Die Span se veersagte landing in die Namib

massyn-namib-vlieg-louis-massyn-2018-11-30

Louis Massyn, wie se vlieg- en navigasievermoëns legendaries was. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Ons móés land. Daar was faktore wat krities teen ons ingewerk het. Die brandstofnaald het gevaarlik laag gedaal. Maar die deurslaggewende faktor was die skemerte wat reeds plek-plek die wrede skeurvalleie van die Rooirante met donker skaduwees begin toeverf het: tekens van die naderende nag wat spoedig oor die genadelose Namib sou toesak…

Nuus is ’n snaakse ding. Soms sleur hy alles wat in sy pad staan, onkeerbaar mee. Maar soms is die vloei van inligting ook soos laagwater. Vir die groepie joernaliste in die TV-nuuskantoor daardie dag in Julie van 1979 was dit so ’n oomblik. Dan kon ons vir ’n wyle van die interpretasie en weergee van feite en die geweldige druk vergeet en skerts en gekskeer voor ons ons nuusbulletins vir Suid-Afrika verder veredel – berigte wat Riaan Cruywagen, Nic (Swannas) Swanepoel, Cor Nortje en Clarence Keyter vir “die volk” lees. (1)

“Manne”, sê ek vir Die Span (ons het onsself “Die Span” genoem) “my oom het ’n plaas in Suidwes. En wat meer is, hy het sy eie vliegtuig.”

Ek het my kollegas se aandag onmiddellik gehad. As ek reg onthou, het redakteur Fanus Venter die looporde waarmee hy besig was, net daar op sy mankoliekerige grys voorkeurtikmasjien laat val.

“Ek sal kyk wat ek kan reël,” onderneem ek.

Ons was uiteindelik drie TV-nuusmanne wat op 5 Augustus in twee vliegtuie van die Tempe-lughawe in Bloemfontein oopgestyg het: Piet van Niekerk, Fanus Venter en ek. My oom Louis vlieg ’n Beechcraft Bonanza A36 en Attie Shepherd ’n Piper Cherokee 235/50 wat ook aan my oom behoort. Ons bestemming: De Beer se Puts in die distrik Bethanie. Suidwes, my geboorteland, was nog wild en ongetem. Louis Massyn se plaas lê in die verste uithoek van die Rooirante wat aan die rooi sandveld van die Namibwoestyn grens naby die plase Jakkalskuppe en Kuibis.

Die Cherokee is nie so gesofistikeerd soos die Beechcraft nie en ek en oom Louis en die sesde lid van die ekspedisie, ’n prokureur met die naam van Willie Herbst, vlieg voor om die weg te baan. Attie en Piet en Fanus volg in ons lugspoor.

Ons is opgewonde oor die avontuur. Maar my gedagtes sweef nog by die onlangse nuusgebeure wat ons moes dek – elke nou en dan was daar ’n storie oor ʼn McDonnell Douglas se enjin wat weens metaaluitputting eenvoudig losgeskeur het, wat tot ’n katastrofale vliegramp gelei het. Met jeugdige voortvarendheid kry ek Attie se Piper op die radio en verneem onskuldig: “Fanus, dink jy ons vliegmasjiene is veiliger as ’n DC-10?”

Ons vlieg oor Lohatla. Ons hoort nie daar nie. Lohatla is militêre gebied en burgerlike lugverkeer is streng verbode daar. Ons hou die Cherokee heeltyd op drieuur so skuins onder ons in die oog.

My oom kon lekker onnutsig wees as hy wou en het Willie vooraf mooi touwys gemaak en dié trek toe los in ’n streng lugmagaksent met “PAN-PAN! PAN-PAN! Waarskuwing! Waarskuwing! Ongeïdentifiseerde burgerlike vliegtuig in militêre vliegsone! Jy word nie hier toegelaat nie! Identifiseer jouself onmiddellik en meld aan by Lohatla Vlugbeheer!”

Piet in die Cherokee herinner hom daaraan dat hulle beveel is om onmiddellik op Sishen te land, en, indien hulle in gebreke bly om hierdie opdrag uit te voer, sou die polisie hulle op Keetmanshoop in hegtenis neem! Nog nooit in die geskiedenis het ’n vlieënier so ’n volmaakte duikrol uitgevoer soos Attie Shepherd daardie dag nie. Hy het letterlik die lugruim geskeur om tog net nie deur een van ons Mirage-vegvliegtuie afgeskiet te word nie.

Vir minstens 15 minute lank was daar volslae stilte oor ons twee vliegtuie se radiogolflengtes… Uiteindelik laat Attie van hom hoor: “Waar is julle? Ek kan nie navigeer as ek so laag vlieg nie!” Die drie insittendes van die Beechcraft moes hul monde toedruk om nie hardop van die lag uit te bars nie.

Nou is ons al verby Keetmanshoop. Die son trek water. De Beer se Puts lê nog ver. Piet van Niekerk in die Cherokee onthou: “Al instrumentasie in die Cherokee wat gewerk het, was sy kompas en hoogtemeter, nie eens die brandstofaanwyser nie. Jou oom voor ons in ZS-BOK  C182 het vir ons per radio navigasierigtingaanwysings gegee.”

Dis nou al sterk skemer. Ons is nou oor die Rooirante. Ons moet nou baie naby aan De Beer se Puts wees. Saam met my oom soek ek en Willie in die swak lig na iets wat lyk soos ’n landingstrook. Daar’s hy! Maar hy is skaars 100 meter lank en tussen kliprandjies. Die vlieëniers sal moet kompenseer vir sterk dwarswinde.

Weer Piet van Niekerk: “Julle was so 100 meter voor ons, Pierre. Met die laaste minute van die sakkende son voor ons, moet ons julle die heel tyd in die oog hou, só nie verloor ons julle en weet nie waar om te land nie. Julle moet stadiger vlieg sodat ons kon byhou. En net voor julle sak om te land, kom jou oom se stem dringend oor die eter: ‘Ek voel nie reg vir land in hierdie dwarswind nie, Attie. Ek gaan nog sirkel’.” (2) Dis tóé dat Attie ingryp:

“Land nóú! Daar is nie genoeg lig vir nog ’n sirkelvlug nie!”

My oom Louis kón vlieg. Met ’n maneuver wat enige vluginstrukteur sy kop in ongeloof sou laat skud, plant hy daardie Beechcraft nommerpas op die klipperige landingstrook net toe die son sak.

In lugvaartterme is daar ’n uitdrukking wat “short finals” (baie vinnige landing) genoem word. Attie Shepherd het daardie beginsel heeltemal geïgnoreer weens elemente soos die verdwynende son, die sterk dwarswinde en ’n baie kort aanloopbaan.

Hy beheer daardie vliegtuig meesterlik en voer op die laaste sekonde ’n 90 °-hoekdraai uit. Dit verg die uiterste vernuf en volmaakte tydsberekening. Hy het daardie Cherokee sekondes ná die Beechcraft op daardie landingstrook tussen die klippe neergesit. Hoe, weet net hy.

Ja, hulle was formidabele vlieërs, die helde van daardie tyd. Louis Massyn se navigasievermoë was legendaries. Net hy sou weet hoe hy daardie lappie aarde so groot soos ’n posseël in die barre wildernis in uiterste swak sig kon vind en identifiseer. Laat ons nooit vergeet nie: dit was lank voor die GPS sy verskyning gemaak het. Attie is een van ’n sterwende spesie, ’n egte Boere-cowboy.

Die dag ná ons dramatiese landing in die Rooirante, ontbloot hy sy rug in die skroeiende Suidwes-son. “Haal tog vir my die goed uit my rug uit, man.” En daar sit “die goed” lewensgroot: die skrapnel van ’n skietwond in sy blad!

“Moenie speel nie, man, grawe net die lood uit!” Met ’n mespunt word die operasie uitgevoer en At Shepherd is weer pure perd.

massyn-namib-vlieg-piet-van-niekerk-2018-11-30

Piet van Niekerk, vriend en oud-kollega van die Pierre Massyn. Hulle was kollegas in die dae toe televisienuus in Suid-Afrikaans in sy kinderskoene was. Hierdie storie is opgedra Piet se broer Johan van Niekerk van Bloemfontein wat aan mtoriese neuronsiekte ly. “Staan sterk Ou Grote!” Foto: Verskaf.

Ons drie kollegas is terug na Henleystraat in Aucklandpark om ons werk voort te sit om die “volk” ingelig te hou. In latere jare sou hulle ons as die baanbrekers van televisienuus in Suid-Afrika bestempel. Louis Massyn het pionierswerk op die gebied van waterbehandeling in Suid-Afrika verrig. Ons het elkeen later ons eie paadjie deur die lewe uitgekap.

Maar waar ons ook al gewandel het, sou ek en Piet en Fanus en die res van die geselskap 5 Augustus 1979 en die epiese vlug na Suidwes en daardie riller van ’n landing in die Namib vir altyd onthou.

Voetnotas:

  1. Sien Maroela Media: FW de Klerk en die TV-debuut.
  2. Om in ʼn sirkelpatroon te vlieg totdat dit veilig is om te land.

Epiloog: Fanus Venter is in November 2015 oorlede. Piet van Niekerk kon ná 39 jaar weer met die skrywer van hierdie artikel in verbinding tree, danksy Maroela Media. Van Niekerk was vanaf 1985 tot met sy aftrede in 2000 in bevel van die Suid-Afrikaanse Weermag se Film, Video- en Fotografiese Eenheid. Attie Shepherd het lank Republic Machinery & Truck Sales in Hamilton naby die ou leerlooiery in Bloemfontein behartig. Hy woon nou in Johannesburg en is ’n regsadviseur.

  • Pierre Massyn, skrywer van hierdie artikel, het gaan swerf en in 1987 met net die klere aan sy lyf na Afrika teruggekeer. Hy hou nog steeds kontak met sy oom Louis Massyn, nou ’n afgetrede sakeman in sy 80’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Stephan de S ·

Dankie vir die kosbare storie in die mooiste beeldende Afrikaans……ek dink bv aan die derde sin vd artikel. Dit roep ou en goeie beelde op uit daardie tydvak van my lewe. Mag ons nog baie sulke skryfwerk sien.

Johan van Niekerk ·

Baie dankie Piet dat jy hierdie storie aan my opdra. Eerste keer dat ek daarvan hoor. Ook baie dankie aan Pierre Massyn. Soos Cliff Saunders soms aan Piet sê, ek hou nog kop bo grond.

Essa ·

Laat julle almal nog lank kop bo grond hou en lekker-lees stories vertel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.