‘Dit is en bly kuns,’ sê tatoeëerkunstenaar

George-Georgiou

George Georgiou, mede-eienaar van Humdinger Tattoo Emporium in Pretoria. Foto: Leonie Bezuidenhout.

Met die opstap teen die trappies na Humdinger Tattoo Emporium hoor ek vir Sixto Rodriguez. And don’t try to enchant me with your manner of dress, because a monkey in silk is a monkey no less, sing hy. ʼn Ontvangsdame met lang, donkerpers hare wys my vriendelik waar die eienaars vir my sit en wag.

Ons skuif ons gemaklik reg op die koue vloer buite die winkel. Kruisbene. ʼn Paar kliënte staan om ons rond. Sigaretrook en kreatiwiteit hang in die lug. In die verte kan ’n mens die tatoeëermasjiene binne die winkel hoor zoem soos ʼn swerm bye.

Agtergrond

Opgewonde trek hulle los sonder dat ek my eerste vraag kan vra. “Die woord ‘humdinger’ beteken iets of iemand wat buitengewoon of enig in sy soort is. Ek het dit oor die radio gehoor toe dit die woord van die dag was op die een of ander program,” vertel Nathan Burton Phillips, mede-eienaar van dié tatoeëerwinkel in Elarduspark, Pretoria. “Ek het toe vir George gebel en gesê ek dink ek het die naam gekry.”

George Georgiou, Nathan se vennoot, gesels innemend saam. “Ons het ʼn plek gesoek wat toeganklik is van die hoofweg af. Ons het uiteindelik die regte plek gekry, maar dit het maande geneem om die plek op die been te kry.”

“Ons kliëntebasis bestaan uit all kinds,” sê Nathan trots en trek sy sigaretrook diep in. Hy lyk of hy eers moet nadink daaroor. “Dis regtig van mense wat hul eerste tatoeëermerk by ons kom kry tot mense wat tatoeëermerke versamel; grootkoppe by banke, loodgieters, prokureurs. Dis almal mense wat lief is vir kuns.”

Kreatiewe omgewing

Ek verkyk my aan die dekor in die winkel. Die mure drup van die skilderye en tekeninge; sommige geraam, ander nie. Strooikussings in die vorm van tande lê op die leerrusbanke. ʼn Opgestopte rooikat met oorfone aan in die hoek van die vertrek hou ʼn oog oor die ritse toekennings wat uitgestal word. Aardbolle, swaar antieke meubels en rustige rock ʼn roll-musiek trek jou in. Skielik maak die suising van die tatoeëermasjiene my nie meer so bang nie.

“Ons het lang en harde ure gewerk aan die winkel,” vertel Nathan verder. “Ons het vier weke aaneen gewerk om net die binnekant van die winkel te kry soos dit is.”

George knik sy kop instemmend en vertel: “Ons het ʼn week lank by die winkel geslaap in die aande – ons vroue het ons nie eens gesien nie. Vandat ons besluit het ons wil die winkel oopmaak, het ons begin rondkyk vir meubels en dekor. Die rusbanke in die ontvangsdeel is van die enigste goed waarvoor ons betaal het, naamlik om dit vir ons te laat oortrek. Sekere kunssoorte los jy vir sekere kunstenaars,” lag hy.

Daar is vier kunstenaars wat heeltyds by Humdinger werk. Met die versiering van die winkel het hulle besluit om nie afskortings tussen die kunstenaars op te rig soos in ander winkels nie. “Ons hou daarvan dat daar wisselwerking is tussen ons en ons kliënte. Ons kliënte is tot dusver op hul gemak daarmee. Van die braafste kliënte lê selfs en slaap.”

“As iemand ʼn tatoeëermerk op ʼn ongemaklike plek wil hê, en glo my dit gebeur so nou en dan,” skaterlag George uit sy maag, “het ons iets wat ons kan opsit.”

“Ek dink die soort mense wat ons is, het maar die gevoel van die winkel bepaal – so op ʼn organiese manier,” sê George. Hy vryf oor die inkspatsels op sy broek. “In ons winkel speel ons nie jou tipiese ‘heavy metal’-musiek nie. Ons lol ook nie met die kliniese teëlvloere wat sommige mense kan intimideer nie. Ons is in die bedryf vir die kuns; daar is geen ego betrokke by dit wat ons doen nie.”

Nathan beaam die stelling ernstig. “Daar is nie tyd vir so iets nie.”

Toekennings

“Ons het aanvanklik aan die Cool Inc Tattoo Convention by die Voortrekkermonument deelgeneem om kliënte vir ons nuwelinge, Josh en Skippy, te kry,” vertel George.

“Ons het toe almal pryse huis toe gebring. Dit was baie goed vir ons én vir die winkel. Daar is nie so baie winkels wat deelneem nie, maar baie onafhanklike kunstenaars. Ek het die toekenning vir ‘Artist of the Convention’ gewen,” vertel hy selfversekerd. “Almal is huis toe met ʼn handvol.”

Hoe word ek ʼn tatoeëerkunstenaar?

George stel voor dat voornemende kunstenaars ’n portfolio met tekeninge bymekaar moet sit. “Teken só dat die kunstenaar wat jy as jou mentor wil hê, jou nie kan wegwys nie. Ontwikkel jou eie styl en wees voorbereid om baie hard te werk. ʼn Passie vir die bedryf help natuurlik ook. Jy kan nie na televisieprogramme oor tatoeëerkunstenaars kyk en besluit dit lyk na ʼn lekker leefstyl nie.”

Nathan gee ook graag raad. “As jy net begin, is dit beter om ʼn skets volledig te teken en reeds met die kleure te speel voordat jy iemand nader om daardie stuk op hom of haar te oefen. En nee, die rou varkvleis is nie ʼn mite nie; ek het nog twee van myne in my ouma se vrieskas. Ek het my eerste tatoeëermerk op ʼn lekker stuk varkpens gedoen,” lag hy.

“Dit is en bly kuns, op die ou end,” sê Nathan.

“En foute is nie regtig foute nie, behalwe as jy oor die lyne inkleur,” beaam George.

“Ja, maar dit moes jy al in graad twee reggekry het,” lag Nathan en die twee gesels en lag eers vir ʼn oomblik oor ʼn voorval by die winkel.

Tatoeëermerke vir beginners

“As jy nog nie een het nie en jy wil een kry, doen jou navorsing goed. Kyk mooi na die kunstenaar se portfolio en moenie haastig wees nie,” sê Nathan. “Mense is geneig om baie vinnig tatoeëermerke te laat doen, want dis nou ʼn ‘in-die-oomblik-ding’, maar dit moenie so wees nie. Dis belangrik om seker te wees die kunstenaar wat jy kies, gaan die tyd afstaan om vir jou ʼn tatoeëermerk van topgehalte te gee.”

“Moet ook nie te veel oor die prys dink nie. Mense bestee soveel geld aan klere en karre, maar wanneer dit kom by iets wat vir altyd op hul liggame gaan wees, wil hulle skielik weet of hulle kan afslag kry,” voeg George by.

“George sê altyd dit vat net ʼn sekere hoeveelheid tyd om die perfekte lyn te trek; om die perfekte skadu en kleur in te sit. Dit kan nie langer vat nie en dit kan ook nie vinniger wees nie. As jy dit enigsins anders doen, gaan jou resultaat ʼn gemors wees,” sê Nathan.

Gevare en tatoeëermerke

“In die tattoo game is daar plek vir almal. Ek dink party mense benader die oopmaak van ʼn winkel verkeerd. As jy die dryfveer het om dit te doen, gaan leer by iemand om dit te doen en wel by ʼn goeie winkel met ʼn goeie naam,” sê George.

“Daar is kunstenaars wat ʼn tatoeëermasjien as winskoop op ʼn uitverkoping koop en sy ma het dalk vir hom gesê hy kan mooi teken,” waarsku Nathan. “Van hulle kom na jou huis toe om die werk op jou lyf te doen. Dit gebeur soms dat hulle vergeet om ʼn naald saam te bring. Hulle gooi dan sommer ʼn gebruikte een in kookwater. Mense val daarvoor, want dit is goedkoop en hulle weet nie van beter nie, maar dit is baie onhigiënies en maak dit ongelooflik gevaarlik.”

“Ons probeer ʼn standaardstel vir ons kliënte, ander kunstenaars en winkels. Al ons produkte is van ʼn goeie gehalte en is absoluut skoon en gesteriliseer,” sê Nathan.

“Ons maak baie mense, wat sonder die nodige navorsing reeds na ʼn kunstenaar gegaan het, se tatoeëermerke reg. Hulle het nie die gehalte gekry wat hulle moes nie. Ons gee nie om om dit te doen nie, maar ons sou verkies om die stuk van die begin af op vars vel te doen,” sê Nathan. “Jy kan nie regtig ʼn ou tatoeëermerk toemaak nie, jy kamoefleer dit eintlik.”

“Dit is ook baie duurder en seerder om jou tatoeëermerke te laat verwyder met ’n laserstraal as om net ʼn ordentlike een van die begin af te laat doen,” vertel George. “Laserstrale voel blykbaar amper soos ʼn sigaretstompie wat aanhoudend teen jou vel gedruk word,” sê George en skud sy kop.

“As jy tussen die ouderdom van 16 en 18 is, moet jou ouers saam met jou kom en ʼn vrywaringsvorm teken. Jy kan ook nou nie van Oppikoppi af kom en besluit jy wil ʼn tatoeëermerk kry nie. Jy mors jou geld as jy gedrink het of dronk is, want jy bloei soveel meer,” sê George ernstig. “Daar is mense wat van nature baie bloei, en ons stuur daardie mense huis toe en stel voor hulle drink ʼn ysteraanvulling om die bloed dikker te maak. Dit werk gewoonlik soos ʼn bom en die resultaat is fantasties,” sê hy.

“Dit het al by ʼn vorige plek waar ek gewerk het met my gebeur dat ʼn jong meisie ʼn man saam met haar gebring het wat toe nie haar pa was nie,” vertel Nathan eerlik. “Haar regte pa het groot moeilikheid gemaak, wat verstaanbaar is. Daarom maak ons nou doodseker dat al die papierwerk reg is om onsself en ons kliënte te beskerm.”

“Een van die oudste mense wat al hier was vir ʼn tatoeëermerk was 86 jaar oud. Ek het vir haar ʼn skoenlapper gedoen, maar met haar papierdun vel het die skoenlapper toe eintlik in ʼn loperige kol verander,” skerts Nathan. Hy bly so ’n rukkie stil en glimlag effens. “Shame.”

Volg die winkel gerus op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos ·

Dit is sowaar wat George en Nathan sê oor die regte artist. Ek het twee jaar gesoek en gekyk na baie artist en tog elke keer het ek terug gegaan na George se werk toe. George is ‘n briljante artist, wel beide hy en Nathan.

George is juis besig met kunswerk op my. Wonder of dit ek is van wie hy gepraat het slaap in die sessies. Al wat ek kan sê is die atmosfeer en die gees by Humdinger is awesome. Jy sal op geen ander plek so gemaklik voel nie.

Goerge, Nathan – you guys ROCK!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.