Echo-jeugontwikkeling: ‘Ek sal nooit weer dieselfde wees nie’

Echo-jeug

Die inwoners van “Vyfster”. Foto: Verskaf

Hoewel hierdie kinders die moeilikste lewe denkbaar gehad het, en miskien nog het, is hulle positiewe ingesteldheid en passie vir Echo oorweldigend. Wanneer die lewe jou swaar behandel en jy kan nog glimlag, moet jy weet jy doen iets reg.

Echo-jeugontwikkeling is ’n alternatiewe omgeegemeenskap wat huisvesting gee vir jong mense tussen 14 en 24 jaar. Die stigter, Jaco Strydom, het aanvanklik gefokus op berading in skole, maar gou besef dat dié jong mense se omstandighede tuis die ware probleem is. Die behoefte aan ’n veilige hawe is verwesenlik met Echo se eerste huis in 23ste Laan.

Echo het verskeie huise in Pretoria, Johannesburg en die Kaap, asook kommunes vir jong volwassenes wat klaar is met skool en reeds werk of studeer. Ons het by Vyfster gaan kuier, een van die kommunes wat jong mense van 18 jaar en ouer huisves.

Een van Vyfster se huismoeders, Sané Lötter, verwelkom my vriendelik en stel my aan almal voor terwyl ons in die huis loop. Ek sien dadelik die rol wat sy hier speel, want onderwyl sy my voorstel, hoor sy sommer hoe dit met elkeen gaan. Amper soos ʼn ma wat net gou hoor of alles nog reg is. “Het jy my oorfone gesien?” vra een van die inwoners. “Ja, ek wil asseblief jou laptop vanaand gebruik,” sê die ander een. Dis vir my ongelooflik hoe natuurlik Sané voorkom in dié rol.

Mettertyd begin al meer lede van die kommune opdaag – vanaand eet almal saam en dit voel of ek weer in die koshuis is. Ons sit buite en die atmosfeer is gesellig. Twee jonger kinders probeer ʼn vuur aansteek terwyl ʼn meisie my van haar matriekafskeid vertel. “My rok moet pienk, pers en blou wees.” Sy wys vir my ʼn foto van die rok wat sy soek en sê sy weet nie waar sy so ʼn rok gaan kry nie. “Ek gaan nie R3 000 vir ʼn rok betaal nie, ek gaan hoor of iemand die rok vir my kan maak.” ʼn Seun, Elvis, kom aangestap en sy gaan groet hom vriendelik. Ek draai na die seun wat langs my sit en vra hom hoe dit gaan. Hy sug en sê hy het liefdesprobeme. Sy eksmeisie hou nie van sy nuwe meisie nie, en hy sukkel om die vrede te bewaar. “Dis moeilik, man!”

Dit begin reën en almal beweeg in die huis in – die koeldrank en kospotte gaan saam. Ek ontmoet vir Theodora, ʼn mooi kind. Sy studeer om ʼn sjef te word, maar hou van sing ook. Die singende sjef, dink ek by myself. Ek oorreed haar om iets vir my te sing (want hoe moet ék nou weet of sy regtig kan sing?). Haar stem is net so pragtig soos sy, en haar warmte en oop hart raak my.

Die sitkamer is nou stampvol en ek voel tuis. Terwyl ek ʼn worsbroodjie eet, gesels ek met verskeie mense. Een is van die straat af gehelp, die ander se ouers is oorlede toe hy baie jonk was. Die stories breek my hart, maar die gelag in die sitkamer stel my gerus, want hier het hulle ʼn tuiste gevind, ek is seker daarvan.

Hierdie mense inspireer my en my hart is vol toe ek begin groet. “Wil jy nie verder kuier nie?” vra Sané. “Daar is volleyball in die gang oor tien minute.” Ek kyk op my horlosie en sien dat dit al laat is, maar belowe om weer te kom kuier. Terwyl ek op die hoofweg ry, met die reën wat hard teen my motorruite slaan, dink ek, volleyball in die gang sou eintlik lekker gewees het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Piet Pompies ·

Baie mooi, uitstekend, enige positiewe volhoudbare belegging in ons jeug is ‘n belegging in ons land en toekoms wat eendag goeie vrugte gaan dra.

Aly echo seun ·

Dit is so en as die jeug van vandag net so kan wees dan sal die land baie anders gewees het maar hulle doen altyd die teenoor gestelde as van wat hulle moet so ek stem heeltemal saam met U daar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.