Die waarheid van Kersfees waaroor mense graag swyg

hartseer-kerstyd

Kerstyd is nie altyd vir almal ’n gelukkige tyd nie. Foto: Livesicilia.it

Kerstyd. Feestyd. Familietyd. Rustyd. Vakansietyd.

Dít is alles positiewe woorde wat mense gebruik wanneer hulle na die tyd tussen Kersfees en Nuwejaar verwys. Die werklikheid waaroor baie mense swyg, omdat dit die lekker Kersatmosfeer dalk kan bederf, is dat dit ook selfmoordseisoen is.

Vir baie wipplankryers en selfs mense wat normaalweg heel goed funksioneer, is die teenstelling wat húlle beleef teenoor die verwagting (of dalk moet ons sê die standaard) van wat Kersfees behoort te wees, eenvoudig te groot.

Vir baie is Kerstyd nie feestyd nie, maar treurtyd. Nie familietyd nie, maar ʼn tyd van tweestryd of alleenheid. Nie rus- of vakansietyd nie, maar ʼn tyd van spanning en angs oor groot onsekerheid.

Vir baie mense is dié Kersfees die eerste nadat hulle ʼn geliefde aan die dood moes afstaan. Die eerste Kersfees alleen ná ʼn egskeiding. Dalk net nog ʼn Kersfees vol konflik vanweë huweliksprobleme of familiegevegte. Daar gaan jongmense en studente wees wat voel hulle het misluk wanneer hulle hul uitslae ontvang. Van hulle gaan eenvoudig nie hul eie teleurstelling, of hul vrees dat hulle hul families teleurgestel het, in die oë kan kyk nie. Daar is mense wat hierdie Kersfees onder finansiële druk staan ná werksverliese of groot mediese uitgawes. Wat skuldig voel omdat hulle nie geskenke vir hul kinders kan koop nie. Wat nie kos het nie.

Ja, vir baie mense is dit moeilik om die seën van Kersfees te sien vanweë die grootte van hul seer.

Vir jóú wat só voel oor hierdie feestyd die volgende boodskap:

Die liewe Vader kén verlies.

Hy het sy eie Seun vir ons geoffer. Hy tel elke traan wat jy stort. Soek by Hom jou troos. Al is jy kwaad vir Hom. Al voel dit jy kan nie met Hom praat nie. Al het Hy nie die lydensbeker by jou laat verbygaan nie.

Die liewe Vader kén gebroke verhoudings.

Ons het reeds in die tuin van Eden ons volmaakte verhouding met Hom verbreek en sedertdien is al ons verhoudings gebroke. Tog maak Hy mense weer heel, ten spyte van ons gebrokenheid. Hy druk ons vas in sy arms. Só veilig dat ons stukkende stukke weer bymekaar kan kom. Kom skuil by Hom.

Die Here Jesus kén die pyn van alleen wees.

Ja, beter as ons. Ons het nog altyd sy teenwoordigheid. Hy het aan die kruis ware Godsverlatenheid ervaar sodat ons nooit alleen sal wees nie.

Die liewe Vader sal jou nooit verwerp nie.

Dit maak nie saak hóé groot jou foute of wanprestasie in 2017 was nie. Hý het jou gemaak met ʼn visie en ʼn taak. Hy gebruik elke misstap, verkeerde pad en teleurstelling om ons te louter en toe te rus vir dit wat ons nog moet bereik in ons lewe. Hy bereik sy doel met ons, ondanks ons foute en tekortkominge.

Die liewe Vader sal jou nooit in die steek laat nie.

Hy hoor jou benoudheid. Hy weet van jou nood. Hou in afhanklikheid vas aan sy genade. Want dan sal jy ook sy vrede ervaar. Wanneer ons in ʼn tyd van droogte is in ons lewe, maak God ons ryk in afhanklikheid.

Dalk is jy een van die gelukkiges wat werklik uitsien na die seëninge van hierdie Kerstyd. Wees dan aktief op die uitkyk na mense vir wie die seer dalk groter is as die seën. Wees jý dan vir hulle ʼn ekstra seën. Wees vrygewig in jou liefde, ondersteuning, kameraadskap en aanvaarding. Wees die Vader se vashou-arms, ʼn veilige huilplek, en bron van liefde. Wie weet? Jóú deel verander dalk vir iemand die selfmoordseisoen in ʼn vasbytseisoen.

Wees hierdie Kersfees die seën, want volgende Kersfees het jy dalk seer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.