Ek en my beeldskone boemelaar

peru-berge-suid-amerika

Foto ter illustrasie. Foto: Peter Hershey/Unsplash.com

Deur Pierre Massyn

Sy was ’n gringa. Sy was anders as die gewone bleekgesig-gringo wat jy hier en daar in Suid-Amerika raakgeloop het. Swerwers en avonturiers met hul rugsakke wat in die jeugherberge op die kontinent kom asemskep het. Hier en daar ’n kokaïengebruiker, want dié was vrylik beskikbaar. Daar was soekers wat hulself probeer vind het. Ander wat hul koppe wou skoon kry. Party wou net losbreek, soos ek. Nog ander wou net vergeet…

Een aand in ’n nagklub in Cuzco raak ek aan die gesels met ’n Amerikaanse meisie. Ná die tweede pisco sour, trek sy haar skoen uit en wys my haar regtervoet. Al haar tone, behalwe die kleintoontjie was weg.

“Vriesbrand” vertel sy my. Sy het deur Alaska getrek en in ’n sneeustorm verdwaal. Sy en haar hond. Toe begin sy snik. “Ek moes hom eet…” Sy moes haar geliefde hond eet om te oorleef. Ja, daar is ’n storie in elkeen van ons.

Ek het die gringa die eerste keer in die voorportaal van Hotel Europa in Lima opgemerk. Die Hotel Europa was ten beste ’n derderangse hool met smerige kamers en matrasse waarin die luise baljaar het. Maar vir 20 inti’s per maand (sowat R2 in 1986) kon jy niks beters verwag het nie. Dit was ’n dak oor jou kop en daar was ’n badkamer met ’n stort en toilet wat jy met jou medemense wat op hul voetsole geleef het, kon deel. Regoor die Hotel Europa in die Jirón Ancash was die Kerk van San Francisco waar jy ’n grusame uitstalling kon besigtig: Tallose grynsende menslike skedels en bene. Na raming is daar tussen 25 000 en 75 000 geraamtes op die keldervloer. Met my beperkte Spaans stel ek vas dat die Spaanse Inkwisisie daar doenig was.

Sy was ontwykend, skugter, amper asof sy gelyk het of sy van iets vlug. Sy was in vodde. So goedkoop soos Peru was, weet ek nie waarvan sy geleef het nie. (Ek het darem intussen straatslim geword ná maande in Brasilië, Bolivië en Peru. As jy goedkoop wil eet, volg net die naaste polisieman so van elfuur se kant af. Jy kan maar weet, hy sal jou lei na die cantina wat jou verreweg die beste waarde vir geld kan bied. Vir 10 inti’s kon jy weglê aan ’n fresca, ensalada, brood, plaaslike sop waarin die onvermydelike hoenderpoot dryf, en ’n bord guatitas, oftewel skaapmaag op rys.)

Die meisie in vodde was heuningblond. Haar digby 22-jarige Nordiese skoonheid het uit haar gestraal – ongekunsteld en sonder grimering. Die woord “mooi” sou haar eintlik ’n onreg aangedoen het. Sy was asemrowend. Romantikus wat ek is, het ek haar “die beeldskone boemelaar” genoem. Sy was slegs geklee in ’n soort los, goiingagtige jurk wat plek-plek al gaar was. Haar leersandale was feitlik deurgeloop. Haar welgevormde bene was bruingebrand. Ek kon nie anders as om op te merk dat sy – soos baie Skandinawiese en Duitse vrouens – nie haar beenhare skeer nie. Hulle was blond gebleik en het skerp gekontrasteer teen haar bruin vel. Dit het my laat dink aan die haartjies wat jy op ’n perske kry.

Dit het my lank geneem voor ek met Änja – so het ek haar genoem – ʼn gesprek kon voer. Buen día. ¿Cómo estás? Ek het haar eers in Spaans aagespreek. Tot my verbasing het sy nie die wyk geneem nie. As sy sou, sou ek haar ook nie kon kwalik neem nie – my voorkoms was van so ’n aard dat die eksponente van haute couture in Parys dit as skrikwekkend sou beskou het: Ek het opgehou skeer en my hare laat groei die dag toe ek agt maande vantevore my werk bedank het en na Suid-Amerika geseil het – dit oor ’n private belofte wat ek aan myself gemaak het.

Änja – dit was die naaste waaraan ek kon kom om haar regte naam uit te spreek – was van Oslo in Noorweë, verduidelik sy in Engels met ’n verleidelike aksent. Namate ek haar vertroue wen, kruip sy uit haar dop.

Änja het gerebelleer. Haar pa was ’n skatryk nyweraar en sy het grootgeword in ’n huis wat ons in Suid-Afrika as “bevoorreg” sou kon bestempel. Maar iets het haar gekwel. Dit was wat sy ongelykheid genoem het.

“Die hele stelsel was verkeerd. Ek het alles gehad wat my hart begeer het, alles wat geld kon koop. Miljoene mense weet nie waar hul volgende maaltyd vandaan sal kom nie. Ek kon met veel minder klaarkom. Ek het selfsugtig gevoel. Neëntig persent van die wêreld se rykdom behoort aan 10% van die bevolking.”

En toe klim my beeldskone boemelaar uit die établissement (Ja, ek verkies die Frans, want die woord kom oorspronklik uit Frans). Änja vlug. Sy ontsnap uit haar veilige kokon van materialisme en valse sekuriteit. Met haar laaste spaargeld koop Änja vir haar ’n enkelkaartjie na Lima. Sy is nie bang nie.

“Elke dag sal vir homself sorg,” vertel my nuwe vriendin my. “My familie het my verwerp, maar dit maak nie saak nie. Ek is vry. Ek het nie baie nodig nie. Ek maak my eie koffie. Ek weet nou met elke appel of menu familiar wat ek eet, is ek nog steeds beter daaraan toe as die straatkinders wat in die riool speel of die suigelinge in Kalkutta-krotte.”

En sal sy ooit na Noorweë terugkeer?

“Nie voor die stelsel verander het nie,” sê Änja. Änja was moontlik die oorspronklike kommunis.

Ek en Änja se paaie het kort daarna geskei. Ek en Tisha het Suid-Amerika daarna van oorland, kus-tot-kus, deurkruis. Van Lima aan die Stille Oseaan tot by Rio de Janeiro aan die Atlantiese Oseaan (Ek vir die tweede keer oorland, maar andersom).

Ek wens ek het meer tyd gehad om in Änja se kop te kon kyk. Maar die indruk wat sy by my gelaat het, sal onuitwisbaar in my eie wêreldjie bly.

Ek hoop jy vind geluk, my beeldskone boemelaar.

  • Pierre Massyn het in 1986 sy hoogsbetaalde beroep by die wêreld se grootste uraanmyn prysgegee om te gaan swerf. Hy het twee jaar later met net die klere aan sy lyf na Afrika teruggekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

8 Kommentare

Maria ·

sjoe mooi storie raak diep in mens se hart min skrywe soos hierdie pragtig woord ‘beeldskone boemelaars’ en daaroor skryf. Jammer glo en sal wonderlik storie gewees het as hy saam met haar gereis het daaruit kon meer vertel en vir mense buite werld daaruit kon leer en verstaan.

humor ·

Daar was vir haar n ander uitmuntende opsie. Sy kon haar verhouding met haar SKEPPER en VERLOSSSER in orde kry en binne haar familie gesinsverband haar koninkryksopdrag begin uitleef het, en die ongelykheid in die gemeenskap probeer ophef het. Dit is die enigste weg waarlangs sy geluk kan vind.

Anina ·

Dit is n storie wat mens diep raak en toe ek lekker begin lees toe is dit klaar so jammer sou meer wou lees.

Annette Booysen ·

Dis soos…. verkoop alles wat jy het, gee dit aan die armes,,,,en volg MY!

Essa ·

Lekker storie, met net die regte kwota tragiek. Twee swerwer siele se kort ontmoeting, miskien sonder ‘n gelukkige einde vir die rebelse beeldskone boemelaar.

Bella ·

Haai ek sou nou nooit kon dink dat dit romanties of wys is om sonder enige doel of rigting pad te vat nie. En die rede? My ouers is suksesvol. Ek voel nie bevoorreg of dink nie dat ek meer met die geld kan doen as om toon loos en in stinkende vodde rond te loop en my arme hond op te eet nie. Daar is iets met sulke mense se koppe verkeerd. Hoekom word jy geseën as jy hard werk? Mense is afgunstig en lui. Sal eerder in luisbesmette krotte woon as om ‘n eerbare bestaan te voer. Kyk boemelaars wat alles verloor het ek jammerte voor maar hierdie wysneuse wat stelsels wil verander gee my ‘n pyn. Kommunisme is niks anders as om toe te laat dat jy aan die uitgesuigde speen lek terwyl die ouens wat regeer in weelde leef nie. As my ouers welgesteld was sou ek meer uitgebrei het en meer mense gehelp het. Arme Pierre het stert tussen die bene in vodde teruggekom. Net as daar fout met jou koppie is wil jy snags op straat slaap terwyl jy ander opsies het. Vra maar vir die arme mense wat dit noodgedwonge moet doen.

oop oge ·

nee Bella,
Die meeste Bybel karrakters het weelde prysgegee om die wil van God uit te leef…Jesus self het… Hy het nie eers `n huis of slaapplek gehad nie en moes `n graf leen om in begrawe te word – Dit alles, terwyl Hy die Skepper Homself was – as `n voorbeeld vir die behoeftiges.

Elke mens se weë word deur God bepaal vir Sy eie heerlikheid – geen mens het mag oor sy eie status nie.
As `n mens self onderhoudend is, kan die Here nie veel met jou uitrig nie – want jy is dan self ondehoudend…

Om te rebeleer teen wereldse vooruitgang en rykdom spreek juis van `n sugting na iets Diepers – God self, want dit is waar Ware Vrede te vinde is – al is jy uiteindelik armsalig en `n boemelaar, sonder `n sent op jou naam.

Die Here Jesus het juis gekom vir die armes en behoeftiges, sodat Hy hulle God kan wees en om hulle deel van Hom en Sy Koninkryk te maak.

Die weg na Bo is om nederig te wees voor Sy aangesig.

Die Skrif spreek duidelik ook dat Jesus nie iemand van aansien was nie. Sy reputasie van herkoms het nie veel te wense gelaat vir die hoëgeres nie – geen pa, geen kerk, geen geskoolde opvoeding ….
Ek wil my verstout om te sê dat Hy ook maar as `n boemelaar voorgekom het in die meeste mense se oge…en tog het Hy Die Ewige Lewe gedra in hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.