Die vensters van die Voortrekkers se bootvormige hartbeeshuisies

hartbeeshuis-vensters-01

Figuur 1
Drie bootvormige hartbeeshuise by die Berlynse sendingstasie
by Bethanië in die Transorangia (detail). Let op die klein venstertjies
by twee van die drie hartbeeshuise. (James Backhouse,
Bethanië, ets, 1839).
Uit: J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa
(London, 1844), teenoor p. 421.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, bekyk in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou het en fokus in hierdie artikel van die reeks op die vensters van die soort huise.

Deel V: Vensters

Volgens Cachet en Spoelstra het die bootvormige hartbeeshuis dikwels net een vensteropening gehad. Dit het uit ʼn ongedekte “vierkant” tussen twee dwarslatte[1] waarvan die hoogte van minder as 25 sentimeter tot ongeveer 46 sentimeter na gelang van die afstand tussen die dwarslatte kon wissel, bestaan.[2] Die vensteropening was dus baie klein.[3] Die ongedekte opening is die venster genoem, hoewel daar nooit glasruite in was nie.[4] Twee van die drie bootvormige hartbeeshuise wat Backhouse by Bethanië in die Transorangie afgebeeld het, het simmetriese fasades met ʼn deur in die middel van die dakmuur met ʼn vensteropening aan weerskante daarvan[5] (Fig. 1).

In laasgenoemde geval was daar as gevolg van die warm droë klimaat en omdat die huise buite waarskynlik in geheel afgepleister was, ʼn groter behoefte aan ventilasie. Soms het die tydelike volkswoning geen vensteropening gehad nie,[6] aangesien die bodeur en ook die vollengte-rietdeur, asook ʼn opening in die dak om rook uit te laat, voldoende lug en lig ingelaat het.

Backhouse het gevind dat die deur van die bootvormige hartbeeshuis van die boer, Salomon, en sy vrou, Adriana Catharina Nortjé,[7] nie die deuropening heeltemal afgesluit het nie, aangesien daar ʼn 30,5 sentimeter (1 voet) hoë opening bo die deur was,[8] wat waarskynlik as vensteropening gedien het.

Volgens Pater J. de S.R. Montanha het sommige mense in Schoemansdal die “gate” van binne met sak toegemaak.[9] ʼn Stuk calico (katoen) of linne het ook as bedekking voor die vensteropenings gehang, óf was met spykers oor die opening vasgeslaan.[10] Katoen is dikwels oor ʼn raampie wat met werwels in die vensteropening bevestig is, gespan.[11] Tekstiel is duursamer gemaak deur dit in warm vet te dompel, waarna dit ook meer lig deurgelaat het.[12] As alternatief vir tekstiel is geoliede papier gebruik.[13] Perkament is ook oor vensteropeninge gespan, terwyl ongelooide vel snags as vensterbedekking gedien het.[14]

Houtluike was by pioniershuise dikwels die enigste vensterbedekking, maar kon ook bykomend as bedekking tot byvoorbeeld tekstielvensters gebruik word.[15] Later is vensterluike van paraffienkisplankies gemaak wat aan velskarniere oopgeswaai het en met ʼn riem gesluit is.[16]

Erich Mayer se afbeelding van ʼn bootvormige hartbeeshuis noord van Brits (1927)[17] (Fig. 2) met ʼn bolig met ruite bo die bo-en-onderdeur moet as ʼn uitsondering beskou word, aangesien glasvensters in werklike pioniersomstandighede nie in ʼn tydelike woning aangetref sou word nie.

hartbeeshuis-vensters-02

Figuur 2
Let op die bolig met glasruite bo die oop bodeur. (Erich Mayer,
Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal,
tekening, 1927).
Uit: Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 397.

Bronne:

[1] F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers aan het volk van Nederland verhaald (Amsterdam, 1883), p. 422; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), p. 69.

[2] Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16; Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 67.

[3] V. Allen, Lady trader: a biography of Miss Sarah Heckford (London, 1979), pp. 31 & 79, A. Aylward, The Transvaal of today, war, witchcraft, sports and spoils in South Africa (London, 1878), p. 93; F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers …, p. 422; K.J. de Kok, Empires of the veld (Johannesburg, 1904), p. 115; Transvaalse Argiefbewaarplek: A 81, p. 100; Verslag van Pater J. de S.R. Montanha, 1847; G.S. Preller, Voortrekkermense V (Kaapstad, 1938), p. 175.

[4] A. Aylward, The Transvaal of today …, p. 93; K.J. de Kok, Empires of the veld, p. 115; TAB: A 81, p. 100; Verslag van Pater J. de S.R. Montanha, 1847; R. Raven-Hart, Cape Good Hope 1652-1702: the first fifty years of Dutch colonisation as seen by callers I-II (Cape Town, 1971), p. 82; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 69.

[5] J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa (London, 1844), p. 420.

[6] H. Lichtenstein, Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805, and 1806 II (Cape Town, 1928), p. 136; Mondelinge mededeling: J.J. Viljoen, Diepkloof Plaasmuseum, Heidelberg, Transvaal, 1990-08-16.

[7] J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa, p. 419; C.C. De Villiers, Geslagregisters van die ou Kaapse families II (Kaapstad, 1966), p. 656.

[8] J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa, pp. 419-420.

[9] TAB: A 81, p. 103; Verslag van Pater J. de S.R. Montanha, 1847.

[10] K.J. de Kok, Empires of the veld, p. 115; G.S. Preller, Voortrekkermense V, p. 175.

[11] V. Allen, Lady trader …, pp. 31 & 79; K.J. de Kok, Empires of the veld, p. 115; A. Kuit, Transvaalse gister (Pretoria, 1942), p. 140; E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900. DPhil-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1988, pp. 426-427; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa (Cape Town, 1966),  p. 112.

[12] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900 …, p. 427; Persoonlike waarneming tydens die rekonstruksie van ʼn katoenvenster in die Voortrekkeraanvangsnedersetting van die Schoemansdal Museum, 1989.

[13] E. Kretzschmar, Südafrikanische Skizzen (s.l. 1853), p. 4.

[14] H. Lichtenstein, Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805, and 1806 II, pp. 232-233; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa, p. 54.

[15] V. Allen, Lady trader …, p. 79; E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900 …, p. 426; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; C.P. Thunberg, … travels at the Cape of Good Hope 1772-1775 (Cape Town, 1986), pp. 93-94.

[16] Mondelinge mededeling: D.J. Rossouw, Oorlogsfontein, hoewe 45, Potgietersrus, 1991-09-17.

[17]Nasionale Kultuurhistoriese Museum: HG 7014 397, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal, E. Mayer, 1927.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae