Die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie van ‘n wigvormige hartbeeshuis

Vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie-hartbeeshuis-01

Figuur 1. ʼn Plaasstoor met ʼn vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie,
Noll’s Halt, Langkloof, distrik Uniondale, Suid-Kaap.
(Foto en skets deur James Walton.)
Uit: Lantern 11(1), July-September 1961, p. 14.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, beskryf in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers die wigvormige hartbeeshuise gebou het met ‘n vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie.

Deel V: Die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie

In teenstelling met die kapstylhuis het die wigvormige dakhuis met ʼn vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie volgens die beskikbare bronne slegs in dele van die Wes-, Suid- en Oos-Kaap voorgekom. Teen 1961 het Walton dié tipe dakraamwerk nog net in die Langkloof, Suid-Kaap, aangetref. Hy skryf in “Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa” (1961):

The roof houses in this long valley [Langkloof] are also of a type not found elsewhere in South Africa. They have a framework consisting of a ridge-pole carried on two or more pairs of rafters which cross at the apex to form a V, in which the ridgepole rests[1] (Fig. 1).

Skrywer kon gedurende veldwerk geen voorbeelde van wigvormige dakhuise met hierdie tipe dakraamkonstruksie vind nie. Omdat die kapbene by die nok gekruis het om ʼn V te vorm waarin die nokpaal rus, kan die kenmerkende V’s op die nokke by ʼn paar Africana-prente van wigvormige dakhuise waargeneem word.

Op ʼn kaart van Dassen-eiland, gedateer 1656, verskyn daar afbeeldings van ʼn wigvormige dakhuis met ʼn deur in die sluitgewel, asook ʼn muurhuis met ʼn saaldak en ʼn deur in die entmuur[2] (Fig. 2). Die geboue is waarskynlik reeds in 1654 gebou toe Jan van Riebeeck in Oktober geskryf het: “omme wat riedt ende hout te halen tot een goede loods op ’t Dasseneijlant … te maecken …”.[3]

Vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie-hartbeeshuis-02

Figuur 2. ʼn Wigvormige dakhuis met ʼn vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie
op Dassen-eiland (detail), geïllustreerde kaart, 1656.
Kaapse Argiefbewaarplek, ACC 1290 MI/19.

Hoewel Walton die mening gehuldig het dat die betrokke dakhuis ʼn kapstylhuis verteenwoordig,[4] kan nie daarmee akkoord gegaan word nie, aangesien die kenmerkende V’s van die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie op die nok van die huis sigbaar is. Die V van die vierde kap by die voorgewel is nie afgebeeld nie, maar nie noodwendig afwesig nie.

Die kunstenaar Johannes Schumacher het in ca. 1776-1777 ʼn plaas in die Kamdeboo (streek suid van Graaff-Reinet, Agter-Bruintjieshoogte en die Sneeuberg wat ooswaarts tot by Pearston en Somerset-Oos strek) geskilder waarop ʼn aantal dakhuise met twee vurke elk voorkom (Fig. 3). Van die huise het uit saaldakke met ʼn deur in die sluitgewel soos die voorbeeld op Dassen-eiland wat hier verskaf word, bestaan. In dieselfde skildery is ʼn groot wigvormige dakhuis met geronde ente wat uit radiale sparre, wat aan albei kante bo by die drakappe bymekaarkom, bestaan.[5]

Vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie-hartbeeshuis-03

Figuur 3. Agter is ʼn groot wigvormige dakhuis met ʼn deur in die
lang sykant. Links voor is drie wigvormige dakhuise in die vorm
van saaldakke, met die deur telkens in die gewel. (Johannes
Schumacher, ʼn Plaas in die Kamdeboo, skildery,
1776-77).
Uit: J.J. Oberholster, Die historiese monumente van Suid-Afrika
(Kaapstad, 1972), p. 186.

Bronne:

[1] J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 13.

[2] Kaapse Argiefbewaarplek: ACC M1/19, geïllustreerde kaart: Dassen-eiland, anoniem, 1656.

[3] J.A. van Riebeeck, Daghregister gehouden by den Oppercoompman … I, 1651-1655 (reds. D.B. Bosman & H.B. Thom), p. 259.

[4] J. Walton, The South African Kapstylhuis and some European counterparts, Restorica no. 10, December, 1981, p. 2.

[5] J.J. Oberholster, Die historiese monumente van Suid-Afrika (Kaapstad, 1972), p. 186.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eliza-beth ·

“Vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie” – sjoe wat ‘n LYWIGE woord! Nog nooit voorheen raakgelees of gehoor nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.