Dít moet jy weet voor jy ’n verloofring koop

(Foto: Lorean Jewellery Design)

Trou is nie perdekoop nie, en om die regte trou- of verloofring vir jou maat te kies is nét so moeilik.

Maroela Media het gaan aanklop by Lorean Britz van Lorean Jewellery Design om te hoor waarvoor mens moet uitkyk voor jy ʼn trou- of verloofring koop.

“Dis belangrik om ʼn goeie idee te hê van die ringstyl en die tipe edelsteen wat jou aanstaande verloofde verkies. Die ring se ontwerp moet gemaklik en prakties wees, so leefstyl en alledaagse aktiwiteite moet in ag geneem word,” het Britz gesê.

“Doen bietjie navorsing oor pryse sodat jy ’n realistiese begroting kan beraam, veral as jy na diamant-opsies kyk. Die beste manier vorentoe is om jou begroting vooraf met jou juwelier te bespreek sodat hulle die beste, gepaste edelstene kan soek en ontwerpvoorstelle kan maak rondom jou idees.”

Britz stel voor die persoon wat die vra-werk gaan doen, by nabye vriende of familie aanklop en hoor of hulle dalk ʼn goeie idee het waarvan hul aanstaande sal hou.

“Die meeste kliënte het ’n goeie idee wat hulle ander helfte se persoonlike smaak is, maar indien jy onseker is, is dit ’n goeie idee om ’n vriendin of sussie se raad te vra rakende die ontwerp. Die ontwerp moet haar persoonlikheid en styl reflekteer. Vind ook uit van watter metaal of goudkleur sy hou, en of sy wel van diamante hou en of sy ’n spesifieke edelsteen verkies.”

(Foto: Lorean Jewellery Design)

Die aanstaande sal ook heel waarskynlik ʼn bord op Pinterest hê waarop sy idees en ontwerpe stoor waarvan sy hou.

Britz het gesê deesdae kom baie paartjies saam na die eerste paar konsultasies toe, maar hou hulle tog die eindproduk ʼn geheim.

“Baie paartjies kom sien ons aanvanklik saam om die voorlopige ontwerp te kies, wat fantasties werk. Die ring word tot op ʼn punt saam bespreek en daarna bly die finale ring ʼn verrassing. Sy weet dat sy gelukkig gaan wees met die ontwerp, maar daar is nog steeds die verrassingselement van hoe en wanneer die groot vraag gevra gaan word,” het hy gesê.

Onthou ook om die aanstaande se vingergrootte vooraf uit te vind, indien die verlowing heeltemal ʼn verrassing gaan wees. Jy kan dit doen deur ʼn ring saam te neem wat sy dalk reeds op ʼn soortgelyke vinger dra.

(Foto: Lorean Jewellery Design)

Britz meen dat eenvoudige troupande, wat die verloofring komplementeer nog steeds gewild is, maar dat ander, nuwer idees ook besig is om ʼn gier te raak.

“Ons sien al meer dames verkies om die troupand na die troue op die ander hand of op ’n ander vinger te dra. Dis ook lekker om ’n eenvoudige troupand te dra op die dae wat jy aktief is, met jou hande werk of as jy nie noodwendig jou verloofring kan dra nie.”

Paartjies verkies ook gereeld om iets aan die binnekant van die troupand te laat graveer, maar hierdie detail is gewoonlik ’n verrassing vir die troudag en is altyd iets persoonlik wat die paartjie met mekaar deel.

‘n Verloofring met ‘n maroela-blaar aan die binnekant gegraveer (Foto: Lorean Jewellery Design)

“Een paartjie het onder ’n maroelaboom getrou,” het Britz vertel. “Die bruid het gevra dat ons ʼn maroela‑blaar aan die binnekant van haar verloofde se troupand laat graveer as ’n verrassing. Hierdie klein detail was so spesiaal en oorspronklik,” het hy gesê.

Britz het gesê hulle skep deesdae ook baie mansringe met verskillende teksture en unieke afwerkings, veral in goud. “’n Eenvoudige blink of brushed pant vir mans is ook gewild en altyd tydloos,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.