[Video] Duiweboer lief vir sy sport

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Die duif is seker een van die algemeenste diere op aarde en word sekerlik onderskat omdat mens hulle elke dag sien. Maar dié voël is eintlik so uniek dat hulle selfs hul eie sport het wat wêreldwyd beoefen word.

Ferdie Lubbe van Pretoria boer al reeds sedert 1983 met wedvlugduiwe en was ook die vise-president van die Suid-Afrikaanse Posduiforganisasie (Sampo).

Hy sê sy belangstelling kom van ʼn vriend af wat ook met duiwe boer. ”Ek bedryf dit as ʼn stokperdjie – soos wat sommige ouens gholf speel, boer ek met duiwe.”

Dié duifboer het reeds ʼn groot familie duiwe wat kom van plekke soos Amerika, Nederland, België, Duitsland en Engeland. Mens sou dink dat jy sommer ʼn duif in jou agterplaas kan vang, maar Ferdie sê die wedvlugduif is ʼn ander soort duif wat spesiaal ontwikkel en geteel is oor baie jare. “Hierdie duif het ʼn ingebore GPS, want hy kry sy huis van enige rigting af.”

Hy meen dat ingevoerde duiwe nie altyd lekker by Suid-Afrika se toestande aanpas nie, maar dat hulle die plaaslike ras se bloedlyn kan versterk as daar met dié duiwe geteel word.

Duiwe word eers naby hulle hokke geoefen totdat hulle fiks is voordat hulle begin met oefenvlugte van ongeveer 50 km, wat vermeerder word tot 280km. Hulle word geoefen volgens die kategorie waarin hul deelneem, naamlik kortafstande (300km-500km), middelafstande (tot ongeveer 650km) en langafstandvlugte (tot by 1000km).

Ferdie sê dis moontlik vir ʼn duif om 1000km per dag te vlieg, maar dit hang van die weer en wind af. As die wind reg waai, kan hy ʼn spoed van ongeveer 120km per uur bereik. Hierdie lang vlugte word nie sommer oornag gedoen nie, want duiwe moet eers goed voorberei word vir dié lang vlug. En as dié duif van Kaapstad vlieg en besluit om in Bloemfontein te bly? “Nee wat, hy het ʼn liefde vir sy hok. Hy sal stop vir water, maar hy sal beslis terug kom.”

Vir Ferdie is die duiwe ʼn bietjie soos mense. “In een gesin het jy byvoorbeeld vier kinders: een is briljant, die ander twee is middelmatig en die ander een het dalk nie soveel talente nie en dis dieselfde met die duiwe. Partykeer kry jy ʼn duif wat altyd vir die ander wegvlieg en ander wat dalk net middelmatig presteer.” Ferdie sê die groot kuns om met duiwe te boer is om die beste gene te bewaar. Die duiwe wat jou meer as eenkeer help om goeie duiwe te teel, moet gebruik word om te teel en hulle moet weer vernuwe en versterk word met ander goeie gene.

Ferdie verduidelik hoekom hy so lief is vir dié sport. “Hierdie sport is al ouer as ʼn 100 jaar en dis ʼn gesinsport. Jy is nie weg van die huis af nie, naweke is ek hier by die huis en almal kan deelneem. By my is tot die kleinkinders betrokke.”

Ferdie is meer as bereid om met belangstellendes te gesels en raad te gee. Stuur gerus vir hom ʼn epos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anet ·

Dankie Ferdie en Maroela. Ek het die onderhoud baie geniet, en die duiwe is pragtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.