Die regte dosis oefening vir ‘n langer lewe

oefeninge

Oefening is beslis goed vir jou en kan selfs jou lewe verleng. Foto: Pixabay.com

Carlien van der Merwe

Ons weet lankal dat oefening verskeie gesondheidsvoordele inhou. Anders as medikasie, kom oefening nie saam met ‘n voubiljet wat die presiese dosis aandui nie. Die algemene aanbeveling vir oefening is tans 150 minute matige oefening of 75 minute intensiewe oefening per week. Alhoewel enige oefening beter is as geen oefening nie, wonder mens tog hoeveel oefening ʼn mens nodig het vir ‘n langer en gesonder lewe.

Twee grootskaalse studies wat onlangs in die JAMA Internal Medicine Journal gepubliseer is, werp meer lig op die onderwerp. In die een studie is die data van ses opnames wat meer as 660, 000 mense van die Nasionale Kanker Instituut in Amerika ingesluit het, ontleed. Die studie het mense wat geen oefening doen nie vergelyk met mense wat minder as die aanbevole 150 minute per week oefen asook diegene wat meer as die aanbevole hoeveelheid oefening doen. Die studie het gevind dat mense wat minder as die aanbevole hoeveelheid oefening doen, ‘n 20% laer  risiko gehad het om vroeër te sterf as onaktiewe mense en dié wat een tot twee keer die aanbevole hoeveelheid oefening doen se risiko 31% laer was. Mense wat twee tot drie keer die aanbevole hoeveelheid oefening gedoen het, het ‘n 37% laer risiko vir vroeë sterfte gehad en dié wat drie tot vyf keer die aanbevole oefening gedoen het, se risiko was 39%  laer. Hoe meer die mense dus geoefen het, hoe laer was hul kans om vroeg te sterf.

Die tweede studie wat in Australië gedoen is het meer as 200, 000 volwassenes ingesluit. Mense wat slegs matige oefening (rustige swem, huishoudelike takies en stap) gedoen het, is vergelyk met dié wat soms meer intensiewe oefening (draf, kompeterende tennis en aërobiese oefeninge) doen. Die studie het getoon dat mense wat ten minste 30% intensiewe oefening gedoen het, se risiko om vroeër te sterf het met 9 % verminder teenoor dié wat aan geen intensiewe oefeninge deelneem nie. Die risiko om te sterf was ook 13% laer vir diegene wat meer as 30% intensief geoefen het. Dr Klause Gebel, ‘n senior navorser aan die James Cook Universiteit, wat betrokke was by die studie, het gerapporteer dat die studie bevind het dat selfs ‘n klein hoeveelheid intensiewe oefening die risiko vir ‘n vroeë dood kan verlaag. Hy beveel verder aan dat enigiemand wat liggaamlik in staat is om oefening te doen, moet probeer om vir 150 minute per week te oefen, waarvan 20-30 minute intensiewe oefeninge moet wees.

Beide studies wys dus duidelik selfs ‘n klein hoeveelheid oefening kan die risiko van ‘n vroeë sterfte verlaag. Deur intensiewe oefening daarby in te sluit, verlaag die risiko nog meer.

Die goue reël bly dus steeds dat enige oefening beter is as geen oefening. Haal daardie vergete tekkies uit die kas, raak aktief en leef ‘n gesonde lewe vir langer!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.