Die seemanne van Suiderstrand

sas-president-kruger

Die SAS President Kruger. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Suiderstrand se enigste teerpad – en hy is slegs gedeeltelik geteer – dra die veelseggende naam Seemansweg. Die meeste mense weet nie waar Suiderstrand is nie. As jy verby Afrika se suidelikste vuurtoring op die grondpad sou aanry, beland jy in hierdie dorpie.

Hierdie gehuggie het op ’n goeie dag nie meer as 50 voltydse siele nie. Wat egter merkwaardig is, is die feit dat minstens vier Suiderstranders ’n direkte verband met die Suid-Afrikaanse Vloot het, en dat drie direk gekoppel is met die gesonke fregat, die SAS President Kruger. Op die koop toe bevind Jurg Wessels, op sy dag ook ’n bemanningslid van dié fregat, hom in die buurdorp, vyf kilometer verder, in L’Agulhas, Afrika se suidelikste dorp. Maar nog is het einde niet…  ’n ander oorlewende van die Kruger-ramp, Francis Pratt[1], boer in die distrik.

Op Suiderstand self is daar nie minder nie as twee vlootkapteins.

Kaptein Klaas Steyn is ’n geskutkaptein en steeds ’n permanente lid van die vloot. Keith Woolf het sy vier strepe verdien en is ʼn afgetrede ingenieurskaptein. Hy was betrokke by die Kruger-ramp, maar daarby kom ek later. Erich Lissner is ’n oorlewende van dié katastrofe, toe die trots van die vloot gesink het ná ’n botsing met die SAS Tafelberg. En ek het in 1972 ses maande op die einste vlagskip van ons seemag deurgebring.

Ons is almal deurtrapte Suiderstranders.

Die dag van 18 Februarie 1982 staan in die annale aangeteken as die dag waarop die grootste (vredestydse) militêre skeepsramp in ons geskiedenis Suid-Afrika geskud het. Dit was so bestem dat ek my juis daardie dag, tien jaar nadat hulle my uit Windhoek Simonstad toe gestuur het om volk en vaderland te gaan dien, in Walvisbaai bevind het – besig met ’n vlootopleidingskamp. Sestien opvarendes van die vlagskip van ons vloot sou egter nie daardie dag die son sien opkom nie…

Die SAS President Kruger was besig met oefeninge sowat 85 seemyl[2] van Kaappunt. Bevare seeman Erich Lissner, ’n radaroperateur, het vinnig ’n koppie koffie in die junior manskappe se bak[3] oorkant die skeepskombuis afgesluk voordat hy met sy kwartiermeestersdiens sou begin. Dit was skuins voor vieruur die oggend.

“Die volgende oomblik was daar ’n geweldige slag. Dit was soos ’n miljoen ton staaldeure wat met geweld toeklap.” Die aankondiging het feitlik onmiddellik daarna gevolg: “ Alle manskappe na die reddingstasies!”

Die SAS Tafelberg, die vloot se aanvullingskip, het die Kruger-fregat se romp aan die bakboordkant gedurende die oefening suidwes van Kaappunt getref – byna lynreg met die bootmanne se bak, Bak 12.

Tonne water stroom die skip binne. Lissner gryp sy reddingsbaadjie en hardloop na sy versamelpunt op die voorkasteel[4]. Die skip begin reeds gevaarlik oorhel. Teen ongeveer 04:30 is die situasie só kritiek dat kaptein Wim de Lange besef dat sy skip gedoem is. Hy gee die bevel wat geen gesagvoerder ooit wil gee nie: “Verlaat die skip!”

In die stikdonker en ’n 40 knope-wind berei ’n desperate groepie matrose hulself voor om in die ysige see te spring – die meeste van hulle slegs in hul onderklere, ander in lakens.

“Maar dit was nie vir my nodig om te spring nie”, vertel Erich. “’n Reusegolf het my van die skip afgeslaan. Ek kon darem hier en daar ’n liggie op die see sien.” Dit was die noodliggies van die reddingsbaadjies van ander wat reeds gespring het.

“Daar was ’n geweldige deining en die see het vreesaanjaende suiggeluide gemaak soos die golwe die gat in die sinkende skip gevul het. Ek het onmiddellik begin wegswem van die skip af om nie deur die sleurstroom ondergetrek te word nie.”

Lissner onthou dat hy sowat 10 minute in die water was voordat hy deur ’n reddingsboot opgepik is. Eenhonderd ses en sewentig ander bemanningslede is ook van ’n gewisse waterdood gered. Volgens amptelike verslae het die Kruger om 04:35 gesink. Lissner en die ander oorlewendes was sowat twee uur in die reddingsboot.

“Toe die son opkom, sien die bemanning van die SAS President Pretorius ons en neem ons aan boord. Ons het met behulp van nette wat van die skip gehang het, aan boord geklouter. Hulle het ons onmiddellik ’n dop vir die skok en koue ingejaag. Dit het gehelp!”

Keith Woolf vorm die vierde skakel in die Suiderstrand-vlootketting en vertel van die sinkende SAS Paul Kruger uit ʼn gans ander hoek.

Op Woensdag 18 Februarie 1982 bevind Woolf hom op die SAS Emily Hobhouse, ’n Daphne-klas-duikboot[5] van Franse oorsprong. Die SAS Tafelberg – die “teiken” – word begelei deur die fregatte President Kruger en President Pretorius[6].

Hulle maneuver suidwes van Kaappunt. Die Emily se rol in die oefening is om die Tafelberg te probeer “kelder”. Die fregatte moet weer die Tafelberg probeer beskerm. En aan boord van die duikboot is die jong Keith Woolf, ’n ingenieursoffisier met die rang van luitenant-kommandeur, besig met ingewikkelde berekeninge wat gebruik word in die “aanval” op die Tafelberg.

“Ons het teen ongeveer vieruur die oggend van 18 Februarie die nuus gekry dat die Tafelberg die Kruger gestamp het. Toe die Kruger van die radarskerm verdwyn, het ons geweet dis verby. Ons was verpletter.”

Jare later loop Woolf sy kinderspeelmaat van Robbeneiland, Chris Roodt, wat op die SAS President Kruger was toe hy gesink het, raak.

“Chris wys my sy rug. Dié is oortrek met littekens en merke. Wat gebeur het, is dat hy letterlik deur die gat in die deurboorde Kruger se kant uitgesuig is! Dit het sy lewe gered.”

Die Emily Hobhouse se gesagvoerder op daardie noodlottige dag was ook ’n Steyn, kaptein Braam Steyn, maar volgens Klaas Steyn geen familie van hom nie.

Ja, dit was die dae. En vandag lê “my skip” op die bodem van die see.

Ek dra hierdie artikel op aan die seemanne van die Paul Kruger wat hul lewens verloor het toe ons geliefde skip gesink het.

  • Pierre Massyn, oudjoernalis en bemanningslid van die SAS President Kruger.

 Voetnota’s: 

[1]Francis Pratt was ten tyde van die Kruger-ongeluk ’n enjinkamerwerktuigkundige. Hy het ternouernood aan die dood ontkom deur uit ’n oop luik van die sinkende skip te ontsnap.

[2] Ongeveer 157 kilometer.

[3] ’n slaapkwartier of menasie.

[4] lang struktuur aan die voorkant van die skip

[5] Die ander Daphne-duikbote was die SAS Johanna van der Merwe en die SAS Maria van Riebeeck. Die SAS Emily Hobhouse was, onder meer, gebruik vir verkenningsvaarte aan die Angolese kus om die weg te baan vir kaptein Wynand du Toit en sy medesoldate om Operasie Argon in Angola uit te voer. Die voorval het ’n internasionale opskudding veroorsaak. ʼn Gewonde Du Toit was sowat twee jaar lank in gevangenisskap gehou terwyl van sy makkers met hul lewens moes boet. Du Toit het my vertel dat dit die Johanna was wat hom en sy makkers aan wal gesit het toe die operasie skeefgeloop het. Nog vóór Operasie Argon, het Du Toit en Woolf mekaar in die binnekant van ’n duikboot goed leer ken.

[6]Behalwe vir die Kruger en die Pretorius, het Suid-Afrika op daardie tydstip oor ʼn derde Presidentsklas-fregat beskik: die SAS President Steyn

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eddie ·

Wat n interesante brokkie nuus. Ek gaan definitief die dorpie besoek as ek weer in die Kaap is.

Charles ·

Dit is wonderlik om die verhale in Afrikaans te kry! Ek was in die Vloot vir twee jaar as deel van die Vloot Gimnasium program- en het as elekronieseoorlogvoering operateur gekwalifiseer.
Ek sal my tyd in die Vloot NOOIT vergeet nie en dit sal my ALTYD bybly, nie dat ek dink dat ‘n tyd in die SA Vloot vir opleiding of die SA Vloot as loopbaan self, na dese gewens is nie.
Sedert 2006 het die vloot met rasseskrede agteruitgegaan, soos wat ongemotiveerde, onbekwame en onbelangstellende persone die ratings en offisiersposisies begin vul het (en soos wat toegewyde, ervare en bekwame manne die Vloot begin vaarwel roep het) ter bevrediging van die verfoeilike “doel” van proporsionele verteenwoordiging volgens ras, synde die “pet project” van die rasbehepte ANC.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.