Echo-jeugontwikkeling stig noodfonds

Die Echo-jeugontwikkeling is ʼn alternatiewe omgeegemeenskap wat huisvesting gee vir jongmense tussen 14 en 24 jaar. (Foto: Echo Youth)

Die Echo-jeugontwikkeling, ʼn alternatiewe omgeegemeenskap wat huisvesting gee vir jongmense tussen 14 en 24 jaar, is nes talle ander organisasies onder erge finansiële druk weens die uitbreking van die koronavirus (Covid-19).

ʼn Noodfonds, The Echo Crisis Fund, is nou van stapel gestuur om dié gemeenskappe te ondersteun. Jaco Strydom, stigter van die Echo-gemeenskappe, het aan Maroela Media gesê Echo ly tans ʼn verlies van R45 000 per maand wat vir basiese behoeftes soos elektrisiteit, water en huur geoormerk is.

“As gevolg van die wêreldwye krisis het een van ons grootste en langste ondersteuners finansieel onttrek en ons kan nie heraansoek doen vir befondsing nie,” verduidelik Strydom.

“Ons het tans 13 huise vol jongmense in nood. Ons het naskoolse huise waar kinders van 18 en ouer, wat pas klaar is met matriek en op hul voete probeer kom, nou almal werkloos is. Dié kinders het nog help huur betaal, maar hulle het nou nie meer inkomste nie,” sê Strydom.

“Baie mense is ook nou werkloos as gevolg van die krisis en van ons oud-inwoners klop ook nou by ons aan vir hulp.”

Die Echo-gemeenskappe dien as alternatiewe heenkome vir jongmense wat deur hulle ouers en die samelewing aan hulle eie genade oorgelaat is. Die hoërskoolhuise fokus op jongmense ouer as 14 omdat daar min instellings is wat bereid is om jongmense in dié ouderdomsgroep in te neem.

Echo het ook naskoolhuise vir jongmense uit ʼn kindersorgagtergrond tussen die ouderdomme van 18 en 24. Jongmense in hierdie huise moet óf begin werk óf studeer. Al die huise werk op ʼn “saamwoon-beginsel”, wat beteken dat daar ook jongmense woon wat nie noodwendig in nood is nie, maar wat graag ʼn verskil wil maak in iemand anders se lewe.

Enigiemand wat ʼn skenking aan die Echo-jeugontwikkeling wil maak, kan ʼn e-pos stuur aan [email protected] of die webwerf besoek. ʼn Belastingsertifikaat is beskikbaar vir skenkers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.