Die oudwordraaisel

ou-hande-drankie

Argieffoto.

Die ding spook nou al vir so ʼn twintig jaar by my. Ek het ʼn draai by ou dokter gemaak, nadat ek die groot vyftig-mylpaal verbygesteek het. Toe hy geen foute kon opspoor nie, het ek hom reggehelp en gewys op sekere hinderlike goedjies. Hy het so ʼn skewe glimlaggie gegee en betekenisvol geantwoord: “Jong, jy’s nou verby vyftig en vir party goed is daar pilletjies, maar met die ander moet jy maar vrede maak en daarmee saamleef.” Ek maak toe vrede en ek leef sedertdien saam met die goedjies wat ek toenemend ervaar en dit lyk vir my nie of daar pille is wat werk nie. En die pille wat vir party goed help, help ook net as jou verbeelding en verwagting groter as die mankement of skeet is.

As ek nou aan die skryf raak, gaan dit oor my jaar se kalwers. Die jong nageslagkalwers kan ok maar lees as hulle wil en ʼn prentjie kry van wat vir hulle voorlê. Dit wil vir my lyk of daar onder die in-jare-gevorderdes twee groepe is: Die een noem ek die onrealisties-idealisties-oudword-ontkennendes en die ander groep die realisties-oudword-aanvarendes. Albei groepe is natuurlik, in eie reg, dierbare, goeie mense wat dinge net uit verskillende hoeke bekyk. Natuurlik is daar die goue oues, kort duskant honderd wat nog kiertsregop, plooiloos, pynloos en met ʼn huppel in die stap, lag vir elke dag maar hulle is ʼn ander storie werd.

Oor die eerste groep wil ek nie veel sê nie, want hulle praat vir hulleself. ʼn Mens kan nie anders as om hulle te bewonder nie, want hulle slaag daarin om oudword baie vernuftig te verdoesel en hulle mag maar. Hulle wil nie ge-oom en ge-tannie word nie en gee nie om om ge-jy en ge-jou te word nie en mag deur, wie ookal, op die voornaam aangespreek word. Oudword is net vir ou mense. Dis iets wat doer ver in die toekoms lê en anderdag se bekommernis is. Nou is dit tyd om te LEEF. Liewer sewentig-tagtig jaar jonk as dertig jaar oud is nogal waar en navolgingswaardig!

Die tweede groep is ʼn interessante klomp. Hulle gaan deur twee fases. Die eerste fase gaan gepaard met bekommernis en selfs vrese, want jy kom agter iets is met jou aan die gebeur en jy is oortuig daarvan dat jy die enigste een is met wie dit gebeur. Mens voel dit aan jou lyf en heelaas aan jou kop – sonder om van jou kop af te raak! Gelukkig kom daar ʼn dag wat jy, uiters verlig, agterkom dat jy nie die enigste een is nie. Groot vreugde breek uit as die ou spul met eerlike, innige meelewing vir mekaar kan begin lag. Lekkerlag is hoeka ʼn pyn-en-leedkuur, soos goeie wyn vir die pyn! En jy kan nog LEEF!

So skuins verby vyf-en-sestig en vir die tweede keer afgetredene, was ek in Engeland opsigter by ʼn skool. Daar daag toe ʼn in-jare-gevorderde afgetredene, wat nog nie wou gaan lê nie, om die gaskrane te inspekteer. Van die krane was versonke en toe hy moes af vloer toe, het ek geweet hoe voel dit. Toe hy klaar was, het ek half geamuseerd vir hom gesê dat dit toe nog vir die opstaanslag was. So uit sy lê uit seg hy toe: “It’s as easy as getting down. Let me show you!” Van die rug op die sy en rol dan tot op die maag. Stoot jou bolyf met die arms op en trek die knieë in en staan dan op. Presies soos ek dit leer doen het. “Getting old goes along with lots of fun!” was die aanloop tot ʼn lang gesprek waarin ons ons glye, valle en flaters met mekaar kon deel. Ons het baie gelag en raad uitgedeel en die ou Ingelsman het gegroet met: “You know, my friend, laughter is a cure for the weary old soul!” en ek het besef dat oudword ook ʼn leermeester is. Hy leer jou dat jy laggend jou swaarkry kan klaarkry.

Oudword is nie ʼn ding wat ʼn mens kan kies nie. Dis ʼn ding wat bietjie vir bietjie, stadig nadersluip en jou dan skielik bespring – so half onverhoeds betrap … Jy dink nog jy gaan hom ontwyk totdat jy jou dertig jaar na matriekreȕnie bywoon. Jy sien die manne wie se borskaste hangkaste en bultende spiere papsakke geword het. ʼn Man met ʼn bleskop en ʼn wit weglêsnor kom op jou afgepeil. Jy herken hom nie dadelik nie. Dis eers as hy jou artritishand met sy hand vergruis dat jy onthou dat hy jou eerste kys se broer is. “My magtag, is jy ook hier! Man, jy lyk nog goed! Na al die jare! Kan jy nou meer!” bulder hy verder. Amper net so opgewonde sê jy dan vir hom hoe goed hy lyk. Later verneem jy wie die tannetjie met die grys kop is en dan hoor jy dat sy die juffrou is wat destyds al wat ʼn seun was, drome laat droom het. Daar word gepraat en onthou tot laatnag en dis eers as jy jouself in die badkamer in die spieël bekyk en jy loer dan oor jou middelrif en jy sien jou weggekwynde kuite wat jou bene krom laat lyk, dat jy wonder of die klomp regtig nog so goed lyk.

As die jare met jou aanstap, ontdek jy baie oor jouself en jou eweknieë om jou. As dit net ʼn selfontdekking was, sou dit jou dalk in ʼn diep depressie ingedompel het, maar nou kan ons vir en met mekaar lag of die swernoot inraak. Ek skryf verder sommer so uit eie huis uit terwyl ek om my fyn waarneem en luister. Ek skryf oor lief en lag en die leed en traan los ek vir iemand anders wat daarvoor kans sien.

Dis ʼn ding wat ʼn mens aan jou lyf en in jou kop voel. Dis pyne op plekke waarvan jy nie eens geweet het nie. Die goed kom en gaan en vir die meeste is daar nie pille nie. Al die kapsules, poeiers en salwe help net vir liggelowiges wat hulle swaarverdiende geldjies aan die vervaardigers afstaan wat dan al die pad bank toe lag. Die res van ons moet net moedhou, kophou en uithou en nooit ophou om saam te lag nie, want die lewe is te kosbaar om dit met kerm en kla korter te maak.

Die duidelik sigbare realiteite lê hoofaaklik op die volgende vlakke: Liggaamskrag en vermoëns wat afneem. Die onthou wat al korter word, die oë en ore wat begin lol en dan die ontkenning daarvan, wat al groter word en later steek ʼn parmantigheid, koppigheid en moedswilligheid kop uit. Dit kan ʼn stryd raak, maar die lekker troos lê daarin dat die stryd nie alleen gevoer word nie. Ons veg en lag almal saam teen die ouerwordwind wat van voor af teen ons aanwaai.

Daar was dae toe ʼn mens ligvoets en vreesloos kon spring en klouter. Nou word doer, ver omgeloop omdat jy nie vir die springslag kans sien nie. Die kleinste ou riffie word ʼn struikelblok en jy kry nie die agtervoet betyds vorentoe om die val te stuit, om nie eens van voorkom, te praat nie. Ek hardloop om die haan hok toe te jaag en dan sê my liefste kleinkind met ʼn pruilmondjie:”Oupa moet weer hardloop want dis vir ons baie snaaks!” Klim op ʼn trapleer om ʼn gloeilamp te vervang en sodra jy opkyk, begin die hele kamer te draai. Waar ʼn mens voorheen ligvoets op ʼn ding gespring het, moet jy nou vashouplek kry en jouself moeisaam optrek. Probeer nou na baie jare se lewenslekkerte wat om jou middelrif versamel het, om jou skoene vas te maak of jou toonnaels te knip. Jy begin wonder wat van oorle ouma se borstrok met die stewige hoepeltjies, wat die middellyf in toom gehou het, geword het.

Gryp ʼn dwarstak vas en kyk of jy jou eie gewig kan optrek … Gaan koop ʼn sak sement en probeer om dit by die huis uit die bagasieruim te lig. Skielik word 50kg naby ʼn ton! En kan ʼn bottel ingelegte vrugte se deksel regtig so onlosdraaibaar wees? Kan dit wees dat die staal werksbank wat voorheen man-alleen geskuif kon word, nou onroerbaar is? Dink aan die gehyg en gestoei as jy langs die pad ʼn papwiel kry en jy onthou hoe maklik dit twintig jaar, nee tien jaar, terug was om die wiel om te ruil.

Hoe vertel ons nie oor en oor dieselfde ding vir mekaar nie. Die ou Beteronthouertjie sê: “My man, jy het dit al vir Oosie vertel!” Ek sê: “Toemaar, vertel weer, ek het al vergeet.” My ou Beste (en enigste) sê vir my ek moet ʼn brood koop en as ek die winkel deurgeloop het om te probeer onthou, koop ek vir haar uiteindelik ʼn dosyn eiers. Ag en dan die “Ek het vir jou gesê!” “Nee jy het nie!” “Man, jy’t daar gesit en ek het in jou oë gekyk en vir jou gesê!” “Wel, ek sê nou vir jou, ek weet niks daarvan nie!” Wie’t nou onthou en wie’t vergeet? Jy loop vir tien minute en soek na jou motorsleutel wat jy WEET jy aan die hakkie gehang het en dan is hy al die tyd in jou broeksak.

Doerie jare kon ʼn mens ʼn spikkel teen die blou lug herken as ʼn swewende voël en jy kon sê of dit ʼn witkruisarend of ʼn aasvoël was en nou’s dit verkykers, verkykbrille, leesbrille en selfs vergrootglase vir die fynskrif. Jy sien ʼn bosbokram teen die rant en as jy die verkyker gebruik om hom mooi te bekyk, sien jy dis ʼn renosterbos. Hulle vertel van die wewenaar wat vir die weduvrou op sy plaas wou wys hoe goed sy oë nog was. Hy sit toe vooraf sy knipmes in ʼn hooimied maar merk die plek met ʼn hoenderveer. Tydens ʼn wandeling sien hy toe kastig sy verlore mes doer ver in die hooimied. Oppad om die mes te gaan optel, val hy toe oor die kruiwa … En die weduvrou lag in haar mou.

“Pappa, onthou om jou ore in te sit anders hoor jy nie!” “Ja Mamma!” en dan praat hy so sag dat gʼn mens kan hoor nie, want vir hom klink dit of hy skree. Nog een: “Sê weer, ek kan nie hoor nie.” “Ek vra: Het jy die hoenders toegemaak?” Afgemete, stadig en woord vir woord. “Moenie stadig met my praat nie, ek is nie dom nie. Praat HARDER ek is DOOF!” So gaan dit aan. Baie kan oor selektiewe doofheid gesê word. “Jong ek ken jou! Maar jy maak of jy nie hoor nie! Jy wil nie hoor nie!”

ʼn Kombinasie van hoor- en sienprobleme, sorg ook vir lagspieroefening. Die twee tantes, al diep in die taggentags, besluit toe om vir ʼn bietjie opwinding deur die sitkamer te kaalnael. Twee ooms het die spektakel waargeneem en een het iets te sê gehad. Die ander ou reageer toe. “Hoe sê?” “Ek vra: Watvoor drawwe die twee vrouens hier by ons verby? Hê jy ok gesien?” “Ja, lyk my na ou Hetta en Susaar. Seker maar skaam omdat hulle rokke nog nie gestryk is nie.” “Mintag, maar jy kyk nog skerp!”

Ai tog, dis die skouers en die hande en die voete. Die tone en die vingers. Die knieë, die heupe, die nek en die ou rug. Dis atritis en rumatiek en jig. Jy WIL en dan kom jy agter dis nie meer so maklik nie. En die een sê droewig “Wat help dit om te kla? Niemand sal tog luister nie” en die ander een sê laggend dat daar darem gelukkig nie nuwe pyne is nie en dat die ou pyne maar gevat word soos hulle kom en gaan. Dis verstommend om te sien dat die goue oues wat die meeste pyn verduur en rede het om te kla, dit die minste doen. Hulle straal ʼn innerlike blymoedigheid uit wat maak dat hulle gees nooit geblus sal word nie.

Toe ek vyftig was en my pa sewentig, was ek jonk en hy stokoud. So het ek gedink. Nou die dag luister ek hoe my seun, Peet, omtrent al sy kinders se name afrits voordat hy by die regte een kom om ʼn opdrag te gee. Ek het geamuseerd geluister en hy het die praatwerk gedoen: “Nee, magtie! Ek is nog nie eens vyftig nie en ek is al nes pa!” Ja, ek is so, oorle ma was so en nou is hy ook so. Later die aand vat-vat hy so aan sy skouer en kla dat sy skouer begin lol. “Ja,” seg ek vir hom, “my skouer het ook vyf-en-twintig jaar terug begin lol. Jou beurt kom en jy sal sien daar’s vir party goed pille en vir die ander nie.”

Ek is ook nes oorle pa. Ek het dit nou die dag weer gesien toe ek my spieëlbeeld in die winkelvenster gesien het. Ek dag eers dis my pa en toe besef ek dis ek: Vooroor gebuig en die arms bak en so asof my voete bietjie stadig is om by die bolyf by te bly. En toe onthou ek hoe onthuts hy was toe ons hom vermaan het om te KYK voordat die straat oorsteek: “Man, almal ken my mos. Hulle weet ek is doof en stadig en hulle sal my kans gee om oor te steek!” Dalk was hy reg, want hy is nooit raakgery nie. Ek sal maar eers kyk want vandag is daar jaagduiwels in hulle 4X4s en taxi’s!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Johann Marx ·

Toe ek 22 was het ek elke kroeg en klub in my woonbuurt geken, geweet wat hulle pryse en “happy hours” was, en selfs die “bar-girl” se telefoonnommer en “bra-size” onthou…..Nou, 32 jaar later, weet ek waar’s elke Dischem, en ken ek hulle “specials” uit my kop uit. Toe kon ek eet en drink wat ek wou….nou moet ek van daai pap eet wat, as dit die dag op is, jy net sowel die skêr kan vat en die boks opsny en (afgeroomde) melk oor gooi….dit smaak net dieselfde. Net gister gesit en tel……12 vriende aan die dood afgestaan oor die laaste 48 maande….maar ek is nog hier….en dis al wat tel.

Uvonka ·

Oulik gese Johann, ek het lekker gelag. Oud word is nie vir sissies nie, 53 and counting………..!

Blom ·

Baie dankie, ek het dit vreeslik geniet en dit klink alles sooo bekend. Goed gestel.

Frans C ·

Gelees by haarkapper ‘Old age is a matter of mind over matter.If you don’t mind it does not matter.” Dink sou daar aan. ‘n Jaar is maar net ‘n reis om die son en ‘n dag en nag ‘n omwenteling van die aarde om sy as. Op aarde neem dit 24 uur.Op Mercury is ‘n dag 1408 uur , of amper 59 aarddae en op Venus 5832 uur, of 243 aarddae.

Geen wonder die mens wil Mars toe gaan want ‘n dag is daar 25 uur. Mars neem ongelukkig 687 aardae om een omwenteling om die son te voltooi. Dus een jaar en 320 aarddae en 18.2 ure. (1.8809 aardjare) As jy op aarde 70 jaar oud is is jy net 37.22 marsjare oud en dus eintlik figuurlik gesproke nog nat agter die ore.

Wat bewys dit nou eintlik.Die internet is ‘n lekker inligtingsbron en dat ouderdom relatief is afhangende waar jy jouself in ons heelal bevind en dat tyd eintlik nie bestaan nie, maar meer ‘n illusie is en dit maar ‘n manier is hoe ons goed waarneem, want die son kom nêrens op en gaan nêrens onder nie,al wil my brein my iets anders vertel.

Ja ‘n mens se oë kan jou bedrieg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.