Domino’s en ABI skenk 22 000 ℓ gebottelde water

Domino's pizza deel gebottelde water uit. Foto: Verskaf

Domino’s pizza deel gebottelde water uit. Foto: Verskaf

Die pizza-afleweringsrestaurant Domino’s en Amalgamated Beverage Industries (ABI) het onlangs meer as 1 200 houers gebottelde water na droogtegeteisterde gebiede vervoer.

Die totale inhoud van dié skenking is na raming 22 000 ℓ water.

Bronwyn Oliveira, handelsmerkbestuurder van Domino’s pizza, het gesê dit is vir dié maatskappy belangrik om die gemeenskap te ondersteun. “ʼn Sakeonderneming is net so sterk soos die gemeenskap wat hy bedien. Wanneer dit met die gemeenskap sleg gaan, gaan dit met ons ook sleg. Ons het besluit om betrokke te raak omdat ons ʼn organisasie is wat omgee en omdat ons die gemeenskappe wil ondersteun wat ons daagliks ondersteun,” het Oliveira gesê.

Die water is geskenk aan die gemeenskappe van Rooigrond in Mahikeng en Brandfort in die Vrystaat. “Ons het die water in verskeie gemeenskappe in die dorpe probeer versprei. Die nie-winsgewende organisasie Rescue Angels het ook hulp verleen en water versprei aan Hospice-pasiënte in die omgewing en hul huise.”

Oliveira sê ʼn onlangse onderhoud op Cape Talk het die Taste Holdings-groep bewus gemaak van die groot behoefte vir water in dié gemeenskappe. “Ons het ook kontak gehad met die mense van die groep Water Shortage South Africa op Facebook. Hulle doen baie moeite om uit te vind waar waterskaarste gemeenskappe die ergste ruk. Ons het toe besluit om aan dié gemeenskappe hulp te verleen omdat hulle geen drinkwater het nie.”

Sy sê daar is ook ander planne om die gemeenskap by te staan. “Ons is daartoe verbind om ʼn helpende hand te verleen aan die gemeenskappe wat ons bedien en wat ons ondersteun. Dit strek verder as waterskenkings. Ons ondersteun ook brandbestryders en ander organisasies wat baie vir die gemeenskap doen.”

Oliveira sê hoewel dié geringe skenking nie aan die groter prentjie ʼn verskil maak nie, beteken dit iets in die lewe van ʼn paar mense. “Ons hoop dit bring verligting aan families sodat hulle net die basiese behoefte van skoon drinkwater het en dalk water om in te bad. Dit eindig egter nie hier nie want dit is noodsaaklik vir almal om steeds betrokke te raak. Die waterkwessie is nie opgelos omdat ons nou minder daarvan lees nie.”

Besoek Water Shortage South Africa se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Noutoenou? ·

Pragtig Domino en Coca-Cola (ABI)! Mens koop deesdae Oasiswter teen R1,20 per liter. Chemiesbehandelde sogenaamde suiwer water van ABI kos so R3-00 per liter in die kleinhandel. gesien die wisngrens van die kleinhandelaar kos dit groothandel hoogstens R2-00 per liter by ABI. Wat ‘n geweldige skenking! ABI gee jouwerklikwaar R44000-00 vir dorstiges en Domino versprei dit deur sy takke en werf so klandisie vir sy etes. Albei skryf dit vir belastingdoeleindes as reklame af. En die media gee gratis reklame aan hulle welsynsdaad. Dit geld ook vir ABSA en Standardbank se paar miljoenetjies om ‘n politiekgedrewe aksie aan die gang te sit teneinde die inslag van die spontane vakansieganger-watervervoerders teen te werk. Die Centurion Christelike Laerskool (minder as 100 leerlinge) se 5 818 liter vir Senekal spreek net so sterk as die weduwee se twee geldstukkies en die seenspraak van onse Here Jesus Christus daarop (Markus 12:41-44). Om wins te soek (soos in die gelykenis van die talente) is goed; om egter die swaar van ander mense daartoe te misbruik is ‘n ander saak. Die spontane ontstaan en sukses van die vakansiegangerwaterveldtog, die talle meestal onopgemerkte soms gratis voertoevoere na veeboere, verskeie ander onderlinge ondersteuningskemas gee die gevoel dat iets goeds uit die doogte ontwaak het. Mag dit die voorspel tot geestelike herlewing wees, ten goede vir land en volk.

François ·

Iets wat my pla rondom die droogte geteisterde gebiede is dat soveel word gedoen met veevoer & water skenkings, maar nêrens sien ek ‘n aanduiding van ‘n ‘Dankie’ uit daardie dele nie! Aanvaar daardie mense dit as vanselfsprekend?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.