Die Wêreldbeker en ons omvattende identiteit

Henri Honiball se trui wat hy in 1997 gedra het toe die Springbokke die Rose op Twickenham vertrap het. Die trui is nou deel van Afrika se suidelikste sportmuseum. Foto: Pierre Massyn.

Deur Pierre Massyn

“Vir die volgende week of ses sal my identiteit bepaal word deur ’n groep rugbyspelers in groen truie…” Dit was my slotparagraaf in ’n artikel op Maroela Media wat op 30 September 2019 verskyn het.

En toe vind Suid-Afrika sy kollektiewe identiteit op die rugbyvelde van Japan deur ’n span wie se naam die Springbokke is.

En daar staan hulle langs mekaar, ’n oopgesig-boerseun van Despatch en ’n Xhosa-sprekende jeugdige uit die townships van die Oos-Kaap. En hulle hou daardie beker vas, die William Webb Ellis-trofee, wat beteken hierdie landjie van ons is nou vir die derde keer die kampioenspan met ’n ovaal bal.

Rassie, onse Rassie met sy aantreklike skewe glimlag. En Siya Kolisi, ons kaptein, en die eerste swart Springbok-aanvoerder wat daardie koppie huis toe bring.

Vergeet van die eerstes. Vergeet dat ons nog nooit ’n Wêreldbeker-eindstryd verloor het nie. Vergeet dat daar nog nooit ’n drie in ’n eindstryd teen ons aangeteken is nie. Vergeet dat ons die eerste span word wat die Rugbykampioenskap wen en die dieselfde jaar as wêreldkampioen gekroon word. Of dat ons ’n groepfase-wedstryd verloor het en tog uiteindelik die bobaas van Yokohama kon word.

Kom ons dink aan ons twee vleuels van 1995, Chester Williams en James Small, wat vanjaar weggeval het. En ons onthou dat ons drieë Saterdag deur ons vleuels, Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe gedruk is. Cheslin, die mannetjie wat Rassie uit Frankryk gaan haal het om vir die Bokke te kom speel. En kom ons dink aan die nommer 6-trui. Francois en Siya en Nelson Mandela se truie.

In Japan was dit ons teen Engeland. Ons mense het lááng geheues. Hulle het die ding gaan haal tot by Oom Siener van Rensburg, wat glo voorspel het hoe die Bok die Roos op ’n groen weiveld in die Ooste sou verpletter. En hoe ons lewende water uit die Heilige Graal sou drink…

Ek het daardie oggend opgestaan en Henri Honiball se nommer 10-trui aangetrek. Want op die trui het gestaan SA vs Eng 29/11/97. En die Lem, soos hy ook bekend was, het gespeel in die Bokspan wat Engeland 29 -11 op Twickenham afgeslag het. Dit was amper so lekker soos in Japan op 2 November 2019.

Maar Japan 2019 was beter, selfs beter as 1995. Dit was grootste uitbarsting van patriotisme wat ek nog in Suid-Afrika beleef het. Daar is niks beters as sport om ons as  ’n nasie saam te bind nie. En ek het weer besef, saam kan ons alles vermag, al probeer politici ons verdeel.

En dit bring my terug by Nelson Mandela en die Springbokke. Die jaar 1995 het gekom en gegaan, maar almal het geweet van Mandela in sy nommer 6-trui op Ellispark daardie dag.

In die herfs van 1996 draf ’n bebrilde, bleekvellige Suid-Afrikaner in sy middelveertigs die trappies by die Uniegebou op. In sy hand dra hierdie gebore Suidwester ’n groot bruin amptelike koevert[1] gemerk met die woorde AMPTELIK – OFFICIAL. In die koevert is ’n brief, gerig aan president Nelson Mandela.

“Ek sal seker maak mnr. Mandela kry jou brief, meneer,” verseker die vriendelike ontvangsdame my.

En toe kry ek twee skrywes. Een van J.E. Hollander, privaat sekretaris van die destydse minister van sport en ontspanning, Steve Tshwete. Die ander een was geteken deur Zelda la Grange, met die datum 15 Maart 1996, namens die president se kantoor.

Wat was in my brief wat só ’n reaksie ontlok het? Jy kry altyd gewetenlose opportuniste wat situasies en sport sal misbruik vir selfsugtige politieke gewin.

Nou, ten spyte van die eenheid in ons rugbygeledere wat in 1992 geblom het, ten spyte van die feit dat die Springbok-embleem die land verenig het ná ons glorie teen die All Blacks in 1995, ten spyte van álles, was daar mense en instansies soos die Noksa (Nasionale Olimpiese Komitee van Suid-Afrika), Mluleki George, Butana Komphela, Makhenkesi Arnold Stofile en ander wat die Springbokembleem in daardie stadium met alle geweld van die aardbol wou vee. Ek kon dit nie glo nie.

Soos miljoene ander het ek immers grootgeword met stories oor ons helde in die Groen en Goud. Legendes soos Boy Louw en Bennie Osler en Piet Spiere en Frik du Preez en Dawie de Villiers en Mannetjies Roux. En my tydgenote soos Naas Botha en Danie Gerber en Carel Doep. En áltyd het die Bok op die linkerbors gepryk, net bo die kloppende hart.

Jake White, die Wêreldbeker se wenspanafrigter in 2007, het dit so gestel: “Elke keer as die Springbokspan op die veld draf vir ’n toets, speel hy vir sy identiteit.”

Vat jy aan die Springbokembleem, dan vat jy aan my.

Toe, kort ná Zelda se brief, vertel Madiba die volk op nasionale televisie: “Die Springbokembleem sal bly, vir rugby.”

Julle sal seker wil weet wat in my brief aan die president gestaan het. Ek het die volgende punte genoem:

  • Die Springbokembleem verenig die land en staan vir almal: swart, bruin en wit.
  • Duisende swart mense maak hul bestaan en verdien hul brood deur Springbok-gedenkwaardighede te verkoop.
  • Chester Williams en ander bruin Suid-Afrikaners wil nie ’n Protea op hul tui hê nie, maar ’n Springbok.
  • Kameraad Steve Tshwete en aartsbiskop Desmond Tutu wil ook die Bok-embleem behou.
  • Die Nasionale Olimpiese Komitee wat voor in die koor skree om die Bok te skiet, het geen reg om dit te doen nie, want rugby is per slot van rekening nie ’n Olimpiese sport nie.

Dit het my saak gehelp dat ek die regte sentimente kon aanroer. Die feit dat my brief in ’n amptelike koevert was, het seker ook gehelp.

Dit kon diegene wat die Bok wou skiet, nie ’n bloue duit skeel dat die embleem die eerste keer in 1906 gebruik is deur Paul Roos se manne nie. Geskiedenis, waardes en tradisie was duidelik nie van belang nie.

Die Springbokembleem is in ons DNS. Dis óns Bok. Ons álmal s’n. Ek is bly ek kon ook ’n bydrae lewer om die Springbok-embleem te bewaar. Ek is bly hy het nie onder politieke druk geswig nie.

Maar ek is die blyste oor Japan 2019. Wat ek saam met Ewald en Kiepie en Louis en Willie en Chris en my pêlle kon indrink.

Mag ons identiteit as Springbokondersteuners vir ewig as deel van ons nasie se kultuur en lewensdoelgerigtheid bly bestaan.

  •  Pierre Massyn is die skrywer van Springbok Rugby-vasvra

Voetnota:

[1] Massyn kon die amptelike koevert gebruik uit hoofde van sy amp as skakelbestuurder van die Lesotho-Hoogland-waterprojek. Sien “Die Franse joernalis in my rooi BMW se kattebak”, Maroela Media, 13 September 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

4 Kommentare

Nico K ·

Ek sien daar word geskryf van Piet Spiere. En toe wen sy kleinseun die wêreldbeker.

Klippies ·

Ja, Nico K, en Jan Pickard se kleinseun wen die wêreldbeker saam met Piet Spiere se kleinseun. Uitstekend!

Kokkie ·

Ook vir my wat daarmee grootgeword het, het die springbokwapen onbeskryflike betekenis. In my jeugjare was die springbokwapen ‘n simbool van uitnemendheid wat deur alle Suid-Afrikaanse sportmanne en -vroue met trots gedra is. En hoewel dit deur ander sportlui gedra en groot aansien aan hulle verskaf het, was die S.A.-rugbyspelers die eintlike Springbokke. Ek dink nie enigiemand sal verstaan hoe ons kinders van daardie tyd oor die springbokembleem gevoel het nie. Ek byt nou nog baie moeilik daaraan dat die bokembleem wat aan so baie spelers heldestatus verleen het, nou uitgerangeer is tot ‘n bykans onsigbare bokkie op die mou. Ek hoor al die argumente en verduidelikings hoekom dit so moet wees. Maar as die All Blacks met trots die silwervaring op die bors vertoon, en die Engelse hulle Roos, ens. dan soek ek na die Springbokwapen prominent op die speler se hart. Die bokke het ‘S.A. verenig’, maar kan ons land dan nou nie vir hulle vereer met die Bok op die Bors nie. En les bes: Baie dankie, Pierre Massyn vir die pleidooi in die amptelik koevert.

B ·

Dankie vir jou bydrae . Met respek verskil ons van mekaar oor sekere aspekte, egter wil ek dit nie hier debatteer want ek vind jou skrywes baie interessant en selfs leersaam.
Groetenis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.