Een skakering donkerder

50-Shades-of-Grey-2

Marina Strydom verduidelik waarom sy nie die fliek ’50 Shades of Grey’ gaan kyk nie. Foto: Argief.

In die afgelope week gons die sosiale media en media behoorlik oor die fliek 50 Shades of Grey wat Vrydag, 13 Februarie vrygestel word en op die gelyknamige trilogie gebaseer is. Ek gaan nou nie hier verduidelik waaroor die boeke gaan as jy dit nie gelees het nie. Dit kan mens sommer maklik Google.

Ekself het ook nie die boeke gelees nie en ek beplan nie om die fliek te kyk nie. Onmiddelik sal kritici sê dat ek mos dan nie ‘n opinie kan uitspreek nie. Gewoonlik sal ek saamstem, maar in hierdie geval is ek van mening dat dit nie nodig is om die boeke te lees of die fliek te sien, voor jy ‘n opinie mag hê nie. Waarom sê ek so?

As ‘n twintigjarige student was ek saam met ‘n groep studente op ‘n toer in die buiteland. Op een sonnige somerse middag is ‘n klompie van ons Suid-Afrikaners by een van die studentehuise ontvang. Op ‘n stadium wou ek ‘n draai gaan loop en stap toe niksvermoedend in die toilet in. Net daar, binne ‘n paar minute, word ek toe brutaal en terloops van my jeugdige seksuele onskuld gestroop. Voor my op die deur, langs my teen die mure, onder my op die vloer, bo my teen die dak, letterlik oral is die hele plek toegeplak met die mees walglike, kru en skrikwekkende pornografie wat jy jou moontlik kan indink. Om die saak te vererger lê daar boonop ‘n stapel halfoop pornografiese tydskrifte verstrooi.

Ek was te oorweldig om nuuskierig te wees. Totaal verbyster en geskok het ek my oë so half-en-half probeer toeknyp, gedoen wat ek moes doen en so vinnig as moontlik daar uitgevlug. Maar dit was te laat. Die skade is gedoen. In daardie enkele minute is daar ‘n lêer in my kop geskep wat ek nooit weer kon uitwis nie. Die beelde het vir weke en maande daarna op die mees onvanpaste tye deur my kop geflits en dit vir my vormende seksuele identiteit baie moeilik gemaak om self te besluit wie sy is.

Hierdie gebeure het direk daartoe aanleiding gegee dat ek, jare later, as getroude volwasse vrou van 40 en ma van twee kinders en na eindelose ander “blootstellings” oor die afgelope 20 jaar die standpunt inneem dat ek nie na skadelike of geweldadige seksuele, sadomasochistiese (soos onder andere in 50 Shades of Grey) of pornografiese materiaal en destruktiewe vorme van erotika wil kyk nie.

Hoekom nie?
Is dit omdat dit tradisioneel sou sonde wees of omdat ek teen die verobjektifering van die menslike liggaam is of omdat ek “outyds” is of omdat ek teen enige vorm van subtiele geweld teen vroue is? Gedeeltelik ja, maar nie in die eerste plek nie. Ek wil nie daarna kyk nie, omdat ek oortuig is dat dit sleg is vir my en iets in my doodmaak en skeeftrek en vergiftig wat God eintlik as baie goed en mooi gemaak het.

Daar is nie een van ons wat nie ‘n seksuele wese is nie. Die vraag is wie is ek binne my seksualiteit? Ek glo dat daar ‘n fyn verwantskap tussen seksualiteit en spiritualiteit is. Wat anders is seksualiteit as ons menslike smagting na eenwording met iets of iemand groter as onsself? En waarom is die mensdom so behep met seks? Waarom staan mense tou vir ‘n kaartjie vir die fliek? Is dit omdat ons eintlik maar dierlik is of omdat ons nuuskierig is of is dit dalk eerder omdat ons probeer om deur seks of die seksuele ‘n diep en groot gat in ons wese te vul? Omdat ons probeer om een te word met iets of iemand wat ons diepste alleenheid en smagting na sin kan bevredig? ‘n Mens sou vir ure hieroor kon debatteer.

Wanneer elke mens gebore word is ons binnewêreld soos ‘n sagte, onbewerkte stuk land met die mees vrugbare grond waarin oneindige potensiaal geleë is. Hierdie binnewêreld bestaan uit alles wat my maak wie ek is. My seksualiteit, my waardes oor dinge soos materialisme, snobisme en rassisme, my selfbeeld, my Godsbeeld en spiritualiteit en nog ‘n horde ander onsigbare dinge. Daarom probeer enige goeie ouer sy of haar kind se binnewêreld so lank as moontlik ongeskonde hou en beskerm. Maar iewers begin dit verander. Iewers word ons binnewêreld ons eie verantwoordelikheid.

En wanneer dit eers gebeur het moet ek self besluit wat ek met daardie stukkie heilige grond doen. Wil ek dit bewerk en in ‘n lewegewende ruimte omskep? Sien ek kans om die onkruid wat vansself opkom aanhoudend uit te trek? Of laat ek toe dat enigiemand enige gemors en afval en onkruid op my grond kom stort. Staan ek dalk en kyk hoe daardie stukkie heilige grond mettertyd in ‘n ashoop verander, wat jaar na jaar een skakering donkerder word?

Daar is baie mans en vroue wat sukkel met pornografie en komplekse seksuele probleme. Ons samelewing is vol seksuele geweld en ander vorme van geweld teen vroue en kinders. Terselfdertyd is egskeidingsyfers hoër as ooit en die grense van jongmense se seksuele gewoontes en voorkeure was nog nooit so wyd nie. Dit wil voorkom asof daar iets groots fout is met die morele vesel van ons gemeenskap.

Dalk het jy reeds die boeke gelees of die fliek gekyk. Dalk wonder jy of jy moet. Miskien moet jy net eers vra hoekom. Hoekom wil jy dit doen? Wat gaan die uitkoms daarvan op jou stukkie heilige grond wees? As ek sê dit het geen effek op my nie, is dit nie iemand se plek om my voor te skryf nie, maar is ek dan ook bereid om te erken dat ek dalk oneerlik of naïef oor die uitwerking daarvan op my sou kon wees? Dalk kom die vraag of ek en God dieselfde droom vir daardie stuk land het hier op die tafel.

As ek hierdie vrae klaar geantwoord het, neem ek natuurlik die verantwoordelikheid vir my besluit. Ek dink daar is ‘n goeie kans dat God sou droom dat die dinge wat ek op my heilige grond toelaat aan die kant van groei en lewe sal staan. En dat ek God sal toelaat om weer en weer die grond van my binnewêreld te bewerk, ongeag van wat al deur ander of myself daar gelos is, want vir God bly daardie grond altyd heilig.

Wat ek hier skryf is my persoonlike opinie en dit is wat ek sal antwoord as iemand my vra hoe ek voel oor 50 Shades of Grey. Jy voel dalk heeltemal anders. Soveel skakerings, soveel opinies…

Meer oor die skrywer: Marina Strydom

Marina Strydom is 'n leraar verbonde aan die Ooskerk-gemeente in Pretoria. Sy is die ma van twee dogtertjies en haar passies sluit prediking, spiritualiteitsontwikkeling, kuns, kreatiwiteit en die lewe in. Sy reis ook graag (al is dit hoofsaaklik in haar kop) na nuwe plekke en kulture.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Corne Spies ·

Goed gestel Marina! Ek stem heeltemal met jou saam. Ek moet eendag voor God verantwoording doen oor my lewe en hierdie fliek en boeke is mos nie tot Sy eer nie?

Henning Venter ·

Baie dankie vir `n sobere artikel wat lyne reguit trek en veral uit die vrou se oë en siel skryf. Groot waardering.

Cathy Kotze ·

Baie goeie artikel. Beide liefde en seks is wonderlik….saam!

Ek bid dat God by my sal wees regdeur my lewe. Iets sê vir my dat ek daardie teater waar die fliek vertoon word, alleen sal moet binne gaan. Hy sal nie daar wees nie.

Deon Farmer ·

Dankie dat jy nie skroom om jou getuienis te deel nie…pragtig verwoord…ek deel jou oortuiging met alles wat ek is! Leef liefde!

Piet Snot ·

Skerp, Marina.
‘n Pel van my sê altyd: “What has been seen, cannot be unseen”.

Hennie Dekker ·

Dankie aan Henning Venter wat die artikel gedeel het op FB! Ek hou van jou “heilige grond” idee want dit maak jou siel prakties en kan mens die invloede daarop ook prakties beskryf en verduidelik. Vir enige Christen (navolger van Jesus Christus, ons Verlosser) gee die siening ‘n sterk standpunt wat gevolg kan word! Ek “share” verseker jou artikel.

Elsie de jongh ·

Enige geskrewe sowel as ongeskrewe sowel as vlieke wat ubnormaal is en veral eroties of sleg vir my geestelke lewe !!
vermy ek so goed as wat ek kan ! Want word gesē blootstelling daaraan word soos n dwelm!!
Dus het ek in my lewe (en ek nie meer so jonk 78jr in april 2015) my self so goed as wat ek kan sulke onchristelke en wat as kuns beskryf word vermy en nog hooit spyt gewees ! Hier moet ek noem dat ek die hele Europe as jong meisie rond gerys het !
Wat n wonderlkegeleentheid was.
En kan net sê ek dink ek was beskerm deur keuse te gemaak het vroeg in my lewe as gevolg van my christelike beginsels en opvoeding !
Maar dat vandag se jonk en oud baie meer blootgestel is aan die agteruitgaan van geen respek vir niks! ->14/2/2015

Helene Blaauw ·

Uitstekend verwoord Marina!
Byron Paulus van Spiritled Woman skryf in ‘n artikel oor die vrystelling van die betrokke fliek as volg:
“[…] the release of the movie Fifty Shades may be more destructive than ISIS. Why? Because at least we are still on our guard fighting against ISIS at some level. But on many fronts, we quit fighting against sin in the sexual realm.
While we vigorously defend our geographical boundaries against physical aggression of evil designed to torture and kill the human body, we passively support and even promote soul aggression of evil that tortures and destroys the mind, emotions and human spirit.”
… Waarop ek slegs maar net AMEN kan sê.

Erna van Dyk ·

Ek het al 3 van die boeke gelees. Ek het gelag, die spanning aangevoel en gehuil. Die verwysingsraamwerk vanwaar die manlike hoof karakter gekom het en die eenvoud waarmee die vroulike hoofkarakter hom op spoor gebring het was hartverskuurend en pragtig.

Asjas ·

Ek lief ‘n goeie roman, ek LIEF ‘n goeie Mills & Boon en Harlequin. Ek gaan beslis die film kyk. Jy is die eerste persoon wat ‘n positiewe kommentaar lewer oor die film op hierdie forum. Terwyl ek voel ‘n ouderdoms beperking van 18 is gepas, dink ek nie ek gaan hel toe omdat ek dit gaan kyk nie.

Henri Benade ·

Sjoe! Die dame is diep geïndoktrineer (of dalk eerder, oortuig van) die “blank slate” oftewel ” noble savage”, “ghost in the machine” denke onderliggend tot die ‘Standard Social Science Model’!
Daar’s ander wyses ook om na die mens te kyk en die mens se wese te verstaan – soos dat die mens deel is van die natuur.

Ronnie ·

Beste Marina,
‘n “Resensie” soos die van jou is dieselfde as ‘n lywige mens: In elke vet persoon is daar ‘n dunnietjie wat sukkel om uit te kom! Jy kon die leser baie tyd gespaar het om deur die ellelange relaas te lees deur slegs te verklaar het dat jy die boek en film oordeel uit ‘n eng kalvinistiese en viktoriaanse benadering, weg van die werklikhede wat elke dag om jou aangaan maar waarvan jy jou oenskynlik distansieer (nie van hierdie wereld nie).
Jy skep ‘n strooipop analogie van banale fotos in ‘n toilet uit jou vervloee lewe om die “resensie” te vergoeilik. Dit is oneerlik en onregverdigbaar want dit is nie waaroor die boek gaan nie en jy kan dit van my aanvaar want anders as jy, HET ek die boek gelees voor ek ‘n opinie uitspreek.
As jou beredenering tot sy logiese slotsom uitgevolg word, mag niemand ‘n boek skryf oor hoe ‘n vrou die trauma verwerk om met bv, ‘n psigopaat, vroueslaner, bedrieer, hoereerder, depressielyer of enige ander persoon met ‘n ernstige sielkundige probleem, deurmekaar te raak nie.
As jy die boek gelees het, sou jy geweet het dit is ‘n liefdesverhaal van ‘n relatief onskuldige vrou wat lief word vir ‘n man met ‘n sielkundige aberansie van seksuele sadisme en onderwerping, en hoe sy dit probeer verwerk en versoen met haar gevoel vir die man. Kortom, iets wat jy jou behoort te vergewis van, anders hoe weet jy wat in jou gemeente aangaan en waaraan van jou vroulike ledemate moontlik onderwerp word. Of is jy een van die die drie spreekwoordelike apies wat nooit iets sien, hoor of se nie?
As jy gedoen het soos die goeie Boek voorskryf: ondersoek (lees, nie doen nie!!) alle dinge maar behou die goeie, kon jy die boek gebruik het as voorbeeld aan jou kudde oor hoe en waar om met die werklike lewe om te gaan. Jy het helaas, die geleentheid uit suiwer onkunde en teistiese hoogmoed laat verby gaan.

Tiekerieks ·

Briljant gesê Ronnie ek het wel al drie die boeke gelees en stem volmondig met jou saam!!

lizaan ·

As kind van die Here en vrou vir my man is dit n plesier om myself met my man te kan deel soos God dit wil he. Ek het die boeke gelees en is eintlik teleurgesteld in Christine se tonnel-visie. Hierdie was smaaklik en het gehelp bietjie meer woema in ons verhouding sit. Ek het nog nie die fliek gekyk nie maar dit voel tog na iets wat net ons twee alleen moet kyk omdat dit so intiem is.

Niens ·

Marina,

Dit is onbeskryflik snaaks! Die trouma na soveel jare! Jy het DUIDELIK gestaar na die images, daar is geen manier dat so iets as ‘n 20-jarige in jou kop kan bly dat dit jou so beinvloed 20 jaar later as jy nie eers gekyk het nie. Dit is die woorde van iemand wat in ‘n bubble groot geword het en duidelik gestaaaaaaaar het.

Seriously! Wie probeer jy fool! Jy kon ‘n ‘draai gaan loop het’ ageter ‘n bos of in ‘n restaurant of so iets, as jy ingeloop het en dit wel SO erg vir jou was.

En vir die boek, dit is DUIDELIK dat jy nie die boek gelees het of die fliek gekyk het nie (wat jy wel gese het, maar niemand sal oordeel oor dit gebaseer op ‘hear-say’ nie). Want as jy ‘n mens was wat enigsins eers gedink het daaraan om jou so publiek uit te laat oor dit, sou jy dit nie gedoen het sonder om die boek te gelees het nie. Dit is ‘n love story! Dit is niks lelik nie. Dit is niks wat enige persoon wat in enige intieme verhouding was nog nie van moes weet nie.

Ja, die arme siel in die boek het ‘n verskriklike verlede en dit beinvloed hoe hy vandag dinge hanteer. Almal tree nie dieselfde op gebaseer op dieselfde situatsie nie. Die feit is dat dit is realiteit. Ons praat nou hier van ‘n intieme situasie, maar hoeveel situatsies het ons waar ‘n man so dominant is oor ‘n vrou, jy mag nie jou hare kleur nie, jy moet by die huis wees as ek by die huis kom, jy moet kook, jy mag nie dit wys nie, jy mag nie dit nie, jy moet dat…. Dit, is baie baie erger as die situasie in die boek.

Om die te skryf gebaseer op jou “ASSUMPTIONS” is niks anders as pathetic nie. Ek voel werklik jammer vir mense wat so met oogklappe in die lewe rond loop. Daar is dinge 1000x erger as die ‘images’ in ‘n badkamer of die vergelykings in 50 Shades.

En vir die wat wel die boek gelees het en duidelik se… ek het al 3 boeke gelees en dit is so erg – het daai stemmetjie op jou skouer nie ingetree in boek 1 as dit vir jou ook SO erg was nie. Dit is beyond belaglik!

Laters baby.

Helene BlaauwH ·

@Ronnie
So van strooi gepraat – gaan lees gerus wat die ‘goeie Boek’ sê oor daardie aanhaling van jou in 1 Thess.5:21. Paulus praat hier van Bybelse dwaalleer en nie van verwronge en verdraaide wêreldse dinge wat beproef moet word nie! Ek dink Fifty Shades vaar hier op sy eie goed genoeg daarvoor.

Ronnie ·

Helene,
Al ooit van bietjie digterlike vryheid en tong in die kies kommentaar gehoor? (Daarom die gedeelte in hakies).
En terwyl ons van strooi praat – dit is regtig riskant om die skatologie van Byron Paulus aan ‘n groter gehoor voor te hou as goeie deurdagte denke sonder om te verwag dat ‘n geurtjie daarvan aan jou ook gaan bly kleef.

Anke ·

Ek wil net graag my opie as jong meisie ook stel. Ek kom uit n baie nou Kalvinisties huis waar seks n vloekwoord as. Ek het al drie hierdie sogenaamde pronografiese boeke gelees. En wat ek hier uit geleer van seks is dat daar die mooi opregte en Christlike wyse is waarvan die Bybel ons leer en dat daar die ander kant is , die lelike kant. Hierdie boek breek die stilswye op oor geweldadige misbruik van seks en seksualiteit. Ek het nooit geweet daar bestaan sulke goed nie totdat ek die boeke gelees het. Dit was vir my n openbaring om te weet dat daar wel sulke goed is en dat jy as meisie en vrou enige dag jou in dieselfde situasie kan bevind. Die boeke het wel die volgende tuis gebring… Elke vrou het die keuse om van haar omstandigehede te ontsnap of om haar instinkte as vrou en moeder te volg om n gebroke siel weer aan mekaar te heg. Die kriks van die boeke is nie die eksplisiete seks tonele nie , dit meer as dit. Dit gaan daaroor dat daardie jong vrou dit reg gekry het om die man waarvoor sy lief was te leer hoe om op die “mooi” manier sy liefde ook an haar uit te beeld sonder geweld en masogisme. Vergeet van die Mills&Boon effek en kyk bietjie dieper na die konteks ingeheel.

Net n laaste opmerking – enige boek wat omskep is in n rolpret het nie dieselfde uitwerking as die boek nie ,want jy beheer die karaters in die boek . n Fliek kan jy dit nie doen. Lees eers die boeke en besluit dan of jy dink dit bring n beeld van huishoudelike en seksuele geweld op vroue na vore of is dit dalk net mooi die teenoorgestelde.

Martie ·

Dit is vir my vreeslik interessant hoe ‘geleerde’, ‘geestelike’, ‘slim’ mense soveel uitsprake kan hê oor iets waarvan hulle min tot niks weet nie.

Ek is ‘n Christen. Ek is geleerd. Ek werk in die korporatiewe wêreld as ‘n senior konsultant, en ek is een van die mees ‘normale’ mense wat jy ooit sal ken.

Ek is ook ‘n BDSM aanhanger. Ek hou daarvan. En so een keer in ‘n blou maan beoefen ek dit saam met my man.

Maak dit my ‘n mindere Christen? Minder ‘spiritueel’ of ‘geestelik’? Ek dink nie so nie. Ek dink my verhouding met God is sterker as meeste mense wat dit uit basuin.

Dit is vir my verstommend hoe mense sonder die regte geleerdheid hulle kan uitspreek oor sulke sensitiewe sake waarvan hulle so min weet.
Ja, ek is seker ‘n bietjie ‘warped’, maar volgens wie?? Die Kerk? Volgens Jou?
En voor almal my gooi met bybelverse, kom ek maak dit duidelik, ek speel nie rond met ander mense se huwelike nie, ek verneuk nie my man nie, en maak geen skade aan my of enige iemand se liggame nie. Dit is ons voorkeur.

Daar is goed in die boek wat nie reg is nie ja – maar dit gebeur in ons lewe. Dit is ‘n realiteit vir soveel mense.
Dis jou keuse of jy dit wil kyk of nie. Gaan nie van jou ‘n beter of ‘n slegter mens maak nie. Each one unto himself op die einde van die dag.

Gideon ·

Dit is seker elke mens se reg om te verskil, dankie tog ek is deel van die mensdom en nie van een of ander trop skape in die hoëveld nie. Ek het nie een van die boeke gelees nie, maar wel ‘n paar dae terug die film gaan kyk! Die storielyn was nogal tragies, is regtig nie eroties uitgebeeld nie, baie menslik, ek dink die 16 jr beperking is te hoog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.