Die saaldak van die Voortrekkers se wigvormige hartbeeshuise

Saaldak-hartbeeshuis-01

Figuur 1. ʼn Voorstelling van die kapstylhuis van Jan van Riebeeck en sy gesin.
Tekening: H. Raath.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, beskryf in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers die saaldak van ‘n wigvormige hartbeeshuis gebou het.

Deel II: Vorm 3: Die saaldak

Die eerste tydelike woning wat aan die Kaap opgerig is, was die saaldakvormige kapstylhuis van Jan van Riebeeck en sy eggenote, Maria, asook hulle seuntjie, Lambertus, en twee niggies oor wie hy voog was, naamlik Lijsbeth (Elizabeth) en Bastiaantje (Sebastiana) (Fig. 1). Hulle het vanaf 24 April in die kapstylhuis gewoon, en ná voltooiing van die woonhuise in die fort het hulle op 3 Augustus daarheen verwys.[1] Dakhuise het in daardie stadium egter nog nie as hartbeeshuise bekend gestaan nie.

J.D. Kestell skryf in Christiaan de Wet: ʼn lewensbeskrywing (1920):

Op Kalkfontein [in die distrik Bloemfontein] het Jacobus de Wet ʼn hartbeeshuis gebou [ca. 1860]. …wat uit niks anders bestaan het nie as ʼn spits dak, wat op die grond gerus het. Daar was geen mure nie. Seer tenger was die huisie saamgestel met latte en gedek met tamboekiegras.

Kestell noem ook dat daar ʼn rietdeurtjie in die gewel was.[2]

In Groenland naby Kranskop in Natal, het die Voortrekkers kapstylhuise opgerig waarin hulle jare lank gewoon het en waarvan sommiges tot ongeveer 1875 nog as wonings gedien het[3],[4] (Fig. 2).

Die kapstylhuise van Groenland is volgens die onopgedrewe metode gedek.[5] Vir dekgoed is gebruik gemaak van dekgras, riete of “ruigte”. Ruigte se stingels is sonder litte en hierdie behaarde gras groei in die vleie tot ongeveer 1,1 tot 1,3 meter (3½ tot 4 voet) hoog. Die dekmateriaal is aan die dwarslatte met dun riempies of sterk bastoue van inheemse boomsoorte vasgewerk.[6]

Wanneer die dekwerk voltooi is, is ʼn mengsel van sand en beesmis bo-oor die dakvors gesmeer om reënwater uit te hou. Later toe koolteer in die handel beskikbaar was, is dit oor die sand- en beesmismengsel op die dakvors gesmeer om dit waterdig te maak.[7]

Vervolgens is aan albei kante binne oor die hele lengte van die huis ʼn ongeveer 0,9 meter (3 voet) hoë muur tot teen die kappe gebou. Om die mure netjies af te rond, is dit met ʼn mengsel van sand en beesmis gepleister.[8] Die doel van die mure was om die inwoners van lugtrekke en reënwater te vrywaar, terwyl die muurkop ook as bergplek vir kleiner voorwerpe gedien het.[9] Walton beweer dat die muurtjies die voorganger van die lae symure van die ontwikkelde kapstylhuis was.[10]

Die kapstylhuise in Groenland se vloere het uit miershoopklei bestaan. Dit is aanvanklik met beesmis gesmeer, terwyl dit in later jare met lynsaadolie of osbloed gesmeer is.[11]

Die huise is gewoonlik met gordyne in drie vertrekke afgeskort[12] – ʼn voorhuis of woonkamer en twee slaapkamers.

Daar word nie spesifiek genoem hoe die sluitgewels bedek was nie, maar in ander gevalle was dit soos die dak trapsgewys bedek óf kon uit dieselfde materiaal soos die lae binnemure bestaan het. Enige geskikte materiaal uit die onmiddellike omgewing kon vir dié doel aangewend word. So het B.E. Biermann (voor 1945) ʼn saaldakvormige kapstylhuis in die distrik Riversdal, Suid-Kaap, gedokumenteer waarvan die voorgewel en projekterende vuurherd uit afgewitte gemesselde klip bestaan het,[13] aangesien klip in die betrokke omgewing vrylik beskikbaar is (Fig. 3).

Bronne:

[1] J.J. Raath, Oorsprong en manifestasie van die Suid-Afrikaanse hartbees- of dakhuis: ʼn kultuurhistoriese studie. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria, 2001, pp. 196, 198, 201-202.

[2] J.D. Kestell, Christiaan de Wet: ʼn lewensbeskrywing (Kaapstad, 1920), pp. 3-4.

[3] Die afmetings en dakkonstruksie is reeds bespreek in “Hoe het die Voortrekkers ʼn wigvormige hartbeeshuis gebou? Deel I: Die raamwerk van die kapstylhuis”.

[4] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II (Bloemfontein, 1940), p. 178.

[5] Die onopgedrewe dekproses is reeds bespreek by “Hoe het die Voortrekkers ʼn bootvormige hartbeeshuis gebou? Deel II: Dakbedekking”.

[6] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, pp. 179-180.

[7] .H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, p. 180.

[8] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, pp. 180-181.

[9] Nasionale Kultuurhistoriese Museum, Pretoria: HG 7014 312 skets: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noordoos van Brits (hardbieshuis), E. Mayer, 1927; G.S. Preller, Voortrekkermense I, p. 237.

[10] J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 9.

[11] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, p. 181; J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 9.

[12] G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekker-tydperk II, p. 180.

[13] D.J. Potgieter (chief ed.), Standard encyclopaedia of Southern Africa XI, p. 213.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae