Dié vier vriende fluit nou hul eie deuntjie

Stephan de Vos, Leon Bruns, Trevor Bruns en Caretus Mzaka (Foto: Verskaf)

Vier goeie vriende – twee ingenieurs, een voornemende politieke joernalis en een beleggingsbestuurder – het besluit om hul korporatiewe betrekkings te laat vaar om hul liefde vir rum verder te voer, en is nóú heeltydse rumstokers.

Stephan de Vos, Leon Bruns, Trevor Bruns en Caretus Mzaka is die trotse eienaars van Whistler African Style Rum, die grootste rumstokery in Suid-Afrika en die enigste van sy soort wat rum maak deur slegs produkte uit Afrika te gebruik.

Dié stokery, wat in die Vrystaat tussen Riebeeckstad en Hennenman geleë is, het in Oktober 2017 die heel eerste Whistler African Style Rum gebotteleer in ʼn eiesoortige bottel wat gemaak is om soos ʼn stoomfluit te lyk.

Whistler African Style Rum word gemaak deur slegs produkte uit Afrika uit te gebruik. (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Die manne van Whistler African Style Rum was ongelukkig in hul korporatiewe beroepe toe hulle in ʼn swembad in Mosambiek begin praat het oor wat ʼn “regte rum” is.

“Ons was almal ongelukkig en wou iets anders doen met ons lewe. Ons was nog altyd op soek na ʼn goeie sakegeleentheid, en het begin praat oor rum. Leon het ons gevra of daar ʼn ordentlike rum in Suid-Afrika gemaak word en ons kon hom nie antwoord nie. Ons het ʼn gaping in die mark gesien en dis hoe dit alles begin het,” het De Vos aan Maroela Media gesê.

Die vriende het begin marknavorsing doen en vasgestel dat daar in daardie stadium nog geen plaaslike rumstokerye in Suid-Afrika was nie.

Whistler African Style Rum verouder in vate waarin ander drank vorheen in SA verouder is. (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

“Ons navorsing het getoon dat daar ʼn groot drang na giere in die land is, soos die jenewergier (gin craze) wat steeds heers. Rum het in ander lande meer bekend geword, maar dit kon nie ʼn gier raak in Suid-Afrika nie omdat daar geen plaaslike mense was om dit te maak nie.

“Ons het toe begin met die proses om ʼn rum te maak wat totaal uniek is, wat uit Afrika kom en regtig die beste produk op die mark is,” het De Vos gesê.

Die vriende het ʼn rumkursus by die Moonshine Universiteit in Kentucky, VSA, voltooi en daarna ʼn vyf dae lange toer onderneem na verskeie rumstokerye om meer by dié gesoute rummakers te leer.

De Vos het gesê dat Whistler African Style Rum hom streng hou by die reëls van ʼn Afrikastyl-rum.

Een van die spesialiteitsdrankies (Foto: Verskaf)

“Eerstens moet die rum in Afrika geproduseer word. Dan moet dit ook gemaak word in toerusting wat in Afrika ontwerp en gebou word. Die rum moet gemaak word deur mense wat Afrika hul tuiste noem, en die bestanddele in die rum moet uit Afrika ontgin word. Laastens moet die rum verouder word in vate wat voorheen ander Afrikagebaseerde alkoholprodukte verouder het,” het hy gesê.

Whistler African Style Rum het tans twee weergawes om van te kies: ʼn gekruide rum met geure soos kaneel, vanielje en sitrus, en ʼn donker rum wat jou smaakknoppies prikkel met geure van donkersjokolade, geroosterde toffie en neute.

“Die rum word baie goed ontvang en ons glo regtig dat dit die beste rum op die mark is,” het De Vos gesê.

Whistler African Style Rum is elke laaste Vrydag en Saterdag van die maand oop vir die publiek om te kom proe. Vir meer inligting besoek die webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.