Die Voortrekkers se wigvormige hartbeeshuis: Die skilddak met geronde ente

Skilddak-hartbeeshuis-01

Figuur. 1 Een van Puntjie se kapstylhuise. Let op die geronde ent.
Uit: J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture
of South Africa, Lantern, 11(1), Julie-September 1961, p. 9.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, beskryf in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis se skilddak met geronde ente gebou het.

Deel II: Vorm 1: Die skilddak met geronde ente

Die kapstylhuis kon drie vorms aanneem, naamlik ʼn saaldak met gewelafsluiting, ʼn skilddak of ʼn skilddak met geronde ente. Die kapstylhuise by die monding van die Duivenhoksrivier by Puntjie in die omgewing van Vermaaklikheid, distrik Riversdal, Suid-Kaap, is ʼn goeie voorbeeld van laasgenoemde (Fig. 1). Boere uit die omliggende omgewing het aanvanklik daar byeengekom om vis te vang en het later wonings waarin hulle gedurende hulle jaarlikse vakansie vir langer tydperke kon vertoef, opgerig.[1] Die huidige tipe kapstylhuise is waarskynlik eers sedert die eerste dekade van die twintigste eeu opgerig. Die boere het ook in die duineveld soortgelyke kapstylhuise vir hulle veewagters gebou.[2]

Die huidige kapstylhuise is ongeveer 4,9 meter (16 voet) breed en 7,6 meter (25 voet) lank.[3] Dit is breër as die tradisionele breedte van 3,7 meter (12 voet) van die vroegste kapstylhuise by Puntjie en elders. Aan die een ent is ʼn inspringende deuropening (Fig. 2). Daar was oorspronklik twee klein vensteropeninge, een oorkant die deur en die ander in een van die sykante. Tans is daar meer.[4] Binne word die huis deur ʼn eenvoudige afskorting van doek of riet in ʼn leef- en ʼn slaapruimte verdeel.[5] Die leefruimte is in die voorste gedeelte, met die slaapruimte daaragter.[6]

Skilddak-hartbeeshuis-02

Figuur. 2 Kapstylhuise by Puntjie. Die vetikale plankbeskotte
by die deure was donkergroen of -bruin geverf.
Uit: J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture
of South Africa, Lantern, 11(1), Julie-September 1961, voorblad.

ʼn Deurkosyn, is vir die bo- en onderdeur in die dakraamwerk ingebou.[7] Die deur verspring na binne wat ʼn tuitjie bo die deur oorbodig maak. Skarniere het uit beesvel, wat vrylik beskikbaar was, bestaan.[8] Die vensteropeninge is slegs met luike wat na bo oplig, afgesluit.[9]

Biesietou wat as bindmateriaal gebruik is om dwarslatte aan die kappe vas te maak, is op ʼn spesiale manier vir hierdie doel voorberei. Nadat die biesietou gepluk is, is dit met ʼn touklopper (ʼn rondgemaakte, 45 sentimeter lange houtstuk met handvatsel) geslaan, totdat dit vlas geword het. Die vlas is klam gehou deur nat sakke bo-oor te gooi, waarna dit onder ʼn bossie gesit is om te keer dat dit uitdroog. Nog ʼn metode om uitdroging te voorkom, was om die biesietou in die waenhuis weg van direkte son op te hang.[10]

Papkuil (Typha australis of T. capensis) is aanvanklik as dekmateriaal gebruik en moes jaarliks gedurende die vakansieseisoen vanweë verwering vervang word. Later is riet wat in die “voorduine” van die omgewing voorkom, gebruik.[11] Riet is meer duursaam en aangesien dit opgedryf word, is dit ook beter teen sterk wind bestand.[12]

Die riet wat aanvanklik in bondels gebind is om droog te word, word losgesny sodra dit teen die dakskild in posisie geplaas is.[13] Die dekmateriaal is met biesietou of rou riempies wat uit beesvel gesny is en later met kommersiële bindtou, vasgewerk.[14] Die opgedrewe dekmetode verskil van die trapsgewyse dekmetode deurdat die dekmateriaal eers met ʼn dekspaan wat van ʼn harde hout, soos byvoorbeeld stinkhout (Ocotea bullata) en later karriehout (spesie van die genus Rhus) gemaak is, gelyk geslaan word, voordat dit finaal vasgetrek word.[15]

Die nok word waterdig gemaak deur bondels riet in ʼn laag met ʼn dikte van ongeveer 5 sentimeter en ʼn lengte van ongeveer 1 meter met die snykant na bo, bo teen die een dakskild vas te werk. Die proses word aan die ander sy net so herhaal. Die riete word dan bo by die nok styf teen mekaar vasgewerk en gelykgemaak, waarna die bopunte van die riete wat by die nok na onder wys, gelyk afgesny word.[16]

Die muurgedeeltes in die kort gangetjie voor die deur is met ʼn horisontale plankbeskot bedek[17] (Fig. 2). Die deure, vensterluike en beskot is aanvanklik van planke wat op die strand uitgespoel het, gemaak.[18] Die houtwerk was (ca. 1961) donkergroen of -bruin geverf.[19]

Waar die kapstylhuise op sand gebou is, het grondvloere nie gedeug nie, en is streepsakke aan mekaar vasgewerk en oor die sand gegooi, waarna dit met houtpenne in die sand vasgeslaan is.[20]

Volgens Van Wyk was die eerste kookplekke skerms wat uit takke en gespande sakke bestaan het. Hierna is keëlvormige kookhutte opgerig. Die kleiner kapstylhuise wat tans as kookhuise dien, dateer uit ʼn later tydperk.[21] Volgens R. de Jager het die kapstylhuise van Puntjie vroeër ook ʼn gemeenskaplike buitebakoond gehad.[22]

Bronne:

[1]E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, p. 58; Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25; J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 8.

[2]Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[3]J. Walton, Homes of the Trekboers . . ., Lantern 11(1), July-September 1961. p. 9.

[4]Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25; J. Walton, Homes of the Trekboers . . ., Lantern 11(1), July-September 1961. p. 9.

[5]E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, p. 62; J. Walton, Homes of the Trekboers . . ., Lantern 11(1), July-September 1961, p. 9.

[6]J. Walton, The South African kapstylhuis and some European counterparts, Restorica no. 10, December 1981, p. 8.

[7]Puntjie, distrik Riversdal: kapstylhuise, besoek 1990-10-12; J. Walton, Cape cottages (Cape Town, 1995), p. 61.

[8]Mondelinge mededeling (aan mej. R. Marais): mnr. Sullivan, Stanford, 1982.

[9]BPM: kapstylhuis, besoek 1990-10-04; BPM: ongenommer, werkstekeninge: rekonstruksie van ʼn kapstylhuis, G. Fagan, 1981-07-01; Puntjie, distrik Riversdal: kapstylhuise, besoek 1990-10-12; Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[10]E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, pp. 60-61.

[11]Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[12]J. Weyns, Bokrijk, tuin van de Vlaamse volkskultuur (Bokrijk, 1961), pp. 66-67.

[13]E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900, met spesiale verwysing na woningbou, D.Phil.-proefskrif (Universiteit van Stellenbosch, 1988), p. 287; J. Walton, Cape cottages (Cape Town, 1995), p. 63.

[14]E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, p. 60; Mondelinge mededeling (aan mej. R. Marais): mnr. Sullivan, Stanford, 1982; J. Walton, Cape cottages (Cape Town, 1995), p. 62.

[15]E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, p. 61; J. Weyns, Bokrijk, tuin van de Vlaamse volkskultuur (Bokrijk, 1961), p. 65.

[16]E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, pp. 61-62.

[17]J. Walton, Homes of the Trekboers . . ., Lantern 11(1), July-September 1961, voorblad.

[18]Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[19]J. Walton, Homes of the Trekboers . . ., Lantern 11(1), July-September 1961, voorblad.

[20]A. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, p. 59.

[21]Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[22]E. Barnard, Die volksboukuns van Swellendam en omgewing, Kultuurhistorikus 7(2), Oktober 1992, p. 65.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae