Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, beskryf in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers die wigvormige hartbeeshuise gebou het met ‘n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie.
Deel V: Die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie
In teenstelling met die kapstylhuis het die wigvormige dakhuis met ʼn vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie volgens die beskikbare bronne slegs in dele van die Wes-, Suid- en Oos-Kaap voorgekom. Teen 1961 het Walton dié tipe dakraamwerk nog net in die Langkloof, Suid-Kaap, aangetref. Hy skryf in “Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa” (1961):
The roof houses in this long valley [Langkloof] are also of a type not found elsewhere in South Africa. They have a framework consisting of a ridge-pole carried on two or more pairs of rafters which cross at the apex to form a V, in which the ridgepole rests[1] (Fig. 1).
Skrywer kon gedurende veldwerk geen voorbeelde van wigvormige dakhuise met hierdie tipe dakraamkonstruksie vind nie. Omdat die kapbene by die nok gekruis het om ʼn V te vorm waarin die nokpaal rus, kan die kenmerkende V’s op die nokke by ʼn paar Africana-prente van wigvormige dakhuise waargeneem word.
Op ʼn kaart van Dassen-eiland, gedateer 1656, verskyn daar afbeeldings van ʼn wigvormige dakhuis met ʼn deur in die sluitgewel, asook ʼn muurhuis met ʼn saaldak en ʼn deur in die entmuur[2] (Fig. 2). Die geboue is waarskynlik reeds in 1654 gebou toe Jan van Riebeeck in Oktober geskryf het: “omme wat riedt ende hout te halen tot een goede loods op ’t Dasseneijlant … te maecken …”.[3]
Hoewel Walton die mening gehuldig het dat die betrokke dakhuis ʼn kapstylhuis verteenwoordig,[4] kan nie daarmee akkoord gegaan word nie, aangesien die kenmerkende V’s van die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie op die nok van die huis sigbaar is. Die V van die vierde kap by die voorgewel is nie afgebeeld nie, maar nie noodwendig afwesig nie.
Die kunstenaar Johannes Schumacher het in ca. 1776-1777 ʼn plaas in die Kamdeboo (streek suid van Graaff-Reinet, Agter-Bruintjieshoogte en die Sneeuberg wat ooswaarts tot by Pearston en Somerset-Oos strek) geskilder waarop ʼn aantal dakhuise met twee vurke elk voorkom (Fig. 3). Van die huise het uit saaldakke met ʼn deur in die sluitgewel soos die voorbeeld op Dassen-eiland wat hier verskaf word, bestaan. In dieselfde skildery is ʼn groot wigvormige dakhuis met geronde ente wat uit radiale sparre, wat aan albei kante bo by die drakappe bymekaarkom, bestaan.[5]
Bronne:
[1] J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 13.
[2] Kaapse Argiefbewaarplek: ACC M1/19, geïllustreerde kaart: Dassen-eiland, anoniem, 1656.
[3] J.A. van Riebeeck, Daghregister gehouden by den Oppercoompman … I, 1651-1655 (reds. D.B. Bosman & H.B. Thom), p. 259.
[4] J. Walton, The South African Kapstylhuis and some European counterparts, Restorica no. 10, December, 1981, p. 2.
[5] J.J. Oberholster, Die historiese monumente van Suid-Afrika (Kaapstad, 1972), p. 186.
“Vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie” – sjoe wat ‘n LYWIGE woord! Nog nooit voorheen raakgelees of gehoor nie!