Ek is ’n McDonald’s mens

Foto ter illustrasie. Foto: Verskaf.

Deur David Muller

Voor my in die ry staan ’n ma, seker in haar veertigs, met drie kinders. Hulle filosofeer en kontempleer oor die gedagte of hulle enigsins iets anders, behalwe die drie goedkoop roomyse, by McDonald’s wil bestel. Later begin ek iets soek om teen te leun. As hulle só lank vat om te besluit of hulle middagete hier gaan bestel en of hulle nou sommer net ’n roomys gaan eet, hoe lank gaan dit neem om hul bestelling te plaas, murmureer ek in my binneste. Ek is honger en ek is moeg gewag.

Toe dit uiteindelik my beurt raak om te bestel, moet ek hoor dat die roomysmasjien nou eers weer van vooraf sal moet roomys maak, omdat hulle die laaste roomys gebruik het vir die drie kinders voor my. Die temperatuurmeter op die tjipsmaker en dié op my voorkop se lesings is dieselfde.

“Ek is baie haastig, moes lank in ’n ry staan en nou dít!” Ek stap vies by die deur uit.

En toe tref die belaglikheid van dié restaurant my: Ek meld aan by ’n kitskosrestaurant, dan word daar van my verwag om in ’n ry te staan én vir my bestelling te wag. Kort daarna, tref ’n ander belaglikheid my: ekself!

Ek het in ’n paar jaar se tyd ’n kitsmens geword. Ek sit nie meer in restaurante wat met sorg en kreatiwiteit my bestelling voorberei nie, ek verkies eetplekke wat binne vyf minute my honger kan stil. Ek koop nie meer saadjies om in die tuin te saai nie, ek kry eerder klein plantjies wat reeds suksesvol aan die groei is, want dan kan ek dadelik sien dat daar iets geplant is. Ek wil nie meer ry om ’n DVD te gaan uitneem nie, ek wil in my TV-kamer sit en dit op BoxOffice kyk. Ek het die aromatiese ervaring van koffiebone maal verruil vir ’n pakkie kits-Cappuccino. Ek was nie meer die goggatjies van my buffer af nie, ek ry liewer tot by die karwasplek sodat daardie groot borselmasjiene dit kan doen, terwyl ek binne-in die motor sit en luister na ’n selfhelp-potsending.

Ek het ’n instant-mens geword – in soveel aspekte van my lewe. Dit het moeite geword om probleme met my medemens ordentlik deur te praat. Ek verkies iets eenvoudig en kits, soos om hulle te ignoreer of te unfriend.

David Muller. Foto: Verskaf.

Wat gaan van ons word as ons alles in ’n kits en onmiddellik wil hê en doen? Loop ons iets mis omdat ons nie bereid is om ons eie veertig jaar in die woestyn te spandeer nie? Probeer ons tyd wen? Tyd opmaak of spaar? Vir wat? Maak ons smagting na alles wat kits en maklik is, ons nie juis arm mense nie – mense wat vinniger as tyd probeer leef?

Dit gebeur ook in die kerk en met my geloof. Ek stap klokslag die kerkgebou binne, verwag ’n mooi-verpakte en maklik verteerbare prekie en dan reken ek “ek het weer bietjie pitkos vir die week gekry”. Die preek moet ook maar instant wees. Die dominee moet my die detail spaar en tot die punt kom. Ek gee my geldjie aan die einde van die diens en op pad huis toe stop ek by McDonald’s.

Ek is tweede in die ry. Voor my in die ry staan ’n ma, seker in haar veertigs, met drie kinders.

  • David Muller is ’n teoloog, sanger, skrywer en fotograaf. Baie het hom leer ken as die “singende dominee”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chris Ws ·

Nog nie een keer naby ‘n Mc Donald’s gekom van hulle in die land oopgemaak het nie.Het ook geen begeerte nie.Hou niks van kitskosse nie so kitskos plekke maak nie geld uit ek en my vrou nie.Dis te lekker om in ‘n eetplek te gaan sit en ontspan van al die gejaag en lawaai in die strate en rustig ‘n heerlike ete saam met my eggenoot aan tafel te geniet.

Anoniem ·

Liewe DS, daar is ‘n verskil tussen shopping en noodsaaklike dienste soos dokters, verpleegpersoneel, polisie, en dies meer. Of is dit vir jou lewensnoodsaaklik om op Sondae te shop?

B ·

Ek dink eintlik baie hieroor – hierdie ‘kits’ lewe. Ek vermoed dit spoel ook oor na oorbeklemtoning van ‘DIE EK’ – ek meen, wie is ‘jy’ (generies) om MY tyd te mors in hierdie tou, op die pad, by die deur ens ens. Daarmee saam verdwyn ‘n klomp wedersydse respek (geduld!) en meelewing want EK moet bedien word, my belange is die hoogste op die rangorde.

Pappi ·

In die Kol Dawid Muller….die mens van vandag is n voeg net water by modern mens…alles moet mos maklik wees…en ja o ja…DIE EIE EK SEEVIER!!!!….

Pieterbusa ·

Goed geskryf, en alhoewel ek definitief saamstem moet ek bysê dat die hele lewe, als om ons het in ‘n gejaag verander. As jy nie ‘n “kits” mens is nie gaan jy agterbly.

Nika ·

David gaan kyk bietjie ‘interview that broke the internet with Simon Sinek’ ek dink baie van ons het kitsmense geword. Die eerste geheim om van ‘kitsheid’ ontslae te raak is breek bande met sosiale media, bel mense inplaas van ‘whatsapp’, reel persoonlikke kuiers met vriende en familie wat langer as 1 uur duur, stuur handgeskrewe briewe en kaartjies in plaas van sms’e en vat n wegbreuk vakansie in die bos sonder tegnologie.

Lollie ·

Uitstekende skryfstuk! Gelukkig kook ek 90% van die tyd nog ons eie ete maar in baie opsigte het ek myself gesien in die stuk.
Pragtig en so waar!

sandra ·

Ek koop nie maklik McDonald’s nie, maar moes een aan uit moedeloosheid vir my en my kind ‘n burger gaan koop. Karton smaak beter as die burger en die sous wat hulle opgesit het, ek probeer nog uitvind wat die smaak daarvan behoort te wees. Al wat smaaklik was, was die melkskommel. Hulle sien my NOOIT, OOIT weer nie. Skandalig dat sulke besighede steeds bestaan, maar nou ja, dis seker as gevolg van stupid mense soos ek wat vining iets moes kry om te eet.

Laetitis ·

Dit is weereens vir my ‘n openbaring om te besef hoe gemaksugtig ek geword het.Dankie David

Dropkick ·

Alle kitskos is nie oneetbaar nie, maar McDonald’s is beslis die onsmaaklikste “iets” wat ek ooit geproe het. Die skyfies was skaflik.

humor ·

Hier van ver uit Namibie, uit die platteland beland ek soms in die stede van SA Keer op keer beklemtoon ek dit teenoor my kinders ek is ons VADER dankbaar dat ek nooit verswelg was in hierdie sintetiese wereld van onpersoonlikheid, n nimmereindigende gejaag, n stadsgedreun en kitskos nie. Ja ons eet soms uit maar die heerlikste ete van alle etes het ek nog aan my eie eettafel geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.