Die taal van ons geloofsverhaal

Foto: Jasmin Ne/Unsplash

Deur Petronel Fourie

Geloof is geen geringe saak nie. Daarom het die Afrikaanse taal talle waardevolle woorde met diep wortels om die gravitas daarvan te kenne te gee. Daar is ook ʼn aantal terme wat al so deel van ons dialek is, dat ons skaars wonder waar dit vandaan kom. Wanneer mens tussen dié diamante delf, is jy verseker daarvan om ryker weg te stap.

“Geloof is nie glo sonder bewyse nie, maar vertroue sonder enige voorbehoud.” Só het die Amerikaanse teoloog en opvoedkundige Elton Trueblood gesê. Op dieselfde trant het die bekende teoloog van Noord-Afrika, Augustinus, die vraag gestel: “Wat is geloof tensy dit is om te glo wat jy nie sien nie?”

Volgens die HAT is geloof die vaste vertroue in ’n god, en die bepaalde vorm van jou godsdienstige oortuigings. Dit verwys ook na ʼn godsdienstige stelsel of kerkleer, soos die Protestantse geloof. Godsdiens word soortgelyk beskryf, enersyds as die verering van God of ʼn god; die totaliteit van die verhoudings wat die mens met ‘n wese verbind wat hy as die oorsprong en einddoel van alles en daarom ook as voorwerp van aanbidding beskou. Andersyds is dit ook die hele omvang van die plegtighede en leerstellinge wat die vorm van godsverering uitmaak, eie aan ‘n volk, kerkgenootskap of sekte.

Skuif jy die definisies en teorie vir ʼn wyle opsy, vind jy die allermooiste uitdrukkings in die volksmond, soos “ ‘n goeie geloof en ‘n kurksiel dryf altyd bo” – met ‘n optimistiese vertroue word alle swarighede oorwin. Tog word elkeen op eie geloof salig – elkeen glo dat sy eie besondere metodes sukses sal bewerkstellig.

Uit geloof en godsdiens is teologie gebore – die wetenskap oor God, of godgeleerdheid. Die woord se oorsprong is in die Latynse en Griekse theologia te vinde, wat “ondersoek oor die Godheid” beteken, en die primêre bron vir Christelike teologiese ondersoek bly steeds die Bybel.

Die woord “Bybel” is afgelei van die Siriese hawe Byblos (nou Dsjebel) waarvandaan die papirus ingevoer is om boeke te maak.

Volgens Wernher von Braun, ontwerper van die eerste maanvuurpyl, is ʼn goeie wetenskaplike wat nie erns maak met die Bybel en met die geestelike sy van die werklikheid nie, omtrent net so dom soos ʼn teoloog wat nie die prestasies en bevindinge van die moderne wetenskap ernstig opneem nie.

Al ooit van die Complutum gehoor? Dit is die uitgawe van die Bybel met die eerste gedrukte teks van die Griekse Nuwe Testament. Dié Bybel is in 1517 voltooi en word ook die Complutensiese poliglot of veeltalige Bybel genoem, omdat dit in Grieks, Hebreeus en Latyn gedruk is.

Die Bybel word ook die Evangelie genoem – die blye boodskap, die geskrewe verhaal omtrent Jesus Christus, opgeteken in die eerste vier boeke van die Nuwe Testament. Dié woord kom oorspronklik uit die Griekse euaggelion, wat “goeie boodskap” beteken. Matteus, Markus en Lukas word as sinoptiese evangelies beskryf omdat dit Jesus se lewe kort en oorsigtelik behandel.

Oor die eeue heen het gelowiges hulle by bepaalde geloofsleiers geskaar en so daardie leier se naam verewig. So is diegene wat lede van die vyftiende eeuse Christelike beweging van die Boheemse hervormer Johannes Hus gevorm het, Hussiete genoem. Hus het in die tradisie van die Engelse teoloog en hervormer John Wyclif gewerk, wat die eerste volledige vertaling van die Bybel in Engels aangevoer het.

Die Hugenote, daardie Protestantse vlugtelinge uit Frankryk ná die herroeping van die Edik van Nantes in 1685, se benaming het twee moontlike oorspronge. ʼn “”ugenoot” is óf na Besancon Hugues genoem, ʼn vroeëre godsdienstige leier en politikus van Genève, óf die vroeëre Franse koning Hugues Capet, wat deur die Protestante as ʼn edele mens beskou is wat ander se waardigheid en lewe gerespekteer het. ʼn Nederlandse bron wil dit hê dat die naam gegee is omdat die hervormers van Tours in Frankryk by die Porte du Roi Hugon vergader het.

Ongeveer 200 000 Hugenote het Frankryk verlaat en na Nederland, Duitsland, Pruise, Switserland, Skandinawië, Rusland en Kaap die Goeie Hoop gevlug. Na raming is 50 000 na Engeland en daarvan ongeveer 10 000 vort na Ierland.

Die kerk is wel die fisieke gebou waarheen Christene gaan om godsdienstige byeenkomste te hou, maar dis ook die figuurlike gemeenskap van gelowiges. Die woord kom van die Griekse kuriakon, wat “huis/kerk van die Here” beteken.

Die beroemde Duitse priester en Protestantse hervormer Martin Luther het ʼn aantal kerkliedere gekomponeer wat as Luther-gesange bekendstaan en vandag nog gesing word. Hy was die eerste persoon wat mense aangemoedig het om in die erediens te sing en het daarvan gehou dat die liedere melodieus en opgewek moet wees sodat “die duiwel nie al die beste deuntjies besit nie”.

Afrikaans het ʼn oorvloed uitdrukkings wat met die kerk te doen het. As iemand jou vra of jy in die kerk gebore is, moet jy ʼn deur agter jou toemaak. En as mense sê dat jy gereeld met die vierde gelui in die kerk kom, is jy waarskynlik altyd laat, want die derde gelui is die laaste.

As daar nie kerk met jou te hou is nie, is jy sowaar onhanteerbaar! Dan is jou kerk dalk uit, want dis klaarpraat met jou. ʼn Paartjie wat nog moet kerk, moet nog trou – hulle behoort dalk aan die kerk wat nog gebou moet word en is dus kerkloos. ʼn Mens wat ʼn geheim verklap, praat uit die kerk. En van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg, so agies moet op hul hoede wees! Dít is so seker soos amen in die kerk.

Kersfees, die geloofsfees wat sedert die tweede helfte van die vierde eeu op 25 Desember gehou word, is al in sig! Dié datum is gekies omdat dit na bewering nege maande ná die dag van die skepping van die wêreld is, of nege maande nadat die engel aan Maria die goeie tyding gebring het, aangeneem as 25 Maart.

In Afrikaans word Kersfees met ʼn hoofletter geskryf omdat die woord “Kerst” in Mid­delnederlands ontstaan het as ’n naam vir Christus: Hesus Kerst = Jesus Christus. Ons gebruik die woord “Kersfees” dus as ʼn eienaam, gelyk aan Christusfees.

Kersvader kom hand aan hand met moderne Kersfeesvieringe. Sy algemene naam, Sinterklaas, is ʼn verbrouing van Sint Nicolaus van Bari in suidoostelike Italië. Nicolaus se reputasie vir vrygewigheid en vriendelikheid het aanleiding gegee tot oorlewerings van wonderwerke wat hy sou verrig het. Daar word byvoorbeeld beweer dat hy bruidskatte van goud aan drie verarmde meisies gegee het om hulle van prostitusie te red, en drie kinders lewendig gemaak het wat deur ʼn slagter opgekap en in ʼn vat met pekel gebêre is. In Amerika is sy naam verbrou tot Santa Claus, in Duitsland was hy Sankt Nikolaus en in Holland Sanct Herr Nicholaas, wat later in Sinterklaas omvorm is.

Hoe dit ook al met Sinterklaas sy, Kersfees gaan eintlik oor Christus, die begin en einde van ons geloofsverhaal. Deur geloof word ons gesnoei, sodat ons sterker kan groei, het die vroeë kerkvader Tertullianus geglo. In dié groeiproses kan ons seker wees van die dinge wat ons hoop en oortuig wees van die dinge wat ons nie sien nie – dít is geloof.

  • Hierdie artikel is geplaas met die vergunning van Flink, die FAK se tydskrif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Feite ·

Die kerklike leier se geloof moet sterker wees as sy volgelinge se geloof anders sal dit nie werk nie. Wanneer kerklike leiers swig voor politieke druk, gemeenskapsdruk en verandering wat nie bybels is nie, dan het die kerk as instelling en die kerklike leiers, die gelowige volgelinge gefaal en dan gaan sentimentele mooipraatjies nie help nie. Jou geloof moet onwrikbaar wees en gerig wees volgens die bybel, moet dit nie waag om af te dwaal en dan ewe skynheilig mooi praatjies te wil uiter nie, dit gaan nie help nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.