Dis jou reg om om te ruil

christmas-1917140_1920Dit is weer daardie tyd van die jaar: jy sit met ‘n stapeltjie geskenke wat nie nie wil hê nie of nooit gaan gebruik nie. Saam met al die oorskietkos in die yskas, laat dit jou voel asof jy die Kersfeeswedren verloor het, maar daar is raad. Jy kan geskenke wat jy nie wil hê nie, gaan omruil vir iets wat jy graag wil hê. Ina Opperman verduidelik hoe om dit te doen en wat die Wet op Verbruikersbeskerming oor omruilings bepaal.

Wat sê die Wet?

Hoewel artikel 56 van die Wet op Verbruikersbeskerming voorsiening maak daarvoor dat jy onveilige of foutiewe goedere kan teruggee, bepaal artikel 20 van die Wet jou reg om andersins goedere terug te gee.

Wanneer kan jy goed teruggee?

Jy kan eerstens goedere teruggee en ’n volle terugbetaling ontvang indien die goedere gekoop is in ‘n transaksie van direkte bemarking en jy dit gekanselleer het in terme van die afkoeltydperk wat gestipuleer word in artikel.

Tweedens kan jy ook goedere teruggee as jy nie die geleentheid gehad het om dit na te gaan nie en jy dit verwerp het omdat dit nie van goeie gehalte is nie, of indien ’n mengsel van goedere gelewer is en jy dit geweier het omdat jy dit nie bestel het nie. In die derde plek kan jy dit teruggee wanneer jy iets gekoop het vir ‘n spesifieke doel en die onderneming binne 10 werksdae laat weet het dit is nie geskik daarvoor nie.

Wanneer is dit van toepassing?

Hierdie bepalings is egter nie van toepassing op produkte waarvan die teruggee verbied word deur ’n openbare gesondheidsregulasie of as jy dit gedeeltelik of heeltemal uitmekaar gehaal het, fisies aangepas, permanent geïnstalleer, vas- of aangeheg, aangelas of bygevoeg, vermeng of gekombineer, of vasgelê het in ander goedere of eiendom.

Wie se risiko is dit?

Volgens artikel 20 kan jy die goedere wat jy in ‘n transaksie, wat gevolg het op direkte bemarking, teruggee op jou eie risiko en onkoste en op die winkel se risiko en onkoste op die ander gronde.

Terugbetaling

Die winkel moet jou geld terug betaal indien die produk in die oorspronklike, onoopgemaakte verpakking is. Indien die produk nog in sy oorspronklike toestand in die oorspronklike verpakking herverpak is, kan die winkel ’n redelike bedrag hef vir die gebruik van die goedere gedurende die tyd wat jy dit gehad het, tensy dit goedere is wat gewoonlik deur gebruik verbruik of uitgewis word en dit nie verbruik of uitgewis is nie.

As jy wel ‘n bietjie van die produk gebruik het om te sien of jy daarvan hou, kan die winkel jou nie daarvoor laat betaal nie, maar as jy al heelwat gebruik het, kan die winkel ook ‘n bedrag daarvoor hef.

In enige ander geval kan die winkel jou ’n redelike bedrag laat betaal vir die koste om die goedere te herstel sodat die winkel dit weer kan verkoop, tensy dit, met inagneming van die aard van die goedere en die wyse waarop dit verpak is, vir jou nodig was om die verpakking te vernietig om vas te stel of dit ooreenstem met die beskrywing of voorbeeld wat verskaf is, indien jy dit vooraf kon nagaan nie of indien dit nie geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie.

Omruil van geskenke

Winkels vereis gewoonlik dat jy die kwitansie of faktuur wys wanneer jy iets omruil om te bewys dat jy dit gekoop het, maar jy kry gewoonlik nie die betaalstrokie saam met ‘n geskenk nie. Die meeste groot winkels is egter gewillig om geskenke sonder ‘n strokie om te ruil in die tyd na Kersfees, tensy die geskenk spesiaal vir jou gemaak is.

Hoe jy egter gaan verduidelik waar die aaklige blompot is wat jy gaan omruil het wanneer die skoonfamilie kom kuier, daaroor sê die Wet op Verbruikersbeskerming niks nie…

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor kleinhandelaars wat nie hou by die bepalingsoor omruilings  van die Wet op Verbruikersbeskerming nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.