Eerste ekspo sonder Eskomkrag bring lig

Foto: proagri.co.za

Foto: proagri.co.za

Solidariteit KragDag, die wêreld se grootste Afrikaanse alternatiewe energie-en-leefstyl-ekspo, is vanjaar groter as ooit. KragDag maak ook geskiedenis deur die eerste ekspo te wees wat sonder Eskomkrag aangebied word.

“Die ekspo, wat môre en Saterdag buite Pretoria plaasvind, bied oplossings vir alle kraguitdagings, en besoekers sal geïnspireer word om oor te gaan tot aksie vir kragonafhanklikheid,” sê Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake.

Die ekspo bied ’n uitstalkas vir ’n lewe onafhanklik van regerings- en regeringsondersteunde instellings. Van die hoogtepunte sluit energieselfstandigheidseminare, die bekendstelling van Solidariteit se Kragkrisisnoodplan en ’n Energieselfstandigheidsgids in. Dié gids sal môre op die eerste dag van dié jaarlikse selfdoen-ekspo by die Diamantvallei-landgoed buite Pretoria bekendgestel word.

“Met hierdie gids bied Solidariteit aan sy lede en die publiek ʼn nuttige handleiding oor hoe huishoudings deur selfstandige elektrisiteit-alternatiewe hulself minder afhanklik van Eskom kan maak,” sê Piet le Roux, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Le Roux sê die gids sal handig te pas kom, veral gegewe die feit dat die jongste elektrisiteitstariefverhogings eerskomende Maandag deur Nersa aangekondig word. Eskom het gevra dat huidige kragtariewe met 25,3% verhoog moet word.

Solidariteit sal op die tweede dag van die ekspo (Saterdag) ook ’n noodplan vir huishoudings bekendstel om hulself vir die moontlikheid van uitgerekte beurtkrag van tot twee weke voor te berei. Die plan is in samewerking met Maroela Media en KragDag saamgestel.

Le Roux meen die publiek, veral mense met jong kinders, moet ʼn noodplan in plek hê ingeval daar vir ʼn ruk nie krag is nie. “Die Kaapse metroraad en verskeie ander provinsiale en metropolitaanse owerhede het glo reeds begin gereed maak vir so ’n moontlikheid. Die publiek sal tot groot mate op hulself aangewese wees indien so iets gebeur en moet daarom voorbereid wees,” sê Le Roux.

“Met hierdie noodplan wil Solidariteit, KragDag en Maroela Media gewone mense help om self ook voorbereid te wees sodat daar nie rede vir paniek hoef te wees as Eskom wel vir ’n week of twee geen krag lewer nie,” sê Le Roux.

Vir meer besonderhede, besoek www.kragdag.co.za of skakel HP Steyn by 082 466 2341/[email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Katrine ·

Ek wil net graag uitvind volgens die kragdag webblad kan ek die gids by Maroela media kry, maar daar word ek weer terugvewys na krag dag.
Kan iemand asb help, want ek wil baie graag die twee gidse kry – Energie selfstandigheidsgids en Kragkrisis noodplan.
Ek kan ongelukkig nie by die ope dae uitkom nie.
Dankie
Katrine

Sune van Heerden ·

Dagsê Katrine

Die gids sal vandag omstreeks 12:00 op Maroela Media gepubliseer word.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.