Egpare gee terugvoer ná 5 dae sonder tegnologie

esmarie-en-elrich-yssel

Elrich en Esmarie Yssel. Foto: Verskaf

Vyf egpare van die Pretoria-omgewing het probeer om vir vyf dae lank sonder tegnologie klaar te kom. Die uitdaging het van 12 – 16 Desember geduur en is deur Esmarie Yssel, joernalis by Pretoria FM, op die been gebring.

Esmarie meen dit het beslis ʼn verandering in hul huisopset meegebring.

“Dit het verrassend goed gegaan in die Yssel-huis. Ons is maar lief vir ons selfone, want dit gee vir ons Facebook, Instagram, Google en 9Gag, maar ons het die week met groot opwinding – en ʼn tikkie angs – aangepak.

“Ons het in die tuin gesit en Uno speel, wat ons seker so twee jaar laas gedoen het. Elrich het ook lekker kitaar gespeel en ons het saam gesing, terwyl ek kersgeskenke toegedraai het. Ons het regtig rustig gehaltetyd met mekaar gehad.”

Hulle het ook nuwe vaardighede aangeleer in dié tyd, sê Esmarie. “Een van die baie snaakse dinge was dat ek vir Elrich geleer het hoe om my hare in ʼn gewone vlegsel te vleg. Ek het so lekker gelag, want vir ons vrouens is dit ingebore, want die Barbie-poppe se hare word mos al van kindsbeen af gevleg, maar vir my man was dit die moeilikste ding wat ek hom nóg gevra het. Hy het dit darem na vele probeerslae reggekry, wat my baie bly maak, want as ons eendag ʼn dogtertjie het, kan pappa haar hare mooi vleg.”

Dié paartjie meen hulle het televisie en rekenaarspeletjies nogal gemis en dit was eintlik hul grootste uitdaging.

“Ek dink wel my aanvanklike hoop was dat ek meer moeite sou doen om romantiese goed vir ons te doen as ek van die werk af kom en ek dink daar het ek myself teleurgestel, want ek het nie daarby uitgekom nie, maar dit beteken nie omdat die week verby is, is my kanse verby nie.”

elsje-en-barend-van-jaarsveld

Elsje en Barend van Jaarsveld. Foto: Facebook

Een van die paartjies, Barend en Elsje van Jaarsveld, sê hulle het in dié tyd meer kans gekry vir gesels en sommer saam begin oefen ook. “Ek moes bewustelik die elektroniese goed op ongewone plekke in die huis sit sodat ek nie aangaan soos normaal nie. En in plaas van televisiekyk het ons kragoefeninge gedoen, met my vrou as die instruktrise,” sê Barend.

Elsje, omroeper by Pretoria FM, het meer kans gekry vir stokperdjies, soos lapverf. “Dit het my gedagtes rustiger gemaak. Niks hoef meer teen ʼn spoed gedoen te word nie. Ek en Barend het oor baie opwindende en sielsdinge gesels.”

Dié twee sê hulle gaan sommer die meer gesels en saam oefen elke dag in hul lewe toepas en dié uitdaging was beslis die moeite werd.

Vir die res van die paartjies was die tyd sonder hul fone die grootste uitdaging, want dit was ʼn aanpassing sonder WhatsApp en Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

charmaine ·

Dit klink lekker as meeste mense dit doen sal daar gelukkiger families wees en meer gesels.
Ek sal die tegnologie kan los maar nie my boeke nie asb! Soos dit tans is kyk ek nie TV nie so die ding sal ek glad nie mis nie.

JOHANNES ·

Ek stem ek sal nie tv mis nie maar wel musiek in die agtergrond

Marietjie ·

Ek weet van ‘n klomp mense wat maar goed sal sukkel sonder hulle fone. Ek ken mense wat nie sonder hulle foon gaan eet nie en as die foon net piep dan moet hulle kyk. Meeste van die tyd weet ek nie eens waar is my foon nie. Moet myself party keer bel om my foon op te spoor. So ek reken ek sal goed vaar.

riana ·

Ek sal dit ook graag probeer want dan gee mens kwaliteit tyd aan jou geliefde ek ook nie n groot selfoon ou nie maar my Boyfriend sal dit nie maak nie. Ek kies eerder afrikaanse musiek op die tv en sal buite sit en gesels en games speel.

Richard ·

Ek is meer geskok dat Elrich Yssel nooit Barbie gespeel het nie.

ALMAL het Barbie gespeel.

Duuuuude!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.