Doen nou aansoek om te baat by Kosblikkieprojek

Die ideale kosblikkie saam gestel vir optimale voeding. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Solidariteit Helpende Hand se kleutervoedingsprojek, die Kosblikkieprojek, se aansoeke vir 2018 sluit op 16 Maart. Helpende Hand het alle kleuterskole wat voldoen aan die vereistes aangemoedig om voor Vrydag aansoek te doen.

Sedert 2009 voorsien die Kosblikkieprojek behoeftige kleuters daagliks van ʼn gebalanseerde bord kos. Die kosblik dien as simbool van hoop vir meer as 70 geregistreerde kleuterskole. In 2017 het meer as 5 200 kleuters daagliks met ’n vol magie huis toe gegaan danksy die projek.

Volgens Margolé Riekert, projekorganiseerder by Helpende Hand, is voeding op hierdie lewenstadium van kinders van die uiterste belang om optimaal te konsentreer, funksioneer en te speel.

“Ongelukkig het ons gevind dat vir baie van hierdie kleuters dit ook die enigste maaltyd is wat hulle die dag ontvang. Empiriese navorsing die afgelope paar jaar toon dat kleuters wat voeding by die skool ontvang, gedurende Desember-vakansies tot 5% van hul liggaamsmassa weens onvoldoende voeding tuis verloor,” sê Riekert.

Skole wat deel vorm van die projek ontvang pro rata voeding in die vorm van inkopiebewyse om die nodige produkte vir die skole aan te koop. Skole maak gebruik van hierdie produkte in hul daaglikse spyskaart om te sorg dat die kleuters minstens een gekookte bord kos per dag kry.

Die hulp van dieetkundiges is ingeroep om ’n voorbeeldspyskaart van ’n gebalanseerde dieet vir skole op te stel. Die deelnemende skole word volgens streng kriteria gekeur, en deurlopende evaluering van aankope en besoeke wat gereeld afgelê word verseker dat die kinders gevoed word.

Aansoeke vir 2018 is nou oop en word aanlyn voltooi op die webtuiste: www.kosblikkie.co.za.

Hoe kan jy help?

  • Word ’n Helpende Hand Ondersteuner – vir die klein bedrag van R50 per maand word soveel geleenthede geskep.
  • Borg ʼn bord kos vir ʼn behoeftige kleuter wat deel vorm van die Kosblikkieprojek.
  • SMS die woord “bord” na 38969 en dra R10 by tot ’n bord kos vir ʼn behoeftige kleuter.
  • Maak ʼn skenking tot Helpende Hand se Kosblikkieprojek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Klein Jane ·

Lank terug, in my tyd van nood, het ander my gehelp, dus help ek ook graag ander

Patriot ·

Waar kan ons as publiek `n lys kry van die skole wat reeds gehelp word ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.