Driejarige se byna-verdrinking: ‘God is groot’

Jaundré Kruger (Foto: Verskaf)

Jaundré Kruger (Foto: Verskaf)

ʼn Paar maande nadat Johan en Amanda Kruger van Richardsbaai se driejarige seuntjie by die dood omgedraai het nadat hy byna in die gesin se swembad verdrink het, het hy sonder enige tekens van dié byna noodlottige dag in sy speelkamer gaan sit om oudergewoonte met sy speelgoed te speel.

Dit was asof die “maande se trane, die seer, die bid en die bekommerd wees” hom nie eens opgeval het nie, het Johan aan Maroela Media vertel.

“Hy het so ewe, asof niks verkeerd was nie, in sy speelkamer gaan speel en met sy boetie, Luan, gepraat voor hy later weer na sy kamer terug is. Daar was nie ʼn teken dat hy so amper van ons weggeneem is nie.”

Hy onthou nog die “donker dag” toe Amanda in Oktober verlede jaar byna histeries met die nuus gebel het.

Juandré het onopgemerk by die skuifdeur wat na die swembad lei, uitgegaan en in die swembad geval. Die veiligheidsnet wat bo-oor die water moes wees, was stukkend, en was dus nie daardie dag oor die swembad nie.

Amanda het eers later opgemerk die deur staan oop, en het vir Juandré op die water sien dryf. Sy hart het reeds gaan staan.

“Die man wat by ons ʼn woonstel huur, het haar hoor gil, en hulle het kardiopulmonêre resussitasie op hom uitgevoer. Daar was egter geen tekens van lewe nie. Hy was in totaal ʼn uur dood gewees voor dokters hom weer by kon kry,” het Johan vertel.

Luan, Johan, Amanda en Jaundré (Foto: Verskaf)

Luan, Johan, Amanda en Jaundré (Foto: Verskaf)

Die gesin het hulle gewend tot hul geloof. “Daar was niks wat ons kon doen nie. Ons het net gebid en gesmeek vir sy lewe. Ek het geweier om te aanvaar dat my kind dood is, ten spyte van dokters wat ons gemaan het om die ergste te aanvaar. Toe kom die nuus, dokters kon hom bybring.”

Juandré was vir vyf weke in die hoësorgeenheid in die Netcare hospitaal in Richardsbaai, twee weke in die Parklands hospitaal en daarna drie maande in die Life Entabeni hospitaal vir rehabilitasie. In die tydperk het hy verskeie terugslae gehad.

“Hy het ʼn maagseer ontwikkel wat later begin bloei het. Dokters het hom ook in die tweede week in die Netcare hospitaal van die ventilators afgehaal, maar sy longe het begin bloei. Deur alles het ons bly bid en bly glo.

“Dokters het telkens vir ons gesê dat ons ons moet begin voorberei. My kind was siek. Vir ʼn ouer is dit nie maklik om so langs hom te staan en so iets te sien nie. Ek het moedeloos geraak, en soms wou ek moed opgee. Maar God het ons gedra en ons het aanhou glo. Selfs toe dokters sê dat hy nie sal kan loop of praat nie, het ons dit verwerp.”

Jaundré Kruger in die hoësorgeenheid (Foto: Verskaf)

Jaundré Kruger in die hoësorgeenheid (Foto: Verskaf)

Juandré kon in die helfte van die vierde week in die Netcare hospitaal van die ventilator afgehaal word. Hierdie keer was dit ʼn sukses.

Hy moes ook in Desember vir sy tweede breinskandering gaan ná die eerste een op erge breinskade gedui het.

“Daar was niks. Daar was nie ʼn spoor van breinskade nie. God het ons kind genees. Hy het ons kind ten volle genees.”

Juandré is al reeds ʼn paar maande by die huis, en lewe heeltemal normaal. Die gesin het ook Lasarus op sy geboortesertifikaat bygevoeg. “Markus 10:27 sê dat niks by die Here onmoontlik is nie, darem noem ons hom ook nou Lasarus. Nou die dag toe ons in die swembad spring, toe swem hy saam met ons. Dokters sê hy was te jonk om te onthou, maar ek weet dis God se hand gewees.”

Hy het onlangs vier jaar oud geword en maak binnekort reg om kleuterskool toe te gaan. “Ek wou net hierdie storie deel, omdat ek weet daar is baie seer en moedelose mense daar buite. God is groot. Ons verstaan nie seer nie, ons verstaan nie hoekom dinge gebeur nie, maar Hy is altyd teenwoordig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lindy Cant

Deur volharding in geloof het God HOOP gebring en deur jul HOOP leer julle ook vir ander van God en volharding. Alle eer en lof aan God.

Rens Roodt

WONDERBARE VADER WAT ONS HET!

Jacques de wet

God is groot. AMEN

Sherese

Ons liefste engel kind het ook in swembad beland. Hy was in jhb in hosp. Baie terugslae gehad en het dit toe nie gemaak nie. Dis n haarvterug maar voel soos gister. Elke dag huil ons nog. Ek aanvaar dit nie!! Die Here is altyd teenwoordig — hy was nie vir ons nie. Tog moet Hy ons harte ken – hoekom ons deur dit sit. Vir ewig en altyd sal ek na my suster kyk en weet dat sy die sterkste van ons almal is. Haar enigste seun… Maar net 18maande oud toe hy weg gevat is. Sy glk en… Lees meer »

Lorraine

Hoe wonderlik om dit die positiewe te lees en te weet die Here is groot. Baie dankie.