Ek en my ereskuld

pierre-massyn-waterblommetjie

Pierre Massyn en 42 voet-seiljag Waterblommetjie was die eerste seiljag in menseheugenis met ’n Afrikaanse naam en die Franse Tricolere. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Daar is ’n ding soos ’n ereskuld. ’n Ereskuld moet jy betaal, anders krap hy soos ’n kewer hier in jou agterkop en hy bly pla. Ek het ook ’n ereskuld gehad. Myne het so gewerk:

In Januarie 1984 seil ’n 40-voet kaag (voetnoot 1) om Kaappunt. Die opvarendes is Dudley Potgieter, Malcolm Myers, Beverley Clement en die skrywer van hierdie artikel. Ek en Dudley kom van Windhoek en is mede-eienaars van die Wishbone. Ons het die oggend drieuur van Simonstad losgegooi en suidwaarts gemik.

Met sonopkoms kon ons net-net Hangklip in die ooste uitmaak, aan die ander kant van Valsbaai. Toe het ons na regs, oftewel wes, geswenk om ons om die suidwestelike hoek van Afrika te kry. Teen agtuur lê die Kaappuntvuurtoring loodreg noord van ons. As jy vier seemyl (voetnoot 2) van hom op see is, kan jy hom misgis vir ’n moskee. Merkwaardig genoeg, het daar wel ’n skip met ’n Moslem-naam sy laaste rusplek in Februarie 1878 hier by die Kaap van Goeie Hoop gevind: HMS Kafir. (voetnoot 3) Ons ontbyt bestaan uit Kentucky-braaihoender en Coca-Cola. Ek gooi ’n been oorboord. Iemand merk op dat die visse nou vir ’n verandering na hoender sal smaak, en die hoender nie na vis nie.

Nou beur ons noord, al langs die kus. Ons smul aan die versnaperinge wat Beverley vir ons gemaak het – geen geringe prestasie op ’n skommelende boot in ’n kookplekkie so groot soos ’n middelslaglessenaar nie. Die Slangkopvuurtoring by Kommetjie is aan ons regterkant en Karbonkelberg lê skuins voor ons. Ons het ons hemde uitgetrek en baai in die somerson.

Die Wishbone is ’n swaar boot. Sy weeg amper 15 ton, maar die suidewind stoot ons rustig voort. Ek is in my element. Toe ek 11 jaar oud was, het ek Karl Kielblock se boeke verslind. Baaskannonier Lafras Cuyper was my held.

“Die biere behoort nou al koud te wees”, laat hoor Dudley van hom. Dis nou al gerieflik ná 12:00. Hy en Malcolm laat nie op hulle wag nie en knak elkeen ’n blikkie. Ek huiwer, hoekom weet ek nie. Ek is dalk bygelowig, maar die see voel skielik nie vir my reg nie. Ek besluit ek sal my bier bêre vir wanneer ons Tafelbaai binnevaar.

As jy op see is en jy vaar noord en kyk regs anderkant Houtbaai, toring die Gewelberge (Twaalf Apostels) hemelhoog bo jou uit. Die see is meer wispelturig as die weer. Hy kan sy bui in ’n oogwink verander.

Dit was asof ’n orkaan ons bootjie tref. Die een oomblik het ons nog geflap voor die suidewind, die volgende oomblik klap die rukwind die masboom dwars oor die dek en onthoof byna die bemanning. Die wind jaag teen die berg af, tier oor die see en druk die Wishbone byna plat op sy bakboordkant teen die ysige water. Ons haal seil in om die siedende wind minder vatplek te gee, laat sak die hoofseil twee repe (voetnoot 4), vervat die helm. Dis lankal nie meer ’n plesiervaart nie. Ons wérk. Dit voel of ons nou al vir ure lank teen die see veg.

Toe ons ons oë uitvee, is dit reeds vyfuur. Dis net ons drie mans op dek; Beverley skuil onder en waag dit nie in die stuurkuip nie. Die 60 knope-wind pluk handevol skuim en sproei uit die see en jaag die golwe tot drie meter hoog. Die Kaap van Storms het ons behoorlik in sy wrede greep. Ons laveer elke 10 minute om die wind beter te benut. Ek en Dudley spook soos galeislawe, vervat en gooi die voorseil se toue andersom, dan stuurboord, dan bakboord. Keer op keer. Dit lyk of ons nie vorder nie. Ons klappertand van die koue en is deurnat in ons sopnat T-hempies. Malcolm, by die roer, vaar beter met sy waterdigte oorpak en stewels. Hy is immers ’n ou seerot wat al jare lank in die Kaap woon. Branders breek oor die boot. Ek proe sout tussen my tande. Die radio word nat. Die enjin is onklaar. Dit raak nou vinnig donker.

In die laaste strale van die sakkende son bemerk ons ’n houerskip min of meer regoor Bloubergstrand. As ons dié kan haal, kan ons aan sy snaarstyf ankerketting swaai tot die storm bedaar. Maar nee, die wind speel met ons soos ’n kat met ’n muis. Ons verander koers, probeer weer Tafelbaai binnevaar. Dis nou al amper negeuur. Ons kan nie méér nie. Ons is pootuit, gedaan.

En dan hoor ons die gepols van kragtige motore. Dis die NSRI! Hulle gooi ’n sleeptou aan boord. Ons maak hom sommer aan die voormas vas. Binne ’n driekwartuur is ons vasgemeer by die Royal Cape. Uitgemergel soos ons is, kan ons skaars ons redders bedank, toe is hulle weer vort. Ons steier die seiljagklub se kroeg binne, sidderend van koue en adrenalien. Ek hoor later ’n onbekende lid van die publiek het ons wit seile in die duisternis gesien en besef daar’s ’n seiljag in die moeilikheid. Hierdie weldoener het toe die NSRI in kennis gestel. Die bier wat ek myself nege uur vantevore belowe het, het nog nooit lekkerder gesmaak nie

Ek het deur die jare gedink aan hoe die NSRI my gered het – en hoe ek hulle kon beloon. Toe besluit ek om Kilimandjaro – die hoogste vrystaande berg ter wêreld – te klim.

Ek woon op L’Agulhas, die suidelikste dorp in Afrika. Stasie 30, Struisbaai, is die Suidelikste reddingstasie in Afrika. Die NSRI s’n. En ek is ’n lid van die NSRI.

“Shane, gee my Stasie 30 se vlag, ek het ’n plan”, vertel ek Shane Kempen, stasiebevelvoerder daardie dag in 2005. My “plan” was om simbolies die hoogste berg in Afrika met die Suidpunt te verbind – die een uiterste met die ander. En toe klim ek en Soldaat 027 (voetnoot 5) Die Berg.

En op 3 Maart 2005 hys ek Stasie 30 van Struisbaai se vlag op Uhuru-piek. Die koerante het van die storie gehou, en die NSRI ook. Hulle stuur die foto van die NSR-vlag bo-op Kilimandjaro die wêreld in – dis die hoogste berg waar ’n NSRI-banier nog gewapper het. Hulle samel meer as ’n miljoen rand met dié poging in, sodat hulle nóg lewens kan red.

Die stemmetjie van my gewete het bedaar. Ek het my ereskuld betaal.

Malcolm Myers het hom later in ’n konka op die kaai naby die Royal Cape tuisgemaak. Drank en sigarette het hom ingehaal. Maar voor hy gegroet het, het ons twee nog ’n boot geskuif – van Houtbaai tot by die marina in Tafelbaai. Hierdie keer was die weergode ons genadig. En die Wishbone? Sy het ’n ewige watergraf gevind by Lüderitz, waar haar beendere tot vandag toe rus.

Ek was nie aan boord nie.

  • Pierre Francois Massyn is ’n seiljagmeester – aflandig, avonturier en skrywer.
  1. Tweemaster-seiljag waarvan die voorste mas langer as die agterste mas of besaansmas is.
  2. Een seemyl is 1,852 kilometer, dus is 4 seemyl is sowat 7 kilometer.
  3. Die HMS Kafir was 249 voet lank met ’n tonnemaat van 982 ton. Hy was van Tafelbaai na Port Natal onderweg toe hy ’n rots naby Oliphantsbosch, Kaappunt getref het en sy kiel geknak het. Die naam “Kafir” is Arabies vir ongelowige of iemand wat Islam verwerp.
  4. Die hoofseil op die hoofmas – ’n sloep het net een mas – word “gerif”, oftewel laat sak en dan om die boom vasgewoel om sy oppervlakte kleiner te maak in ’n sterk wind. Daar is gewoonlik drie riwwe in enige hoofseil.
  5. Soldaat 027, in Engels “Soldier 027” het die sluier gelig op Bloedige Sondag 30 Januarie 1972, toe Britse valskermsoldate 14 Ierse betogers geskiet het, die meeste van hulle in die rug. Hierdie insident word beskryf in Massyn se jongste boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

ChrisE ·

Baie lekker om te lees. Ek het nog altyd die “roeping” gehad om die Kaap na Rio wedvaart mee te maak. Ek kyk gereeld na programme wat handel oor vaarte om die wêreld en waar ook al. Daar is ‘n paar goed op die aarde wat my oopbek laat aangaap. Die eerste ding is ‘n vliegtuig. Ek weet die dinamika van vlieg werk op sekere manier. Die tweede is ‘n seiljag. Geen motor behalwe die wind skuif dit nie. Net jou kennis en vernuf sal jou help om vorentoe te gaan.

NEE MAN ·

So vroeg op ‘n vrydag oggend my laat huil. Dis so ‘n mooi hehindering vir jou en ‘n deel storie vir ons!

Esme van der Merwe ·

Sjoe as ons maar almal ons ereskuld kon betaal – pragtige storie.

Eish ·

Meesterlike en meesleurende vertelling!
Baie dankie.
Ereskuld, pragtige konsep wat mens aan die dink sit!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.