Doen oefeninge dié winter tuis

(Foto: Pixabay)

Die koue sluip nader en dit is vir niemand maklik om op ’n wintersoggend vroeg op te staan en oefeninge te doen nie. Wat nog te sê van gimnasium toe gaan ná werk terwyl jy eintlik net so vinnig as moontlik in jou stort en onder ’n warm kombers wil inspring!

Gelukkig laat tegnologie ons deesdae toe om oefeninge vinnig en maklik in die gemak van jou eie huis te doen, en dít sonder enige toerusting! Daar is hordes apps wat verniet beskikbaar is op jou selfoon, jy kan dan sommer self kies hoe lank en watter intensiteit jou oefensessie moet wees.

Maroela Media het gaan kyk wat Playstore se tien gewildste gratis oefening-apps is, om oefening vir jou selfs nóg makliker te maak in die koue seisoen wat kom!

Hier is die tien beste gratis apps van Playstore:

  1. Home Workout – Abs & Butt Fitness

Dié app is spesifiek op vroue gemik en fokus op die maag- en heup-area. Geen toerusting is nodig nie en daaglikse planne word vir die gebruiker opgestel.

  1. Home Workout 6 Pack Abs Fitness

Hierdie app sorg vir verskillende vlakke van fiksheid. Jy kan kies of jy ’n beginner, intermediêr of gevorderd is. Jou vordering word ook opgeneem om jou te help.

  1. Home Workout – No Equipment

Dié app is gefokus op liggaamsbou. Geen toerusting is nodig nie en jy kan dit maklik by die huis doen. Opwarm en strekoefeninge is ook ingesluit.

  1. Six Pack in 30 Days

(Foto: Pixabay)

Hierdie app werk op ’n program van 30 dae. Intensiteit van oefening word stadig maar seker vermeerder. Dit is geskik vir mans en vroue.

  1. Buttocks Workout – Hips, Legs and Butt Workout

Met hierdie app sal jy elke dag verskillende oefeninge kry, met intensiteit wat stelselmatig vermeerder. Daar word rekening gehou van die hoeveelheid kalorieë wat jy verbrand en van gewig wat afgeskud word. Geen toerusting is nodig nie.

  1. Strava: Track Running, Cycling and Swimming with GPS

Strava help jou om afstand te meet wanneer jy gaan draf, fietsry of swem. Dit wys ook jou roete. Doelwitte kan gestel word wat jou voorberei vir ’n marathon, driekamp of iets soortgelyk.

  1. Abs Workout -HIIT Tabata

Verskillende uitdagings kan met dié app aangepak word. Dit sluit in hoë-intensiteit oefeninge, Tabata-oefeninge of gewone maagspieroefeninge. Video’s op die app dien as hulpbron om seker te maak jy doen die oefeninge reg.

  1. Lose Weight in 30 Days

Die app help jou om tred te hou met jou gewigsverlies, kalorieë en oefensessies. ’n Lae kalorie- dieet word ook verskaf.

  1. 8fit Workouts & Meal Planner

Die app verskaf’n dieetplan met ’n inkopielys wat daarmee saam gaan. Oefeninge is opgestel om jou uit te daag en om jou fiksheid te laat toeneem. Meer as 350 oefeninge is beskikbaar en dit is geskik vir enige vlak van fiksheid.

  1. Arm Workout – Biceps Exercise

Hierdie app is op mans gefokus wat hul arms meer gespierd en groter wil maak. Dit werk op ’n 30 dae lange program en oefeninge werk met liggaamsgewig. Opwarming en strekoefeninge is ingesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Ek hoop nie hulle verwag dat mens die oefeninge sonder ‘n kombers of baadjie moet doen nie. Dit gaan nogal erg ongerieflik wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.