Dis Erfenismaand en ek voel landloos

(Foto: Patrick Hendry/Unsplash.)

Erfenisdag is ’n vreemde affêre in ’n vreemde land. Ons vier dit op ’n naweek, want ons kry nie ’n dag af nie. Maar vier sal ons vier. Skapie op die spit, boeresport en Afrikaanse musiek wat die bure laat frons. Lekker gesellig om die vuur en geselsies in Afrikaans oor die sneeu in die Suide, die kinders se sport vanoggend en die situasie in die wêreld tans.

Die geselsies draai die een of ander tyd altyd terug na ons erfenis. Na ons land en ons mense wat ons agtergelaat het. Dis ’n vreemde gevoel: jy weet hoekom jy geëmigreer het en die redes is steeds daar, dalk nog meer as die dag toe jy op die vliegtuig geklim het. Jy weet die land wat jy verlaat het, is nie ’n plek waar jou kinders kan floreer soos hier nie. Maar steeds hunker jy na Bosveldkuiers, jagvelde waar daar rooibokke en koedoes hardloop, ATKV-oorde vol jillende, sorgelose kinders en Wimpy-koffie by die One Stop wanneer jy Desember se bonus op jou vakansie gaan spandeer. Meer nog, die gevoel van behoort by jou mense. In die supermark, die kerk, die werk… die Braaidag-kuier. Die gevoel van bekendheid en lang, gedeelde geskiedenis met mense wat ons al vir ons hele lewe ken.

Ná twee jaar hier in Nieu-Seeland is hierdie Braaidag-klomp mý mense. Hulle ken die lief en leed van ons lewens, soos ons vir hulle. Hulle verstaan ons oppak en ons trane vir ons agtergeblewenes. Ons deel ’n geskiedenis eie aan emigrante. Ek luister na ons almal se klein Kiwikanertjies wat met ons Afrikaans praat en met mekaar Kiwi-Engels. My seuntjie kyk die groot Suid-Afrikaanse vlag en vra, “What is that?” Ek sê dis ons vlag en hy sê, “Why?” Ek kyk hom stom aan. Is dit sy erfenis?

Soos wat ek daaroor dink, besef ek sy identiteit is nie so vervleg met daardie vlag met die groot Y op soos myne nie. Hy ken nie die geskiedenis van daardie vlag nie. Hy is iets anders as ek. Hy is ’n emigrantekind. Maar, besef ek, ek is ook nie meer dieselfde as my vriende en familie in Suid-Afrika nie. Ons identiteit is nie meer Suid-Afrikaners nie.

Ek weet nie wat dit is om deur ’n pandemie te leef in Suid-Afrika in 2020 nie. Ek weet nie hoe dit voel om nie elektrisiteit te hê nie. Ek weet nie hoe dit voel om te vrees vir my kinders om skool toe te gaan in hierdie tye nie. Ek is nie bevrees om Saterdag op ’n plot buite die dorp ’n Braaidag te vier nie. Ek ken nie die vrees en pyn van ’n land wat skielik deur die grootste krisis in sy bestaan in die gesig gestaar word nie. Ek is nie daar nie.

Ons wat hier Braaidag vier, doen dit sorgeloos en vry. Ons gesels hier oor die dinge daar, maar dis eintlik sonder konteks. Dit vorm nie ons kinders se indrukke van die wêreld nie. Hulle sal nie hul kinderdae onthou met maskers en vrees en dood nie. Ons harte is seer vir ons land en ons mense. Ons pink ’n traan, verander gou die onderwerp. Ons besef hulle veg die geveg van hul lewe daar, en die keuses wat ons gemaak het, gee vir ons dinge wat hulle nie het nie en dalk nooit sal kan kry nie.

Ons gedeelde geskiedenis loop nou ’n ander paadjie as hulle s’n. Ons identifiseer onsself as Saffas. Eintlik is ons nou iets nuuts. Ons identiteit hier is nou “immigrante”. Hier is ons vrees of die immigrasiekantoor ons sal laat bly waar ons nou is. Gaan hulle ons terugstuur na Suid-Afrika, na ’n land waar ons lewens nie meer hoort nie? Ons plekkie is nie meer daar nie – daar bly ander mense in my huis, iemand anders doen my werk, iemand anders ry my kar. Hoe gaan ons terug?

Ek besef die mense in Suid-Afrika het gemengde gevoelens oor emigrante. Party verwyt ons, ander haat ons, ander is lief vir ons en wens ons die beste toe. Min verwag dat ons sal terugkom. Hier voel mense soms ook oor immigrante soos ons in Suid-Afrika soms oor hulle voel – gaan terug na jou land toe, want ons het genoeg mense. Party verwyt ons, ander verwelkom ons. Maar dit is nie ons land nie. Ons weet dit. Is daar ’n plekkie vir ons hier? Of is daar ’n plekkie vir ons in Suid-Afrika? Soms voel ek landloos. Soos ’n swerwer sonder rigting.

Ek kyk ’n video van Dirk Hermann wat gesels oor die erfenis van Afrikaners. Daar is ’n trots en ’n hardkoppigheid wat maak dat ons as Afrikaners altyd weer opstaan. Soos kakiebos word ons nie uitgeroei nie. Dis ’n mooi stuk. Dis ’n hartseer stuk. Dit praat van ’n volk wat oral teenstand beleef en nie ’n plekkie kan kry om te hoort nie.

Ek besef daardie volk was gebou uit emigrante. Hulle het gekom van ver en hulself bymekaar gebring in ’n vreemde land. Daar het hulle ’n volk geword. Hulle het ’n identiteit van hul eie gevorm. Hulle het gevlug en geveg vir hul geloof, en met hul God ’n weg gaan baan. Hulle was werklik landloos.

Dit is Voortrekkerbloed, in my are ook. Dit is my erfenis. Ek is ’n Voortrekker. Ek is ’n kind van Afrika. Ek is ’n emigrant. Ek is ’n landlose. Ek is ’n kind van God. Landloos. Soos Moses. Maar soos Moses, ook nie hopeloos nie. God maak ’n pad vir my. Vir jou ook.

Of jy landloos is, of hopeloos – God maak ’n pad. Dit is ons erfenis.

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee. René en haar gesin woon tans in Nieu-Seeland.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Moedeloos ·

Bly nog in SA maar voel ook Landloos. Niks maar meer sin nie. Niks is meer iets werd nie. Al wat ek oor het is my herinneringe uit my kinderjare wat ek so wens my kinders kon dit beleef. Rene bly liewers in NZ al voel jy landloos maar veilig. Hier gaan jy ook landloos voel maar met onveiligheid.

Anoniem ·

Ja Moedeloos, die Afrikaner is eintlik “Landloos” want ons word nie meer aanvaar in Suid-Afrika nie.

groenboer ·

Hier in Suid-Afrika kla die politici dikwels dat Afrikaners nie juis Erfenisdag vier nie, behalwe om te braai. Maar reg deur die jaar word ons oor en oor vertel ons kultuur is niks werd nie, ons is onwelkome immigrante wat maar bloot verdra word, ons erfenis hoort in ‘n museum van skande. Dan wonder hulle waarom ons nie al te entoesiasties is oor die dag nie…

Nici ·

Daars ander dinge in die buiteland wat mens bang maak vir jou kinders se veiligheid. Daar is eintlik geen ideaal nie.

Vrijburger ·

Puik geskryf. Ons identifiseer want ons swerf. Tans in Texas. Weet nie waar ons gaan vestig nie, as ons wel iewers gaan vestig. Weet net dit gaan nie Suid-Afrika wees nie, want ons weier om ‘n vreemdeling in ons eie land te wees. Bes moontlik gaan ons eendag die Josef’s wees vir die wat in Suid-Afrika agterbly het.

Kokerboom ·

Goeie artikel Rene.
Ons sal maar die fort hier hou. NIKS gaan ons onderkry!

Frans ·

Daar is ‘n gevoel van mageloosheid wat ‘n mens oorval as jy sulke verhale lees.Soms wonder ek of ek meer militant moes opgetree het om die sinnelose oorgawe en uitlewring van volke aan ‘n sosiaal/kommunistiese regering te verhoed.
Dit was ‘n vergeefse stryd want die NP en sy grootste ondersteuner die nasionale pers het mos gesorg
dat sulke denke veragtiglik en verkramp was.So breinspoelend was die pers,dat daar selfs NP ondersteuners was wat gegloo het dat die NP die verkiesig sou wen en my wou veer en teer to ek voorspel het dat die ANC die vloer met die NP gaan vee.Glo my daar is baie geleerde mense in my familie wat nou sê ons het nie geweet nie en die land is in sy moer.
Maar deur dit alles moet ons ons geloof in Jesus Christus, ons enigste Verlosser en Saligmaker behou en dit is meer werd as grond en ‘n vlag wat tydelike eiendom is in vergelyking met ewige lewe na opstanding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.