Die waarde van hoop

hoop-geel-blom-oop-hande

Foto: Lina Trochez/Unsplash.com

Ek vra hom wat is sy naam en met ’n ernstige gesiggie kyk hy op na my en antwoord: “B(j)andon, tannie.” Die “r” wat ‘n “j” word, rol lank van sy tong af en jy kan sommer sien hoe hard hy probeer. Op hierdie oomblik wil hy net met hierdie tannie gesels en iemand hê wat onverdeeld aan hom aandag gee. Niks meer nie. Ek kyk in die ogies en sien wysheid en hartseer wat so klein mensie van agt nie moet ken nie. Daar is geheime in daardie oë wat niemand kan lees nie.

Ek loop verby die kantoor, net betyds om te sien hoe die vrou in trane by die tafel gaan sit. Ek vra wat fout is en sy antwoord met ’n hartverskeurende snik dat haar vriendin nou net selfmoord gepleeg het en niemand weet hoekom nie. Daar is net nie woorde nie. Die alleenmamma van twee kinders het nie meer kans gesien vir die lewe nie. Wat gebeur nou met daardie kinders? Watter las het sy gedra wat te swaar was om te deel, wat sy in die geheim gedra het?

Ek sit voor ’n jong man met skouers wat hang, sy gesig vol vrae. Hy is moedeloos van soek na werk. Hy is alleen in die wêreld. Hy sukkel. Hy het hard gewerk op skool en ewe hard studeer en nou sit hy hier en vra my hoekom hy dan nie kan werk kry nie. Ek vra wie ondersteun hom en hy sê daar is niemand – die mense wat moes, is weg en dié wat oorbly praat die moed uit hom uit. Ek vra hom waar sy ouers is en hy sê net dis ’n lang storie. Nóg geheime diep agter die seer en die hulpeloosheid van ’n jong man.

Ek sit met die hierdie jong man en ons praat oor waarmee hy hom besig hou terwyl hy nie ’n kans gegee word nie. Geen ervaring, jy sien. Die ou storie. Ons praat oor hoe jy jou toekoms in jou eie hande kan neem, hoe jy self iets kan doen om ervaring te kry. Vir elke oplossing waarmee ons vorendag kom, kom hy met ’n splinternuwe probleem. Hy gaan huis toe, praat met sy familie en kry sommer ’n sak vol redes hoekom hy nie sal kan sukses behaal nie. Wel, nie wat hulle betref nie.

Dit tref my: daar is duisende soos hy. Hoe sit ek hoop in hom terug as ek dit self nie kan sien nie? Hoe vertel ek vir hom aanhouer wen as ek self nie weet hoe om te help nie? Daar is duisende wat hopeloos en moedeloos is. Hulle sukkel en hulle worstel. Ek wil hulle help, maar hoe help ek hulle?

Ek kyk in die jong man se moedelose oë en ek voel sy hulpeloosheid aan asof dit my eie is. Maar ons druk deur – ons praat oor hoe hy kan vorentoe gaan. Ons praat oor wat alles in sy kop is, in sy hart en in sy hande is wat hy kan gee vir sy gemeenskap. Ons praat oor die mense wat hy ken en wat hy kan leer ken wat dalk êrens iemand ken wat vir hom ’n werkie sal aanbied. Ons praat van die waarde wat hy kan bied vir mense. Ons praat van wat hy kan dóén.

Dié Vrydag skryf hy ’n briefie. “Dankie dat julle my met respek hanteer het.” Hy kyk my in die oë. Hy is vol selfvertroue, vol moed. Hy sê hy sien kans vir die toekoms. Hy sê hy ken homself beter en hy weet nou wat sy waarde is. Hy sien die moontlikhede van hoe hy homself kan help. Ek weet nie presies wanneer dit gebeur het nie, maar êrens gedurende die week het hy kom hoop skep.

Al hoe ons hierdie jong man gehelp het hierdie week, was om te luister en sy las te help dra. Al wat ons gedoen het vir die klein Brandon en vir die vriendin met die stukkende hart is om die las te verdeel. Dis min.

Ek bedink die dinge wat ons hier doen en hoe groot die uitdagings is. En ek besef net weer eens: Al is dit vir één wat jy die hoop kan teruggee, is dit die moeite werd al voel dit te min. Al is één jong man se hart vanaand vol hoop, is dit genoeg.

Hoop is ál wat mense staande hou

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ella ·

Die trane loop terwyl ek hier lees Rene. Ek.ken ook sulke kindertjies en grootmense.
Dankie dat jy help waar jy kan al.is dit met woorde en moed inpraat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.