Dít is taboe!

skok-taboe-hand-voor-mond-wag-swart

Foto: Andre Guerra/Unsplash.com

Ons loop mekaar toevallig in die supermark raak.

“My mens! Ek hoor jy was ʼn tyd gelede in die hospitaal? Was jy siek?” sê sy en sit haar hand op my skouer terwyl sy besorgd nader staan. Haar oë is ondersoekend en sy beloer my vinnig op en af. Soek seker die kwaal.

“Ja, my bipolêr het my ongelukkig weer siek gemaak en ek moes in die hospitaal gemonitor word terwyl hulle my medikasie verander het.”

Haar hand val van my skouer af en sy aarsel terwyl haar oë myne skielik vermy.

“Is jý bipolêr? Jy het dan nog nooit depressief gelyk nie?” sê-vra sy half aan haarself en begin dan amper te vinnig verder praat. “Weet jy, my tannie het depressie gehad en op die ou einde het die medisyne dit net erger gemaak. Sedert sy dit gelos het, gaan dit baie beter met haar. Ons het net nou die dag by ons Bybelstudie ook gesels oor hoe mense van medikasie afhanklik raak as die lewe moeilik gaan. Ek moet onthou om haar nommer vir jou te stuur, dan gesels julle bietjie. Ek is seker sy sal vir jou goeie raad hê. Maar jy lyk vir my so goed! Die dokters diagnoseer deesdae elke tweede mens met depressie en ek moet jou eerlik sê dat ék jou nog nooit só ervaar het nie.”

Sy sit haar hande op haar trollie en sluit die gesprek vinnig af terwyl sy sommer begin wegstap. “Ag dit was lekker om jou raak te loop en ek is só bly jy is nou weer gesond, hoor! Ek sal in elk geval dat ons Bybelstudiegroepie vir jou bid dat die duiwel jou nou bietjie uitlos. Lekker dag!”

Ek bly nog ʼn paar sekondes langs die tamatiesous-rak staan en stap toe sommer betaalpunt toe. Die res van die goed moet maar op ʼn ander dag gekoop word.

Ek is nie kwaad nie. Nie hartseer nie. Net teleurgesteld.

Indien daar tien mense saam in ʼn vertrek is en een van hulle maak hul “status” as Wipplankryer bekend, is die kans goed dat die persoon met drie veralgemenings, vier kitskure en twee of drie jou-geloof-skiet-tekort-opmerkings gekonfronteer gaan word. Geen wonder die meeste van ons het die kuns om oukei te lyk, al vervolmaak nie.

Danksy tegnologie, het ons die wêreld se kennis op ons vingerpunte. En danksy sosiale media het ons ʼn platform waar inligting vrylik gedeel en bespreek kan word. Maar, net omdat jy kán kommentaar lewer, beteken nie mens behoort altyd kommentaar te lewer nie. Jy verklap dalk net jou oningeligtheid. Daar is dinge wat eenvoudig taboe is. Sêgoed en vrae wat ongesê en ongevra hoort en moet bly.

Het takt en goeie maniere dan uit die mode geraak?

Daar is ʼn klomp slaggate waarin mense (wat met goeie bedoelings kommentaar lewer) dikwels beland. Lees hier en moenie weer in die gate trap nie.

  1. Van lotjie getik. Al die varkies is nie op hok nie. Kranksinnig. Versteurd. Mal.

Selfs al is iemand sigbaar onwel, is dit net so ongepas om so iemand met hierdie woorde te beskryf (of selfs net so aan of van iemand te dink!) as wat jy iemand wat aan kanker ly, ʼn kaalkop noem.

 Onthou, ʼn gemoedsversteuring is meermale onsigbaar. ʼn Wipplankryer sal dikwels ekstra moeite doen om oukei te lyk. Hulle is dalk nie gereed om die gat waarin hulle hulself bevind, te konfronteer nie en wil ook nie daaroor gekonfronteer word nie. Indien ʼn Wipplankryer die moed het om die ware stand van sy/haar gemoed met jou te deel, moet jy besef dit is reeds vir die persoon ʼn groot stap. Dink mooi wat jy sê sodat jy die persoon nie in sy/haar dop terugjaag nie. Jou onvoorwaardelike aanvaarding kan die persoon dalk die moed gee om die nodige hulp te kry, óf om met minder vrees vir verwerping oor hul siekte te praat.

  1. Ek sien jy voel bietjie “af”. Toemaar, môre lyk dit weer beter!

Alle mense ervaar gemoedskommelings. Hulle het beter en slegter dae. ʼn Gemoedsversteuring het egter ongetwyfeld ʼn onderliggende genetiese element wat ʼn chemiese wanbalans veroorsaak in die gedeelte van die brein wat die gemoed reguleer. Dit is nie ʼn “af” dag of week of maand nie. Dit is ʼn permanente toestand. Die simptome is permanent. Chronies moeg. Chronies angstig. Chronies geneig tot “af”-dae. “Môre” kan net beter lyk as jy die regte medikasie neem.

Medikasie is noodsaaklik om die chemiese balans in die brein te herstel sodat gemoedskommelings genormaliseer kan word. By sommige gemoedversteurings, soos post-traumatiese stresversteuring (PTSV), kan daar selfs strukturele veranderinge in die brein opgemerk word. Moet dus nooit ʼn persoon met ʼn gemoedsversteuring aanmoedig om die medikasie wat deur ʼn mediese dokter voorgeskryf is, te staak nie. Dit kan inderdaad lewensgevaarlik wees. Moet ook nie die simptome afmaak nie. Jy wil die persoon tog nie moedeloser maak deur hom of haar te laat voel hulle is swakkelinge nie.

  1. Jy moet oppas! Mens raak verslaaf aan al daardie medikasie!

Nee. Chroniese behandeling vir ʼn gemoedsversteuring is nie ʼn verslawing nie.

Die verskil tussen ʼn substansverslawing en ʼn antidepressant is dat ʼn antidepressant gebruik word om breinstowwe oor ʼn lang tyd stabiel te hou met die gevolg dat die persoon se emosies stabiliseer. ʼn Verslawende middel veroorsaak juis chaos en wanbalans! Indien depressiemedikasie skielik gestaak word, is die slegvoel wat daarmee gepaard gaan nié onttrekkingsimptome nie, maar eerder die chemiese wanbalans wat skielik weer intree.

Maar wat sê ek dan vir ʼn Wipplankryer, wonder jy dalk nou. Dalk bloot: “Ek het nie geweet nie. Ek hoop dit gaan nou beter en dat die dokters jou met die regte behandeling help”. Sit dan die gesprek op ʼn ander vlak voort. “Hoe gaan dit by die werk?” As jy iets móét byvoeg kan jy volstaan by: “Ek weet nie waardeur jy gaan nie, maar laat weet as ek jou met iets kan ondersteun.”

Sit daardie wag voor jou mond! So hou jy dalk ʼn Wipplankryer langer gesond!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet Snot

Dís nou ‘n sinvolle artikel. Ek het vandag weer iets geleer.
Dankie, Moira.

christa

ek is een van daardie mense wat nie aan depressie glo nie. Stres ja, maar ek gaan sit en dink oor die saak, bid oor die saak en my Jesus het my noh nooit gelos met my probleme nie. Ek glo ook die satan sal alles in sy vermoee doen om ‘n skeiding tussen jou en jou Meester te bewerkstellig. Ek is al in die 70 en werk nog uit en tuis is ek net so besig. Saans lees ek tot hoe laat en as ek nie kan slaap nie, bid ek en sien daar die duiwel laat my eerder… Lees meer »

Kosie

Fantastiese artikel, dankie! Om aan te sluit by punt 2 – moet ook nie vir mense vra “nou maar wat is dit wat jou so depresief maak?” of “om beter te voel is ‘n keuse” nie. ‘n Gemoedsversteuring is ‘n chemiese wanbalans, ek wens meer mense wil dit besef.

Ingrid

So lekker en insiggewend om jou artikels te lees, dankie.

AW

So….. ekke is Dankbaar dat ekke hierdie artikel gelees het, en JA daar is BAIE mense wat ander met Die Bybel Slaan ……. om te dink ….Ek het my self skuldig gemaak aan sulke Dinge…. Tot n Dag toe alles in my lewe verander het…. in n oogwink…. en van daardie dag af….
Kyk ek en Sien ek en Verstaan ek Dinge net Anderste….

Kennis
Wysheid
Insig