Die voorbereiding van die klei- of grondvloer van bootvormige hartbeeshuisies

hartbeeshuis-kleivloer-01

Figuur 1. ʼn Eietydse grondvloer wat met lynolie behandel is.
Let op die harde blink-gladde oppervlak.
Uit: F. Meyer (Workshop Instructor), Earthen Floor Workshop http://images.google.co.za/imgres?imgurl=http://designbui

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, bekyk in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n bootvormige hartbeeshuis gebou het. Hannes fokus in hierdie week se berig op die voorbereiding van die klei of grond vir die vloer van die soort huise.

Deel VI: Die klei- of grondvloer  1: voorbereiding van die grond

Ter voltooiing van die huis is ʼn dun vloer van 25 tot 38 millimeter (1 tot 1½ duim) en in sommige gevalle tot so dik as 15 sentimeter (6 duim) van die hardste beskikbare grond, soos potklei, miershoop- of brakgrond ingesit.[1] Indien die vloer goed ingesit is, was dit baie hard, gelyk en duursaam.[2] Wanneer so ʼn woning vir ʼn lang tydperk bewoon is, is die vloer soms met bloed, roulynolie of op derglike wyse behandel, wat dit meer permanent gemaak het en ʼn blink en gladde voorkoms gegee het[3] (Figuur 1).

Die volksbouer het uit ervaring die grondsoorte en die eienskappe daarvan geken en geweet hoeveel ander bestanddele  bygevoeg moes word om ʼn mengsel met die regte eienskappe te verkry. Vir die grondvloer moes die digtheid en die bindingsvermoë van die mengsel van ʼn hoë gehalte wees.[4] Die voorbereiding van potklei, brakgrond en miershoopgrond, is hoofsaaklik dieselfde. Die miershoop-grondvloer word vervolgens in meer besonderhede beskryf.

Om te verhoed dat kolonies termiete nie in die grondvloer nesmaak nie,is miershope wat nie meer bewoon en deur erdvarke en ietermagôe opgebreek en geplunder is, gebruik.[5] Voorkeur is aan miershope wat nie gras bevat nie, gegee, maar indien daar wel graswortels aanwesig was, is die miershope eers aan die brand gesteek sodat die wortels verwyder kon word.[6]

Die miershope is fyngemaak en die grond op ʼn hoop gegooi.[7] Dit is dan natgegooi om sag te word.[8] Potklei is met die voete gebrei, terwyl miershoopgrond getrap of gestamp is,[9] waarna dit vir ʼn paar dae gelaat is om in te suur. Die mengsel is daagliks gebrei om lugblasies te verwyder.[10] ʼn Ander metode was om water in ʼn holte in die hoop te gooi, dit dan vir ses tot agt dae te laat om in te suur, waarna dit deeglik getrap is. Die klei is vervolgens met beesmis en soms ook bestanddele soos vet, gebreide klei en gewone grond gemeng en weer getrap voordat dit gebruik is.[11]

As variasie hierop is jaaroud-turksvyblaaie gepluk, ontdoring en gekneus, waarna dit in groot seeppotte met water gekook is. Die vesels van die blaaie is met ʼn gaffel verwyder, waarna die kooksel gelaat is om af te koel. Die fyn gestampte miershoopgrond is hiermee gemeng en vir drie dae ingesuur, terwyl dit daagliks met skopgrawe deurgewerk is. Só ʼn vloer het gou droog en baie hard geword.[12] Hierdie gebruik het in Transvaal en waarskynlik ook op ander plekke voorgekom.

Bronne:

[1] Skriftelike mededeling: M.C. Botha, Posbus 65, Pienaarsrivier, 1991-08-16; F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers aan het volk van Nederland verhaald (Amsterdam, 1883), p. 423; J. de Coning, Die grasdakhuise van ou Kapaailand, Tydskrif vir Volkskunde en volkstaal 26(6), April 1970, p. 16; Mondelinge mededeling: Z.C. Grobler, Arend Dieperink Museum, Potgietersrus, 1991-09-15; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; G.J. Schutte (red.), Briefwisseling van Hendrik Swellengrebel jr. oor Kaapse sake, 1778-1792 (Kaapstad, 1982), p. 169; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), p. 69; C. van Zyl, Huisversiering en aan kant maak in vroeëre dae, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 17.

[2] F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers…, p. 423; J. de Coning, Die grasdakhuise van ou Kapaailand, Tydskrif vir Volkskunde en volkstaal 26(6), April 1970, p. 16; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa (Cape Town, 1966),  p. 54; C.P. Thunberg, … travels at the Cape of Good Hope 1772-1775 (Cape Town, 1986), p. 139; C. van Zyl, Huisversiering en aan kant maak in vroeëre dae, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 17.

[3] Suid-Afrikaanse Argiefbewaarplek: MSB240, p. 142: Mediese handboek vir de Afrikaanse huisgesin, J.F. Häszner, 1793; G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekkertydperk II (Bloemfontein, 1940), p. 181.

[4] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900. D.phil-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1988, p. 324.

[5] A. Coetzee, Die Afrikaanse volkskultuur. Inleiding tot die studie van volkskunde (Amsterdam & Kaapstad, 1960), p. 114; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa (Cape Town, 1966),  p. 54; W. Shaw, The story of my mission in Southern Africa (London, 1860), p. 41.

[6] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 325.

[7] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 325; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa, p. 54.

[8] Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa, p. 54.

[9] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 30; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa, p. 54; T. Venter, Die Bosveldhuis, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 47(1), April 1991, p. 44.

[10] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 325.

[11] R. Gouws, Huis, werf en verder aan, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge…, p. 30; F.L. Cachet, De worstelstrijd der Transvalers…, p. 423; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; M.J. Oosthuizen, Terugblik op die verlede: die plaaslewe vanouds, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 26(6), April 1970, p. 39; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06.

[12] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900…, p. 325.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.