Die Voortrekkers se wigvormige hartbeeshuis wat in die grond ingegrawe is

Grond-ingegrawe-wigvormige-hartbeeshuis-01

Figuur 3. ʼn Oekraïense “root cellar”, Pirigovo Museum of Folk Architecture
and Household, buite Kiev.
Uit: Pirogovo – Museum of Folk Architecture and Household, http://www.kyiv.com/
cultural-spots-kuiv/museums/pirogovo.html, 2013-08-18.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, beskryf in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers die wigvormige hartbeeshuise gebou het, wat in die grond ingegrawe is.

Deel III: Huise wat in die grond ingegrawe is

By ʼn wigvormige dakhuis met ʼn saaldak van 9,1 meter (30 voet) lank en 3,7 meter (12 voet) breed, is die bruikbare vloeroppervlak ongeveer 19,5 vierkante meter (210 vierkante voet), terwyl die beweegruimte veel minder is. In teenstelling hiermee, is die vloeroppervlak van ʼn muurhuis met dieselfde afmetings 33,5 vierkante meter (360 vierkante voet). Daar gaan by die wigvormige dakhuis dus ʼn aansienlike hoeveelheid ruimte verlore.

Om die probleem in ʼn mate te bowe te kom, is die vloer laer as die omliggende grondvlak ingegrawe (Fig. 1), of die dakvoet op kort vertikale pale of lae mure geplaas. Omdat die onderste gedeelte van die dakmure van die bootvormige dakhuis byna vertikaal is, het daar in teenstelling met die wigvormige dakhuis min of geen ruimte verlore gegaan nie.

J.F. Häszner het in sy Huislijk geneeskundig handboek voor de ingesetenen van Nederlands Africa (1793) geskryf dat hutte wat in die grond ingegrawe is “hartebeesthuizen” genoem is. Hy het ook opgemerk dat die vloere klam was, wat vererger is deur die gewoonte om hulle een of twee keer per week met beesmis of skaap- of beesbloed te smeer.[1]

Deur die vloer in die grond in te grawe, is nie net groter ruimte verkry nie, maar ook, in teenstelling met ʼn lae muurtjie, ʼn besparing aan boumateriaal bewerkstellig.[2] Dié tipe huis was koel in die somer en in die winter warmer as ʼn gewone dakhuis. Häszner het ongelukkig geen verdere inligting oor dié huise verstrek nie. Verwysings na huise waarvan die vloere ingegrawe is, kon ook nie in ander tydgenootlike getuienis gevind word nie. Aangesien die gebruik algemeen in die Westerse wêreld en elders voorgekom het, waar dit onder meer as voedsel- en drankstoor gedien het, is daar geen rede om Häszner se waarneming in twyfel te trek nie (Fig. 2 & 3).

Bronne:

[1] Suid-Afrikaanse Biblioteek, Kaapstad: MSB240, p. 142: Mediese handboek vir die Afrikaanse huisgesin deur J.F. Häszner (vert. L.C. van Oordt).

[2] C. van der Veen, Museumboek voor Drenthe (Baarn, 1979), p. 56.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Berhalet Beukes

My jinne… Wonder wat dink die vêr regse Afrikaners nou van die nederige huisie wat ook maar nie veel beter as ‘n klei rondawel vertoon nie?