Dowe vrou deel Woordfees-ervaring

Stephanie Lotz en haar gesin. Foto: Verskaf

Stephanie Lotz en haar gesin. Foto: Verskaf

Stephanie Lotz, die dowe ondervoorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee, sê haar onlangse bywoning van die US Woordfees het haar honger gelaat vir meer en die behoefte van die dowe en doofblinde-gemeenskappe om inklusief te wees weer na vore gebring.

Lotz, wat doof gebore is, het in ʼn huishouding grootgeword waar niemand op klank staatgemaak het nie. Beide haar ouers is ook doof. Hul kinders is die eerste van die vierde generasie wat nie doof is nie, aangesien haar man ook doof is.

Sy het vertel sy is tans op ʼn missie saam met die minister van sport en kulturele sake, Anroux Marais, om erkenning aan Suid-Afrikaanse gebaretaal te gee in die Wes-Kaap.

Lotz sê sy het onlangs die geleentheid gehad om die US Woordfees by te woon op uitnodiging van Sigbare Afrikaans. Dié organisasie het ʼn gebaretaaltolk gereël vir haar bywoning, aangesien die fees nie toeganklik is vir dowe mense nie.

“Ek het die geleentheid gehad om die oggendfunksie en die toneelstuk Die Dag is Bros te geniet deur middel van die gebaretaaltolk. Dit het my egter met ʼn honger vir meer gelaat. Ek sou graag ander dowe mense en doofblindes wou genooi het om ook die toneelstuk te kom geniet.”

Lotz sê dit lê haar baie na aan die hart om mense met gebreke te betrek, veral by feeste soos die US Woordfees. “Dit is ʼn vooruitstrewende en ʼn noodsaaklike doel om die dowe en die doofblinde gemeenskappe by feeste soos hierdie te betrek. Daar is ʼn groot behoefte in die gemeenskap om inklusief te wees en om die lewe te geniet met gebaretaaltolke wat dié hindernis meer draaglik maak,” het sy gesê.

Sy sê hoewel dit ʼn uitdaging is om die dowe en doofblinde gemeenskap by feeste te betrek, is dit nie onmoontlik nie. “Dis makliker om ʼn fisieke gestremde in ʼn rolstoel te akkommodeer deur opritte op te stel. Gebaretaaltolke moet egter beskikbaar gestel word aan die dowe en doofblindes, wat meer uitdagend is maar glad nie onmoontlik nie.”

Lotz vertel sy is in 2015 deur die feesgogga gebyt toe sy Innibos bygewoon het. “Ek was verlede jaar by die Innibos-fees en die vibrasies van klanke by die afskopkonsert was onbeskryflik. Dit het my week gemaak en my behoefte om betrek te word by sulke feeste versterk.”

Sy vertel die bywoning van die toneelstuk was ʼn hoogtepunt van die fees. “Dit was wonderlik om deel te wees van die viering van die Afrikaanse taal. Ek was ook bevoorreg om aan mense soos Karen Meiring van kykNET voorgestel te word en om tuis te voel in die Afrikaanse gemeenskap met ʼn gebaretaaltolk aan my sy.”

“Ek was by die oggendfunksie by Die dag is Bro-toneelstuk wat getolk is deur Marsanne Selzer van Jazz Hands. Sy het die hele toneelstuk so verstommend getolk dat ek byna my trane moes wegsluk aan die einde van die toneel. Sulke tolke kry jy nie maklik nie en di lê my na aan die hart om te beklemtoon hoe belangrik dit is om die verskil te ken tussen ʼn “gewone” gebaretaaltolk en ʼn gebaretaal tolk wat in teater spesialiseer.”

Lotz sê sy hoop dat dinge binnekort by feeste sal verander. “Ek sal graag die hele fees en ander toneelstukke daarin wil bywoon as hulle gebaretaaltolke kan verskaf. Ek wens die KKNK, Suidoosterfees en paar ander Afrikaanse feeste sal ook oorweeg om hul deure vir ons oop te maak.”

Sy vertel sy wil graag gebaretaalstudie opneem om ook vir ander iets positief te beteken. “Mense moet onthou dat hulle steeds mens is, met of sonder gebreke. Niks sal jou omstandighede verander nie tensy jy nie iets daaraan doen nie. As daar nie ʼn weg is nie is, daar ʼn ompad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Evert Burger ·

Dankie vir jou stem in die media Stephanie Lotz. Ek staan agter jou met jou mening dat Feeste meer toeganklik moet wees vir Dowes. Ons Dowes hou mos daarvan om saam te kuier en sosiaal te verkeer. Hierdie feeste sal ons werelde verbreed en ‘n gevoel gee van ons ook deel van ons land se Afrikaanse taal en kultuur is. Feeste kan ook help om die brug bou tussen die Horende- en Dowe kultuur. (LW. Daar is ook Dowes wat Engels gebruik as hul lees en skryf taal, maar met die regte tolke… kan “Afrikaanse en Engelse Dowes” deel wees van enige taal wat aangebied word). Dankie dus aan elke Gebaretaal gekwalifiseerde- / professionele- ons selfs net CODAS (Children of Deaf Adults)-tolke wat help om die brug te bou tussen die Dowe en Horende kultuur. Ons kulture mag verskil, maar ons is steeds Suid-Afrikaners. Ons is trots daarop. Dankie Maroelamedia!
Meer oor Dowes: doofbewus.wordpress.com

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.