linker voetstuk aangebring en ’n geleentheid gereël om dit met groot seremonie en politiekery te onthul. Die stukkende monument moes as ’n splinter in die oog van die oorlogsgesindes dien.

’n Komitee is aangewys om die hele skendingsage namens die oudstryders wat die monument opgerig het te hanteer. Hulle het twee besluite oor die toekoms van die monument geneem. Eerstens is die afgebreekte stuk marmergeweerloop onder streng geheimhouding by Cloete se prokureursfirma in veilige bewaring geplaas, en tweedens sou Harrismith se Voortrekkerkommando die monument in die toekoms bewaar.

Die Voortrekkers moes egter onderneem om toe te sien dat die geskende monument nooit herstel sal word nie.

Die geskende monument, wat oorspronklik ’n verhaal van versoening tussen verskillende Afrikanerfaksies vertel het, herinner vandag meer as 80 jaar later aan die ernstige verdeeldhede van die verlede, glo Strachan. “Die skending is simbolies van ’n onstuimige tyd: oorlog, burgeroorlog, politieke verskille en staatkundige onstabiliteit.”

  • Vir navrae oor Harrismith se historiese gedenkwaardighede, stuur vir Leon Strachan ’n e-pos by [email protected]
  • Hierdie artikel is geplaas met die vergunning van Flink, die FAK se tydskrif.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pierreli

Die engelse wat nie saamstem nie moet dan maar gaan. Al hierdie dinge wat met die Boere Volk gebeur het is deur die engelse toedoen.

Vrijburger

Mmmmm baie interessant.