Ek is dors

paasfees-danabaai-strand-deur-juanita-badenhorst-03

Danabaai se strand. Foto: Juanita Badenhorst.

Die vyfde kruiswoord van Jesus “Ek het dors”, is in Grieks net een woord, dipso.

Die skeppie suurwyn uit die soldate se rantsoen was eintlik oorbodig, want Jesus se dors was ná drie ure van duisternis en godverlatenheid meer as net ’n dors na water.

’n Voetnota in ons Bybel verduidelik dat Jesus met die een woord Psalm 69 in herinnering roep. Die opskrif van Psalm 69 in die 1933-vertaling is “Die martelaar”. Die Psalm openbaar iets van ’n martelaar se angs, pyn, hulpeloosheid, vrees en dors in lyding.

“Verlos my o God”, roep die digter, “want die water het tot by my siel gekom. Ek is moeg van My geroep, my keel brand, my oë versmag terwyl ek wag op God. Ek het gewag op medelye, maar verniet; en op vertroosters maar het hulle nie gevind nie. Vir my dors het hulle my asyn laat drink. Ek is ellendig en vol pyn …”

Met die een woord, dipso, het Jesus nie net uitdrukking gegee aan die intensiteit van sy lyding nie, maar ook integriteit van sy karakter openbaar.

Persoonlike ambisies, blaas van eie beuel, byltjies wat geslyp moet word, eie agendas en koninkrykies, ontduiking van verantwoordelikheid, napratery en onegte optrede ter wille van gewildheid, deurstaan nooit die toets van integriteit nie. Mense sonder integriteit tree op asof daar twee stelle reëls is: Een vir my en een vir jou. Hiervan is daar oneindigende voorbeelde in die politiek, ekonomie, klaskamer, werkplek. Selfs in die kerk. Die uiteinde van integriteitlose optrede is nie net ’n verlies van vertroue tussen mense of in openbare instellings nie, maar ʼn samelewing van dehidreer.

Mense maak maklik die fout om te dink dat integriteit slegs handel oor eerlikheid of morele hoë grond. Dit gaan oor veel meer.

Integriteit is afgelei van die Latynse woord integer wat “heelheid” of “voltooid” beteken. Die toets vir integriteit is geïntegreerdheid van denke en optrede. Dit dui op konsekwente handeling in goeie en slegte tye.

In goeie tye is dit maklik om met integriteit op te tree. Integriteit te midde van lyding is die werklike toets van die diepte van ʼn persoon se integriteit.

Jesus het drie geleenthede gehad om af te wyk van die kruispad. Die aand in Getsemane, die Donderdagnag tydens die Sanhedrin se verhoor en die Vrydagoggend voor Pilatus. Jesus het sy lydensweg met integriteit in denke en dade bly stap. Hy het dit met integriteit vir ons gestap.

Die integriteit van Jesus in Sy lyding ontbloot die skare, maar ook ons integriteitlose navolging. Soos om leuens te vertel om onsself uit die moeilikheid te praat, verantwoordelikheid in moeilike situasies te probeer ontduik, skuld te verplaas, dubbele maatstawwe aan te lê wat onsself bevoordeel, of om ander klakkeloos na te praat omdat dit op die oomblik die in-ding is om te doen.

Om te midde van valse beskuldigings, beledigings, verguising of onregverdige handeling steeds aan God getrou te bly; om in die woorde van Psalm 69, steeds die Naam van God te prys met danksegging, is slegs genade.

Dipso is ʼn dors na integriteit, maar ook ’n vashou aan God. Selfs na drie ure van godverlatenheid. Jesus het aan die kruis ook ons dors, ons pyn en hartseer voor die Vader gelê. Hy het inderwaarheid kom sê: “Vader, ter wille van hierdie mense kan ek U nie los nie. My seer, pyn, gebrokenheid en eensaamheid is ook hulle seer, pyn, gebrokenheid en eensaamheid. My dors na U geregtigheid is ook hulle dors.”

Net Jesus kan die dors van ʼn integriteitlose wêreld les. Daarom kan ons verby die kruis kyk en die uitnodiging van die lewende Jesus hoor: Kom! Elkeen wat dors is, moet kom, elkeen wat van die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!

Wie sy dors les uit die fontein van lewende water ontvang ’n nuwe dors. ’n Dors om die wil van God te doen. Dit is ’n lewe met integriteit teenoor God en my naaste.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.