Die watergrafte van Scapa Flow

Skepe van die Amerikaanse vloot by Scapa Flow, Skotland in April 1942. Foto: Amerikaanse vloot/Commons.wikimedia.org

Deur Pierre Massyn

Die geskiedenis het ’n aweregse manier om draaie te loop en homself te herhaal. Tensy jy Brits is of in seevaart belangstel, het jy waarskynlik nog nooit van Scapa Flow in Skotland gehoor nie. Jy sal egter wel weet wat ’n duikboot is. Hierdie is die storie van ’n Duitse duikboot wat die trots van die Britse vloot in sy tuishawe gekelder het…

’n Obskure historiese feit is dat die Duitse oorlogsvloot ná die Eerste Wêreldoorlog gekelder is – deur Duitse seelui self[1]. Ná die Wapenstilstand wat op 11 November 1918 in Compiègne, Frankryk onderteken is (’n vernedering vir Duitsland) moes die hele Duitse oopseevloot, duikbote uitgesluit, na Scapa Flow, die belangrikste Britse vlootbasis langs die onherbergsame Skotse noordkus, stoom. Daarna sou die lot van hierdie skepe (meer as 70) deur die seëvierende geallieerdes bepaal word.

Hierdie besluit was op aandrang van die Britse admiraal Rosslyn Wemyss wat wou hê dat die Duitse skepe by die yskoue, mislike Scapa Flow moes bly met slegs ’n handjievol Duitse matrose aan boord om noodsaaklike seemansfunksies te verrig.

Duitsland gee amptelik op 16 November 1918 sy skepe aan admiraal David Beatty op sy swaar slagskip, die HMS Queen Elizabeth oor. Tussen 25 en 27 November 1918 vaar die Duitse vloot Scapa Flow binne om voor anker te lê. Toestande aan boord die geïnterneerde Duitse skepe is haglik en “onbeskryflik smerig” op sommige skepe. Die Duitse vaartuie sou deur die Britse Grand Fleet bewaak word.

Vir byna ses maande sit die Duitse seemanne op hul skepe ingekerker – die Britse owerhede wil hulle nie toelaat om hul makkers op ander skepe te besoek nie, of om selfs kortstondig voet aan wal te sit nie. Om die verveling te verbreek, vang hulle vis en speel kaart. Nou en dan ontvang hulle kospakkies van hul verslane landgenote by die huis. Ten spyte van hierdie beproewende omstandighede, wapper die Duitse vlootvlag steeds – eers op die slagskip Friederich der Grösse, en later op die SMS Emden.

Toe die nuus van die hartelose bepalings van die Verdrag van Versailles – volgens historici een van die direkte oorsake van die Tweede Wêreldoorlog – die Duitse admiraal Ludwig von Reuter in Mei 1919 bereik, kom hy tot ’n hartverskeurende slotsom: Eerder as om toe te sien dat die skepe in die hande van Duitsland se vyande val, neem Reuter ’n pynlike besluit wat hy nie net as patrioties nie, maar ook in Duitse belang beskou: die skepe moet voor die voet gekelder word!

Op 21 Junie 1919 sink 52 van die 74 vaartuie in Scapa Flow, aan die hand van hul Duitse bemannings wat seekleppe, sluitkrane, luike en patryspoorte oopmaak vir die seewater om in te stroom. Met hul skepe wat besig is om onder hulle te sink, wend die herderlose Duitse matrose hulle tot hul reddingsbootjies. En toe pleeg die Britte ’n wandaad wat indruis teen elke wet van die see: hulle brand los en maai die weerlose, ongewapende manne in oop roeibootjies af.

Behalwe vir dié wat sterf, word nagenoeg 16 gewond. Tot vandag toe rus die stoflike oorskot van nege vermoorde Duitse seemanne nog in Skotland.

Met die heropbou van die Duitse vloot in die 1930’s, word die selfvernietiging van die Duitse vloot voorgehou as ’n daad van heldhaftige minagting van die vyand. Admiraal Karl Dönitz bou die Duitse vloot weer op tot ’n formidabele mag. Die U-boot (“Unterseeboot”) is die sterkste kneukel in die Duitse vlootvuis.

Op 14 Oktober 1939 draai die wiel die volle sirkel…

scapa-flow-gunther-prien

Günther Prien. Foto: Verskaf.

Die Tweede Wêreldoorlog het so pas uitgebreek. ’n Duitse klas-VIIB-duikboot (U-47) met baas-sluipjagter Kapitänleutnant Günther Prien in bevel, infiltreer die Scapa Flow-vlootvesting. Die U-47 vleg deur ’n verdedigingsnetwerk van seemyne, grofgeskut en staalnette. Meesterlik navigeer Prien sy duikboot van 66 meter deur oënskynlik ondeurdringbare hindernisse en kelder die HMS Royal Oak reg onder die neuse van die verdwaasde Britte.

Prien word as ’n held terug in Duitsland verwelkom. Adolf Hitler oorhandig persoonlik die Ridderkruis van die Ysterkruis aan hom. Prien word daarna gereken as “Die Stier van Scapa Flow”. Hy was ook die eerste lid van die Duitse vloot (“Kriegsmarine”) wat die Ridderkruis van die Ysterkruis met Eikeloof (“Ritterkreuz des Eisernen Kreuzes mit Eichenlaub”) verwerf het. Prien se totaal van gekelderde vyandelike vaartuie lees uiteindelik: 31 gekelder, agt beskadig.

Scapa Flow eis nóg ’n slagoffer – die Royal Oak sink binne 13 minute met ’n lewensverlies van 833 nadat die laaste drie van vier torpedo’s hom midskeeps om 1:16 die oggend van 14 Oktober 1939 kort ná mekaar tref. En so kry die Royal Oak sy laaste rusplek in ’n yskoue see saam met sy gewese vyande van 20 jaar vantevore. Die Britse trots – ʼn Revenge-klas-slagskip van 30 450 ton – sink nie te ver van die Friedrich der Grosse.

Merkwaardig genoeg was die twee skepe op 31 Mei en 1 Junie 1916 opponente by die Seeslag van Jutland, maar albei vind uiteindelik ’n watergraf by Scapa Flow!

Die kringloop is voltooi.

  • Pierre Massyn is ’n navorser en amateur-historikus.

Voetnota:

[1] Duitsland moes reeds vroeër sy 176 oorblywende duikbote by Harwich aan vise-admiraal Reginald Tyrwhitt oorgee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Stephan de S ·

Dankie Pierre vir die interessante geskiedenis. Het geweet v Scapa Flow maar niks v hd besonderhede. Ivm die losbrand op die manne in reddingsbootjies: ons eie voorgeslagte het dit belewe dat die Britte—-toe hulle nog diè enigste wêreldmag was en voor die totstandkoming vd Volkerebond hul nie veel gesteur het aan die nakoming van protokol aangaande die behandeling v krygsgevangenes nie. Hoeveel boerekrygers is nie op die manier “vermoor” nie. So ver terug as die 1840 ‘s na die slag van Boomplaats het Sir Harry Smith al gevangenes laat teregstel en hul besittings/eiendomme laat konfiskeer.

Skerpspioen ·

As tjokkertjie het ek die boek “Kanonne op die water” gelees en hierdie gebeure was o.a. daarin vertel. Die Engelse se laakbare optrede in die konsentrasiekampe in Suid-Afrika is deur hierdie gebeure bevestig asook die duitsers se reputasie as trots, perfeksionisties met uitnemende ingenieursvernuf.

Dorothy ·

Dankie Pierre. Ek geniet jou skrywe altyd baie. Dit moes seker verskriklik gewees het. Van hulle het hulle families nooit weer gesien nie. Party van die manne het nog nie eens harde baard gehad nie.

JAN ·

Baie dankie — sooo interessant.
Doen gerus so voort – na al my vriende gewatsap!! Belowe

Bertie ·

Baie dankie, Pierre. My gunsteling-onderwerp is juis Scapa Flow en Prien as dit kom by kordaatstukke. Sy kollega’s genaamd Kretschmer en Lemp asook ‘n ander wie se naam my ontgaan het, maak ook interressante leesstof. Maar Gunther Prien het almal oortref.

Karma ·

Kitchener het ook sy einde tegemoet gegaan ‘n kort afstand vanaf Scapa Flow in die Orkney eilande toe sy boot ‘n seemyn op 5 Junie 1916 getref het.

JAN ·

Geweldige geskiedenis rondom: “The man who killed Kitchener”.
Fritz Joubert Duquesne ! Susterskind van genl Piet Joubert.
Google gerus. Geweldig. Die spioen wie die Ingelse soo passievol gehaat het. Omdat hulle sy ma en sussie deur swartes van die Kakies verkrag en vermoor is.. tydens ABO genocide.
Bermuda Triangle, Baie aliasse James Bond oorsprong.
Hy was ‘n Duitse meewerker en het glo gereel dat die duitse duikboot Kitchener se boot sink terwyl hy self Fritz op die boot by Kitchener was en toe daarna afgepik….
‘n Moet lees wat ons kan doen as die Afrikaners regtig wil…..

John ·

… met Brexit heel moontlik Brittanje se final exit… Die spul kakies in hul antieke rooi baadjies by die krieketwedstryd gesien wat so bly was toe ons verloor het? Nog dieselfde ou bitsige volkie. Haar dae is getel…

JAN ·

Moederator so gepraat van Kitchener , asb vra die skrywer om ons te vertel van die slag van Magersfontein. Ons gesin was daar en ons absoluut vergaap oor die omvang en strategie van Del La Ray se revolusionêre offensief.
Ons kan dit maklik weer reg kry as ons wil.
Ons het wat nodig is .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.