Die Voortrekkers se wigvormige hartbeeshuis: Die skilddak

Skilddak-hartbeeshuis-03

Figuur 1. ʼn Kapstylhuis in die vorm van ʼn skilddak. ʼn Boer se huis in die
binneland van Suid-Afrika met ʼn looikuip en seepmakery (detail). Skildery
deur Robert Henry Dingley, January 1819. Uit: K. Schoeman, Life at the Cape, in Van De Geijn-Verhoeven et al., Domestic Interiors at the Cape and in Batavia, 1602-1795. (T.M. Eliëns Ed.) Cape Town, 2002), p. 126.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, beskryf in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n wigvormige hartbeeshuis se skilddak gebou het.

Deel II: Vorm 2, die skilddak

Die amateur-kunstenaar R. H. Dingley het aan die Kaapse Oosgrens ʼn skets van ʼn veeboer se kapstylhuis en werf gemaak, getiteld ʼn Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ʼn looikuip en seepmakery (ca. 1815-1817)[1] (Fig. 1). Waar ’n mens by die saaldak sluitgewels aantref, is hier skuinsoplopende entdakvlakke sodat die nok korter as die lengte van die dak is, en die dak gevolglik uit vier skuins dakskilde bestaan. Die entgewelkappe is met die konstruksie van die dakraamwerk weggelaat. Op die vier hoeke van die huis is hoekstyle wat met die nok van die naaste kap verbind is, geplaas. Die entdakvlakke is verder van radiale- of hoekkortstyle voorsien (Fig. 2). Radiale style is, soos die kapstyle, op die lang sye op eweredige afstande op die voet van die smal ente van die huis geplaas, waar dit soos die hoekstyle bo by die nok bymekaar gekom het. Die konstruksie kon ook uit hoekkortstyle wat van die dakvoet na die hoekstyle in plaas van die nok oploop, in welke geval slegs die middelste styl tot by die nok gestrek het. Skilddakke het veral in winderige gebiede voorgekom, aangesien die skuins dakvlakke minder windweerstand as vertikale sluitgewels bied.[2] By dié soort dakkonstruksie was ʼn windlat oorbodig, aangesien die style aan die dakente die dak teen winddruk gestut het.

Skilddak-hartbeeshuis-04

Figuur 2. Entdakvlakke: (links) met radiale- en (regs) hoekkortstyle. Tekening: H. Raath.

ʼn Deur met ʼn tuitjie en twee klein vensteropeninge is simmetries in een van die lang dakvlakke geplaas. In teenstelling met die regop deur is die vensteropeninge teen dieselfde hoek as die skuins dakvlak. Die konstruksie van die raamwerk van die oop deur is duidelik sigbaar en bestaan uit twee vertikale pale wat horisontaal met vyf korter paaltjies verbind is. Die raamwerk is waarskynlik met dieselfde materiaal as die dak gedek. Twee keëlvormige hutte verskyn ook op die tekening. Die een is ʼn kookhut met ʼn opening bo waardeur die rook kon ontsnap.

Bronne:

[1] Museum Africa: 75/1126, skets: ʼn Boer se huis in die binneland van Suid-Afrika met ʼn looikuip en seepmakery, R.H. Dingley, January 1819. Die skets is waarskynlik in Londen voltooi aangesien die datum Jan. 1819 daarop voorkom. J.C. Pretorius, Robert H. Dingley: amateur-kunstenaar van die Oosgrens (1813-1818), Historia 37(2), November 1992, pp. 33 & 37.

[2] Frilandmuseet, English Guide, p. 75; C.V.Trefois, Ontwikkelingsgeschiedenis van onze landelijke architectuur, p. 90.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.