Diskriminasie teen verbruikers

online-store-1674907_960_720ʼn Gesin is onlangs aan die Wesrand gevra om ʼn kleinhandelwinkel te verlaat omdat die twee kinders slaapklere aangehad het. Mense was woedend daaroor en die kleinhandelaar het later om verskoning gevra en gesê daar is nie so ʼn reël in die winkels nie. Die eerste verbruikersreg wat in die Wet op Verbruikersbeskerming verskans word, handel juis oor beskerming teen diskriminasie. Ina Opperman verduidelik wat die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal en wanneer handelaars wel teen sekere verbruikers mag diskrimineer.

Die ma het vertel hulle het vroegaand gou winkel toe gegaan om brood en melk te koop, toe ʼn werknemer van die winkel hulle gegroet en ʼn stuk papier onder haar neus gedruk het wat aandui kinders mag blykbaar nie in die winkel wees met slaapklere aan nie. Mense wou dadelik weet of die winkel so ʼn reël mag maak en toepas, aangesien die Grondwet mense beskerm teen onbillike diskriminasie.

Wanneer mag handelaars nie diskrimineer nie?

Artikel 8 van die Wet op Verbruikersbeskerming bepaal verskaffers van goedere of dienste mag niemand onbillik van toegang tot goedere of dienste uitsluit of aan enigiemand of groep eksklusiewe toegang tot goedere of dienste verleen nie. Handelaars mag ook nie aan enigiemand voorkeur gee vir die verskaffing van goedere of dienste of goedere of dienste waarvan die gehalte of prys verskil verskaf nie.

Bepaalde gemeenskappe, distrikte, bevolkings- of marksegmente mag ook nie vir die eksklusiewe, prioriteits- of voorkeurverskaffing van goedere of dienste geteiken of uitgesluit word soos bepaal in artikel 9 van die Grondwet of Hoofstuk 2 van die Gelykheidswet nie. In ooreenstemming met hierdie wetgewing mag handelaars ook nie mense direk of indirek anders behandel  wanneer hulle iemand se vermoë om te betaal of die koste van ʼn transaksie beoordeel nie.

Dit geld ook wanneer die handelaar besluit om ʼn kontrak of ooreenkoms te sluit en wanneer hy met die verbruiker onderhandel. Die handelaar mag ook nie teen verbruikers diskrimineer in terme van die Grondwet wanneer goedere vir die verbruiker gekies, voorberei, verpak of afgelewer word, of dienste aan die verbruiker gelewer word nie.

Diskriminasie is ook  nie toelaatbaar wanneer die voorwaardes van ʼn ooreenkoms voorgestel, vasgestel of beoordeel word nie, of wanneer die handelaar sy regte in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming uitoefen nie. Handelaars mag ook nie teen verbruikers diskrimineer wanneer hulle bepaal of ʼn transaksie of ooreenkoms voortgesit, afgedwing of beëindig moet word of wanneer bepaal word of ʼn verbruikers se persoonlike inligting aangemeld moet word nie.

Hierdie bepalings is ook van toepassing op ʼn verbruiker wat ʼn vereniging of regspersoon is, om onbillike diskriminasie daarteen te verbied, gegrond op die karaktertrekke van ʼn natuurlike persoon wat ʼn lid, medewerker, eienaar, bestuurder, werknemer, kliënt of klant is. Die bepalings verhoed egter nie ʼn hof om ander diskriminerende optrede te oorweeg  en te bevind dat die dsikriminasie onbillike diskriminasie is volgens die Grondwet of die Gelykheidswet nie.

Wanneer kan die handelaar wel verskillende verbruikers verskillend behandel?

Artikel 9 van die Wet op Verbruikersbeskerming maak egter voorsiening vir gedifferensieerde behandeling van verbruikers in bepaalde omstandighede. Dit sluit in om te weier om bepaalde goedere of dienste of toegang daartoe aan ʼn minderjarige te verskaf, of om die toestemming van ʼn ouer, voog of ander verantwoordelike volwassene te vereis voordat bepaalde goedere of dienste of toegasng daartoe aan ʼn ongeëmansipeerde minderjarige verskaf word. Kinders kan byvoorbeeld nie in ‘n oord se swembad swem sonder die ouer of voog se toestemming nie.

Handelaars kan weier om sekere  goedere en dienste beskikbaar te stel ooreenkomstig ʼn openbare regulasie of as ʼn redelike voorkomingsmaatreël om die gesondheid, welstand of veiligheid van ʼn minderjarige te beskerm. Dit geld ook om ʼn ooreenkoms vir die verskaffing van goedere of dienste aan ʼn minderjarige aan te  gaan. Drankwinkels laat byvoorbeeld nie kinders in die winkel toe nie en winkels verkoop byvoorbeeld nie drank en sigarette aan kinders nie.

Hierdie artikel bepaal ook dat verskaffers geriewe of dienste permanent of van tyd tot tyd mag aanwys vir die uitsluitlike gebruik van minderjariges in die algemeen, minderjariges wat ouer of jonger is as ʼn bepaalde ouderdom, of wat tussen bepaalde ouderdomme is of volwassenes wat ʼn bepaalde ouderdom van minstens 60 jaar bereik het. Hulle mag ook goedere of dienste teen ʼn afslagprys te adverteer, aanbied of verskaf aan verbruikers wat minderjarig is en nog nie ʼn bepaalde ouderdom bereik het nie of volwassenes is wat minstens 60 jaar oud is. Kleuterskole mag dus net vir kinders van sekere ouderdomme voorsiening maak en ouetehuise kan weier om verblyf te verskaf aan mense jonger as 60.

Verskaffers mag ook in terme van artikel 9 afsonderlike, maar wesenlik dieselfde geriewe vir die uitsluitlike gebruik van mense van elke geslag verskaf, soos aparte toiletgeriewe. Hulle mag ook goedere of dienste bemark op ʼn wyse wat ʼn voorkeur impliseer of uitdruk vir ʼn bepaalde groep verbruikers wat van die algemene bevolking onderskei word op grond van een van die gronde van diskriminasie in die Grondwet uiteengesit, indien dit redelikerwys bedoel of ontwerp is vir die spesifieke behoeftes van die bepaalde groep verbruikers, soos onderklere vir mans of vroue.

ʼn Hof kan egter steeds die redelikheid en billikheid van die verskaffer se gedrag beoordeel.

Kla hier:

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor onbillike en onredelike diskriminasie teen verbruikers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Paul ·

Hoekom gepla wees oor wat die wet daaroor sê?

Moet net nie meer na die winkel met die besimpelde beleid toe gaan nie, en laat weet hulle hard en duidelik wat die rede is. Probleem opgelos. Jy het nie die staat nodig om jou op te pas soos ‘n babatjie nie.

Theresa ·

Hoe oud was die kinders in pajamas. Deesdae sou ek dink niemand behalwe tot op kleuterouderdom loop met pajamas in ‘n winkel in nie.

M A ·

Agt en elf jaar oud, as ek reg onthou. Groot genoeg om te weet dis simpel om in die openbaar met pajamas te loop. Nogtans was die winkel verkeerd.

Jan ·

En as ek nou in my pajama negeuur die oggend by ‘n buiteverkope instrompel en ek sien op die buitkant is daar ‘n kennisgewing wat sê, “slegs persone oor 18”?

See pret ·

Wat kla julle oor die pajamas? Julle is seker nooit in Plettenbergbaai se winkels in Desember nie. Daar loop almal in hul swemklere sonder handoek om lyf. Die kinders in pajamas was netjies. Kry ‘n lewe as kinders pajamas jul pla.

Johann ·

See pret, ek is net bly dat daar nie ‘n ouderdomperk op ‘kyk’ is nie. Hoe verlang ek nou na Plet en Keurbooms, Matjiesrivier. Wie onthou Arch Roc, Cathedral Rock en die grotte daar bo teen die berg. Ek het kleintyd daar geboer, dit soos die palm van my hand geken.

Johann ·

Kom, laat al jul Keurbooms mense van julle hoor. Ons het in die jare 60 -70 die wildernis getem. Daar is flieks op die strand gewys, speletjies gespeel tot laataand op die strand. Wie onthou die bloubankies, daar by die hotel het ons musiek gereel vir danse. Kersfees en Kersvader was ‘n groot okkasie. Ek gaan nou nie van die mense se vanne bekend maak nie, van Bellville omgewing was daar ‘n paar, Kuilsrivier, dit nou van die Kaap se kant. Families het saamgetrek, in houthutte, woonwaens. Hoe voel ek nou die sand tussen die tone, girts-girts….

Daan ·

Die klient bly die baas, die winkel moet aanhou wat die klient soek. So ek dink dit is ‘n baie dom winkel

Alida ·

Ek hoop nie hierdie gaan weer honderde kommentare uitlok nie. Die kinders was nie babas of peuters nie maar amper tieners !!!

Ouvrou ·

Alida jy hoop verkeerd. 8 en 11 is nie tieners nie. Regtig!

Thea Gerber ·

Kommentaar 101. Die betrokke winkel (in ons dorp) is so vuil, jy moet eintlik n oorpak aanhe om daar te koop.

Griet ·

Alida, nee, 8 en 11 IS nog KINDERS. My kinders is toevallig 8 en 11 en sal glad nie dink dit is snaaks om in hul nagklere gou-gou winkel toe te gaan nie – onder dieselfde omstandighede as wat die ma genoem het in die oorspronklike berig. Ek sal dit nie noodwendig goedkeur nie – trek liewer sweetpakbaadjie bo-oor aan. Maar dit bly so: hulle IS nog kinders. Daar is NIKS verkeerd met hulle nagklere nie. Dit was nie reg om hulle die deur te wys nie – dit was vernederend. Ek sal graag die bestuurder/eienaar se geskrewe verskoning hier wil sien.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.