Drie vroue met ʼn hart

Orgaanskenking is ʼn ingryping in ʼn mens se lewe. Drie vroue wat aan verskillende kante van dié emosionele onderwerp staan, vertel hul verhaal: Die ma van ’n seun wie se organe met sy dood geskenk is; ’n dogter wat haar ma se nier ontvang het en die eerste vrouechirurg wat ’n hartoorplanting gedoen het.

Die skenker: Johan, Charlotte en Hannes se verhaal

Charlotte en Hannes Coetzee.

“Ons was by die werk toe ons die oproep kry dat ons dadelik moet huis toe kom.” Hannes, hul 15-jarige seun, het homself geskiet. In sy afskeidsbriefie het hy gesê hy word by die skool geboelie en hy sien nie meer kans vir skoolgaan nie.

Sy ouers, Johan en Charlotte Coetzee, deesdae van Pennington in KwaZulu-Natal, het van geen sout of water geweet nie. Hy was geniaal, sy ouers se engelkind en ʼn uitblinker op skool, vertel Charlotte oor haar enigste seun. Ten tyde van sy dood het hulle op 1 Militêre Basis, Doornkop, gewoon. Sowat tien jaar voor Hannes se dood het Charlotte se pa, Hannes se oupa, ’n nieroorplanting gehad wat sy lewe gered het.

“Hannes het enkele dae voor sy dood gesê as hy eendag sterf, sal hy graag sy organe wil skenk.” Die gesin was egter nog nie geregistreer as orgaanskenkers die dag toe Hannes besluit om sy eie lewe te neem nie. Die skoot waarmee hy homself in die kop geskiet het, het ernstige breinskade aangerig, maar Hannes was nie dadelik dood nie. Vir ure ná die tyd is hy met masjiene aan die lewe gehou.

“En toe vra die dokter of ons toestemming sal gee dat sy organe geskenk word.”

Vir Charlotte het die wêreld gaan stilstaan. Vir haar was Hannes se herstel net ’n wonderwerk ver. Nie vir ’n oomblik het sy gedink dat hy sal sterf nie. Johan het dadelik ingestem en Charlotte daaraan herinner dat dit Hannes se wens was.

“Maar ek het daarteen geskop,” onthou Charlotte. Sy sukkel om te praat terwyl sy die gebeure van daardie dag in 1998 herleef. “Ek het gevoel ons moet hom ’n regverdige kans gee om te leef.” Namate die dag gevorder het, het Hannes al minder begin reageer op stimuli.

“Hy was in ’n koma, maar nog by ons,” vertel sy. “Soos die dag gevorder het, het ons besef van die breinfunksies was besig om af te sterf. Om vyfuur die volgende oggend het hulle vir ons gesê Hannes is breindood en ons weer gevra om toestemming te gee dat sy organe geskenk word.” Charlotte het ingestem.

Tussen die trane deur deel sy die tegniese detail oor haar 15-jarige seun se orgaanskenking. “Hulle het verduidelik dat hy nog warm gaan wees en gaan asemhaal, maar dat hulle hom bloot met masjiene aan die gang hou sodat sy organe beskerm word. Om 9:00 die oggend het hulle my kind se corneas, niere, lewer, longe en hart begin oorplant na wagtende pasiënte toe. Op daardie oomblik het dit my getroos dat daar uit sulke verskriklike hartseer darem iets goeds kan kom.”

Suid-Afrikaanse wetgewing bepaal dat die familielede van orgaanskenkers en die ontvangers daarvan mekaar nie mag ontmoet nie. In die maande ná Hannes se dood het die Orgaanskenkersvereniging by die Milpark-hospitaal in Johannesburg, waar sy organe oorgeplant is, die gesin ondersteun en bygestaan. ’n Jaar ná sy dood het Johan en Charlotte anonieme briewe van die ontvangers van sy organe begin ontvang.

“Die meisie wat sy hart ontvang het, was baie jonk. Sy het twee jaar vir sy hart gewag,” vertel sy. “Dit was ’n perfekte passing. Sy kon weer aktiwiteite doen wat sy nie voor die oorplanting kon doen nie. Ek het tóé vir die eerste keer werklik vrede met Hannes se dood gemaak. Orgaanskenking kan ’n verandering in soveel mense se lewe bring. Die ander keuse was om ons seun te begrawe – en dan verloor ’n mens in elk geval alles.”

Johan en Charlotte se hartseer paadjie was nog nie verby nie. Hul ander kind, Yolandé, is ná Hannes se dood gediagnoseer met wyd verspreide kanker en nierversaking. “My hartsbegeerte was dat ons dié keer die mense sou wees wat voordeel trek uit die orgaanskenkersprogram; dat my ander kind die ontvanger van iemand anders se nier sou word. Dit sou haar lewe met ’n paar jaar kon verleng,” sê Charlotte.

Maar weens haar mediese toestand kon sy nie vir ʼn oorplanting kwalifiseer nie. Yolandé is op 4 Desember 2017 oorlede. Charlotte bly lank stil om haar emosies onder beheer te kry.  “Ons kleinseun, Chris-Tiaan, is nou 10; hy verstaan nie wat met sy ma gebeur het nie. En nou is ek voltyds ma vir my kleinseun.”

Die ontvanger: ʼn Ma en kind se verhaal

Cedric en Suretha Campher (Foto: Verskaf)

Algehele nierversaking. As jy ’n 23-jarige onderwyseres is wat sommer vir die pret aan elke moontlike aktiwiteit en sportsoort deelneem, is dié twee woorde allermins deel van jou alledaagse woordeskat. Maar Suretha Campher, nou 31, het vinnig die implikasies daarvan leer ken toe sy agt jaar gelede dié woorde uit haar dokter se mond gehoor het.

“Ek het op skool al gereeld migraines gekry,” vertel Suretha, deesdae ʼn onderwyseres van Middelburg in Mpumalanga. “Ek het egter geen ander simptome van nierprobleme gehad nie – my liggaam het selfs urien uitgeskei. Die diagnose van algehele nierversaking op 15 September 2010 het my totaal onkant gevang.”

Suretha het dadelik medikasie begin gebruik, en kort daarna ook peritoniale dialise begin ontvang toe dit blyk dat die medikasie nie effektief is nie. Maar ook dit was nie voldoende nie.

“Ek was naïef, maar toe ek hoor ʼn nieroorplanting is my enigste hoop, was ek eintlik verlig,” vertel sy. “Ek was moeg daarvoor om met pype en goed in my liggaam rond te beweeg.”

Die volgende stap was die soeke na ʼn gepaste skenker. In teenstelling met die meeste ander organe kan ʼn nier geskenk word deur ʼn gesonde persoon, aangesien die liggaam ten volle kan funksioneer met slegs een gesonde nier. Suretha se ma, Maretha, het haar dadelik laat toets en goeie nuus gekry: Sy was ʼn gepaste skenker en sou vir haar dogter die nier kon skenk wat haar lewe sou red.

Die oorplanting en herstelproses was vir ma en dogter nie sonder komplikasies nie, maar vandag is Suretha ʼn gesonde jong vrou, meer aktief as wat sy ooit voorheen was. Sedertdien is daar ʼn baie spesiale band tussen ma en dogter. “Ons het ʼn natuurlike verstandhouding; ʼn soort band wat min mense sal verstaan,” sê Suretha. “Ons deel ʼn afhanklikheid van en dankbaarheid teenoor God wat ons verhouding spesiaal maak.”

Suretha is passievol oor orgaanskenking, maar ook oor die belang van ʼn gesonde leefstyl vir die ontvangers van organe.

Cedric en Suretha Campher (Foto: Verskaf)

In 2012, slegs ʼn jaar ná die nieroorplanting, het sy aan die Nasionale Oorplantingspele (ʼn atletiekbyeenkoms vir atlete wat die ontvangers van organe is) in Durban deelgeneem, en gekwalifiseer om vir Suis-Afrika aan die Wêreldoorplantingspele te gaan deelneem. Met haar eerste deelname aan dié Spele in 2013 het sy goue medaljes in die 100 m, 200 m en verspring verower; twee jaar later het sy met silwer medaljes in die 100 m, 200 m en aflos huis toe gekom, en verlede jaar, met haar derde deelname aan die Wêreldoorplantingspele, het sy vir haar land ʼn goue medalje in verspring, silwer medaljes in 100 m en 200 m, en ʼn brons medalje in aflos verower.

Sy is ook ʼn ambassadeur vir Fit for Life, ʼn inisiatief van die Wêreldoorplantingspele wat mense wat onlangs ʼn oorplanting gehad het, wil help om weer fiks te word en in beheer van hul lewe te kom ná ʼn oorplanting. As ambassadeur is haar rol om mense te oortuig dat jou lewensverwagting as oorplantingspasiënt verleng word en jou lewensgehalte verbeter as jy aktief is en mooi na jou gesondheid omsien.

Suretha is verlede jaar getroud met Cedric, ʼn meganiese ingenieur, wat ook haar oefenmaat en afrigter is.

“Ek vertel graag my storie,” sê sy. “Hoekom wil enigiemand ʼn familie ontneem van die seën om ʼn geliefde wat sou gesterf het, terug te kry? Al wat jy moet doen, is om te registreer as orgaanskenker, en om jou familie van jou besluit in te lig.”

Dr. Susan Vosloo – skakel tussen skenker en ontvanger

“Ons het in Suid-Afrika die gemeenskap in die steek gelaat as dit kom by orgaanskenking.” Met “ons” verwys dr. Susan Vosloo, kardio-torakale chirurg met ʼn onafhanklike private praktyk in Kaapstad, nie na die Suid-Afrikaanse publiek nie. Sy verwys na die gesondheidstelsel.

“Mense dink die tekort aan organe is as gevolg van mense wat nie as orgaanskenkers registreer nie. Maar baie mense word nie die keuse gegee om ʼn geliefde wat breindood verklaar is se organe te skenk nie. Só ontneem ons iemand die geleentheid om op ʼn hartseer manier troos te vind uit ʼn geliefde se afsterwe.”

Vosloo was die eerste vrouechirurg wat ʼn hartoorplanting gedoen het, en ʼn hele paar instansies het haar reeds vereer vir die werk wat sy doen. Maar tydens ons gesprek wat sy in ʼn baie vol dagboek inpas, maak sy dit saaklik duidelik dat hierdie bloot werk is wat gedoen moet word, en góéd gedoen moet word.

Sy speel vinnig klaar met ʼn paar van my wanpersepsies oor orgaanskenking.

“ʼn Orgaanoorplanting is glad nie so intimiderend soos wat mense dink nie,” verduidelik sy. “Dis nie ʼn moeilike operasie nie. ʼn Mens moet wel baie aandag gee aan besonderhede. En nasorg is uiters belangrik, want die ontvanger van ʼn orgaan ontvang imuunonderdrukkersbehandeling om te voorkom dat sy of haar liggaam die nuwe orgaan verwerp. Sulke medikasie het baie newe-effekte, en daarom moet ʼn mens baie versigtig te werk gaan. Maar andersins is ʼn orgaanoorplanting eintlik glad nie so vreemd nie. Dis iets wat mense soos ek elke dag doen.”

Ook my opmerking oor die publiek se gebrekkige kundigheid oor orgaanskenking en hoe dit bydra tot die tekort aan beskikbare organe in Suid-Afrika plaas sy vinnig in perspektief.

“Mediese professionele persone, insluitend dokters en verpleegpersoneel, is meestal nie bewus genoeg van die dringendheid van orgaanskenking en die rol wat hulle daarin speel nie,” sê sy.

“Dokters het dikwels skaars die moed om vir iemand wie se geliefde breindood is, die slegte nuus te gee. Om dan in dieselfde asem vir hierdie familielede te vra of hulle dit sal oorweeg om hul geliefde se organe te skenk, is vir hulle amper ondenkbaar. Maar ʼn mens vergeet dat ʼn besluit soos om ʼn geliefde se organe te skenk, vir die familie groot troos kan inhou; die wete dat die persoon se dood nie verniet was nie.”

Sy verwys my na ʼn artikel wat in die Julie 2017-uitgawe van die South African Medical Journal verskyn het, geskryf deur June Fabian en Kim Crymble van die Wits Donald Gordan Medical Centre in Johannesburg, waarin dié uitdaging in groter diepte bespreek word: “… [O]ur nurses support end-of-life care and organ donation, but their knowledge base is lacking. We know this. What is new from this research, in the SA context, is how nurses are unsure of their roles in the referral process for end-of-life care and organ donation. So, despite the majority support for organ donation, far fewer nurses participate in this process because they are unclear of their scope of practice.”

Ek vra haar of dit vir ouers moeilik is om die besluit te neem om ʼn kind wat sterf se organe te skenk. Maar ook van dié wanpersepsie maak sy korte mette.

“Nee – inteendeel,” sê sy. “Hoe meer tragies die kind se dood is, hoe meer geneig is ouers om in te stem om hul kind se organe te skenk. Hulle kry vertroosting uit die feit dat daar iets goeds gekom het uit hul kind se dood. Die teendeel is ook waar: Ek weet van ʼn ma wie se kind selfmoord gepleeg het. Die ouers is nooit die keuse gegee om hul kind se organe te skenk nie, hoewel hy breindood was en dus ʼn ideale skenker was. Sy het haarself vir jare daarna nog daaroor verwyt dat hulle nie die geleentheid gebied is om hul kind se organe te skenk nie.”

Daar vind eintlik min orgaanoorplantings by kinders plaas, verduidelik sy – soms nie eens een per jaar nie. “Die groot rede daarvoor is dat daar gewoonlik nie ʼn geskikte skenker beskikbaar is wanneer daar ʼn ontvanger is wat wag vir ʼn orgaan nie, of daar is ʼn skenker, maar nie ʼn gepaste ontvanger nie. By babas is dit byvoorbeeld baie moeilik om ʼn ontvanger én ʼn gepaste skenker op dieselfde tyd te kry, bloot omdat ʼn ouer en fisiek groter kind se orgaan nie in ʼn baba se liggaam oorgeplaas kan word nie. In sulke gevalle verloor ons ongelukkig dikwels die pasiënt.”

Dit moet seker uiters bevredigend wees om te sien hoe jy vir iemand ʼn nuwe kans op ʼn gehalte lewe gee? vra ek.

“Dit is beslis, ja,” vertel Vosloo. “Teen die tyd dat iemand ʼn orgaan benodig, is hulle terminaal siek met ʼn kort lewensverwagting en swak lewenskwaliteit; byvoorbeeld iemand wat bedlêend is. Ná die oorplanting kan so ʼn persoon ʼn normale of bykans normale lewe lei, met dien verstande dat hulle hul medikasie neem en gereeld opgevolg word. Dis uiters bevredigend om ʼn siek persoon só te sien herstel.”

Wanneer Vosloo haar spreekkamerdeur toetrek en net Susan is, is sy getroud met Anton, ʼn narkotiseur, en ma van 16-jarige tweelingdogters. Ná 13 mislukte vrugbaarheidsbehandelings het haar skoonsus aangebied om vir die egpaar surrogaatma te wees, en die tweeling is uit dié surrogaatswangerskap gebore. Die Vosloo-gesin woon in Groenpunt, Kaapstad.

Toe ons afsluit, nooi sy my om haar te kontak indien daar enige van die mediese inligting oor orgaanskenking is waaroor ek klarigheid moet kry. Ek doen dit graag, antwoord ek. Want as daar iemand is wat ek vertrou met die fynste detail van ʼn sensitiewe onderwerp soos hierdie, is dit iemand wat harte kan oorplant.

Belangrike feite oor orgaanskenking

  • Deur as orgaanskenker te registreer, kan jy sewe lewens red: jou hart, lewer en pankreas kan drie lewens red, en jou niere en longe nog vier. Indien jy weefsel skenk, kan jy tot 50 mense help wat die ontvangers van jou corneas, vel, bene en hartkleppe kan wees.
  • Enige gesonde persoon kan as orgaanskenker registreer. ’n Siektetoestand diskwalifiseer jou nie noodwendig nie, aangesien daar met jou dood toetse gedoen word om vas te stel watter van jou organe gebruik kan word.
  • Voor ’n persoon se organe geskenk word, moet hy of sy volgens wetgewing deur twee dokters klinies breindood verklaar word.
  • Dis belangrik dat organe so gou moontlik nadat ’n persoon breindood verklaar is, oorgeplant word. Indien jy reeds as orgaanskenker geregistreer is, maak dit die proses aansienlik vinniger.
  • Deur self as orgaanskenker te registreer, maak jy die besluit wat hieroor geneem moet word sou jy sterf, vir jou geliefdes baie makliker – hulle weet wat jou wens was en hoef nie in ’n baie emosionele tyd so ’n moeilike besluit te neem nie.
  • Orgaanskenkers of hul familie ontvang nie vergoeding vir organe wat geskenk word nie. Dit kos die skenker ook niks om as skenker te registreer, of om organe te skenk nie.
  • Volgens SA wetgewing is alle orgaanskenking anoniem, om die privaatheid van die skenker en ontvanger te beskerm.
  • Dis maklik, vinnig en gratis om as orgaanskenker te registreer. Besoek die Orgaanskenkersvereniging se webwerf by org.za en kliek op die skakel bo-aan die tuisblad, of skakel 0800 22 66 11.

Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in die somer 2017-uitgawe van élan, Medihelp Mediese Skema se ledetydskrif. Besoek Medihelp by www.medihelp.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.