Die pleisterwerk van die Voortrekkers se bootvormige hartbeeshuisies

hartbeeshuis-pleisterwerk-01

Figuur 1. ʼn Bootvormige hartbeeshuis waarvan die mure binne en buite gepleister
is. (Eksperimentele rekonstruksie in die Voortrekkeraanvangsnedersetting
van die Schoemansdal Museum, Louis Trichardt, Noord-Transvaal, 1989.) Foto: D. de Wit, 1989.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, bekyk in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou het en fokus in hierdie artikel van die reeks op die pleisterwerk van die soort huise.

Deel III: Pleisterwerk

Om die huis van trekke deur die gras of riet te vrywaar, is die mure aan die binnekant tot op ʼn hoogte van ongeveer 1 meter gepleister.[1] Die pleisterlaag moes dun wees om te verhoed dat dit nie as gevolg van die skuins dakmure afval nie. Die huis is soms binne én buite gepleister (Fig. 1 en 2). Volgens Schonken het die wande van die huis dan bestaan uit “… een staketsel, dat met bies of riet is opgevuld en van buiten zoowel als van binnen met leem is bestreken …”[2] Nathan het ʼn soortgelyke beskrywing van die gewelente van die hartbeeshuis gegee, naamlik: “… the openings between the poles being filled up with laths, which were plastered over with clay or worked in with reeds …”[3]

Drie of vier horisontale houtlatte is binne teen die kapsparre tot so hoog as wat die muurgedeelte moet wees, vasgemaak.[4] Riete, biesies of soortgelyke materiaal is buite regop in die voortjie teen die dwarslatte geplaas.[5] Horisontale riete of dun latjies is buite gebruik om die invulmateriaal vas te heg.[6] Die invulmateriaal word dus tussen die binneste dwarslatte en die buitenste horisontale riete of latjies vasgeklem. Die vasmaak of vaswerk geskied met dieselfde bindmateriaal as wat in die res van die konstruksie gebruik is.

Die samestelling van die pleister is deur dit wat in die direkte omgewing beskikbaar was, bepaal. Gevolglik het daar talle variasies voorgekom. Mengsels van klei en beesmis,[7] miershoopgrond en beesmis, asook sand en beesmis is gebruik.[8]

Die mengsel moes baie goed getrap (gebrei) word om dit taai te maak, sodat dit nie sou bars as dit droog word nie.[9] Vir die trappery is gewoonlik ses tot agt osse of esels ingespan, wat heen en weer, of al in die rondte oor die klei geloop het.[10] Die mengsel is ook soms deur seuns met hulle kaalvoete getrap.[11] Na die trapproses is die mengsel gelaat om eers goed in te suur.[12] Ook wat laasgenoemde betref, het daar talle variasies voorgekom.

Die pleister is in verskillende lae aangebring, naamlik ʼn growwe onderlaag met een of meer bolae om ʼn egalige muuroppervlak te verkry.[13] Die growwe onderlaag is binne en buite hard met die hand aangegooi, sodat dit tussen die invulmateriaal kon indring.[14] Om te verhoed dat die klei afval, moes genoeg klei op ʼn keer aangegooi word.[15] Nadat die onderlaag aangebring is, moes dit eers gelaat word om droog te word voordat ʼn verdere laag met die hand aangesmeer kon word.[16]

Indien die gewel- en dakmure egalig dik was, is dit binne en buite met ʼn laag verdunde pleistermateriaal gesmeer. Baie barste het in die pleister ontstaan, maar is die volgende dag weer toegesmeer, totdat ʼn egalige oppervlak sonder krake verkry is. Die laaste buitenste lagie het uit ʼn mengsel van vars beesmis en nat klei met taamlik sand in, wat met ʼn stuk skaapvel met langerige wol aangesmeer is, bestaan.[17]

hartbeeshuis-pleisterwerk-02

Figuur 2. ʼn Hartbeeshuis van binne gesien. Let op die gepleisterde
muur (links) en die gordyn (agter) wat die huis in twee vertrekke
verdeel. (Erich Mayer, Bosveldwoning, Voortrekkerstyl,
noord-oos van Brits, tekening, 1927). Uit: Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 312.

Bronne:

[1] P.W. Grobbelaar (red.), Die Vrystaat en sy mense, p. 28; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa, pp. 53 & 112; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), p. 69; Trigardt, Die dagboek van … (red. T.H. le Roux) (Pretoria, 1982), p. 23; K. Schoeman, Uit die versameling van die S.A. Biblioteek: ‘henerringen’ van G.H. Warden, Kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Biblioteek 45(2), Desember 1990, p. 68.

[2] F.T. Schonken, De oorsprong der Kaapsch-Hollandsche volksoverlevering, p. 84; B.J. Barnard, ʼn Lewensbeskrywing van majoor Henry Douglas Warden, Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis, 11(1), 1948, p. 351; G.H. Warden, Die herinneringe van … (red. D.A. van der Bank), Navorsinge van die Nasionale Museum Bloemfontein 5(6), Oktober 1985, p. 83.

[3] M. Nathan, Paul Kruger, p. 101.

[4] Skriftelike mededeling: M.C. Botha, Posbus 65, Pienaarsrivier, 1991-08-16; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17.

[5] M. Nathan, Paul Kruger (Durban, 1942), p. 101; F.T. Schonken, De oorsprong der Kaapsch-Hollandsche volksoverlevering (Amsterdam, 1914), p. 84.

[6] Mondelinge mededeling: J.J. Viljoen, Diepkloof Plaasmuseum, Heidelberg, Transvaal, 1990-08-16; J. Walton, Cape cottages (Cape Town, 1995),  p. 30.

[7] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 30; J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa (London, 1844), p. 419; P.W. Grobbelaar (red.), Die Vrystaat en sy mense (Kaapstad, 1980), p. 29; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16;

Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; B.T. Spoelstra, Ons

Volkslewe …, p. 69; Mondelinge mededeling: J.J. Viljoen, Diepkloof Plaasmuseum, Heidelberg, Transvaal, 1990-08-16.

[8] Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa (Cape Town, 1966), pp. 53 & 112; Mondelinge mededeling: M.C. Smit, Bosmanhuis 216, Jasmynlaan, Silverton, 1867-11-23; G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekkertydperk II (Bloemfontein, 1940), pp. 180-181.

[9] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900. DPhil-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1988, pp. 148 & 150-151.

[10] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900, p. 151; Skriftelike mededeling: J.J. Swart, Pk. Glenside, 1991-07-24.

[11] J. de Coning, Die grasdakhuise van ou Kapaailand, Tydskrif vir Volkskunde en volkstaal 26(6), April 1970, p. 16; Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16.

[12] Skriftelike mededeling: J.J. Swart, Pk. Glenside, 1991-07-24.

[13] Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16; Mondelinge mededeling: M.C. Smit, Bosmanhuis 216, Jasmynlaan, Silverton, 1867-11-23; J.J. Voskuil, Van vlechtwerk tot baksteen: geschiedenis van de wanden van het boerenhuis in Nederland (Arnhem, 1979), p. 71.

[14] Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16; Mondelinge mededeling: M.C. Smit, Bosmanhuis 216, Jasmynlaan, Silverton, 1867-11-23; Voskuil, Van vlechtwerk tot baksteen …, p. 15.

[15] Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16.

[16] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 140.

[17] Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Sarie ·

Baie interessant. Ek het destyds Afrikaanse Kultuurgeskiedenis aan US studeer en hierdie boukunde van die vroeere pioniers het my veral geinteresseer.

Die mense was vindingryk en op hulle self aangewese.

Vloere van miershoop grond was veral baie duur saam. Die grond was mos reeds deur die miertjies deeglik gebrei en kon net so gebruik word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.