Ek kon sien die kind is bang … 

Kongo-straattoneel

‘n Tipiese straattoneel in ‘n stad in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Foto: En.wikipedia.org

Byamungu beteken “vir God” in Swahili. Sy ma het hom die naam gegee omdat hy ’n geskenk uit die hemel was en sy hom graag aan God wou wy.

Nou die dag ry Byamungu saam met my na ’n kamp. Toe ek by die vulstasie stop om vir ons iets te ete te kry, sien ek hy is bang, hy wil nie alleen in die kar wag nie. Ek sê hy moet saam loop.

Toe ons weer ry, vra ek hom uit. Hy vertel my sy storie en skielik verstaan ek waarom hy bang is.

Hy het in ’n klein dorpie in die Kongo (DRC) grootgeword. Sy pa het met mielies en kassawe geboer, sy ma het die kinders grootgemaak. Deur die week het hy en sy sussies skoolgegaan in ’n klein plaasskooltjie.

Meer as een keer het die plaaslike weermag, die Mai-Mai, seuntjies so jonk soos tien jaar oud kom vang om op te lei as kindersoldate. Byamungu vertel hoe hy dan onder sy pa se bed of in die woud gaan wegkruip het.

Een aand het ’n ander terroristegroep uit Burundi hul dorpie aangeval. Hulle het handgranate gegooi, mense voor die voet geskiet en met pangas gekap, selfs ou mense en kinders, die vroue verkrag en die huise en kerke aan die brand gesteek.

Byamungu het deur die nag gevlug. Hy kon die gille kilometers ver in die donker hoor.

Op ’n manier het hy die volgende paar dae deel geword van ’n groepie vlugtelinge wat suidwaarts gestap het. Van hulle het vertel dat hulle veilig sal wees in ’n land met die naam “Suid-Afrika”. Toe ek hom vra deur watter lande hulle gestap het, sê hy: “I was a small boy, I didn’t know about the names of countries.” Hy het maar net saam met die grootmense bly stap.

Ná maande se gesukkel kom hy toe uiteindelik in Suid-Afrika aan. Dis ’n lang storie, maar op ’n manier beland hy op straat in Sunnyside in Pretoria. Hy het niemand geken nie en kon net Swahili, Frans en sy plaaslike taal praat. Later beland hy in ’n skuiling vir straatkinders, waar hy Engels leer praat en weer vir die eerste keer skoolgaan.

Byamungu het so min gekies om in daai dorpie in die Kongo gebore te word, as wat ek gekies het om in die Vrystaat gebore te word. Hy moes moeilike keuses maak in uiters moeilike tye. Ek is in geen posisie om hom te oordeel nie, ek bewonder sy moed en deursettingsvermoë (en dat hy so vinnig Engels kon leer praat!). Hy is ’n dapper jong man.

Dis nie maklik om ’n Kongolese straatkind in Pretoria te wees nie. Hy vertel die verskriklikste stories oor hoe die plaaslike Suid-Afrikaners hom al behandel het, hom uitkryt as “Makwerekwere”, en hoe dikwels die polisie hom in hegtenis neem en aanrand. Hy het al gewens hulle wil hom deporteer, maar hulle wil nie, sê hy, en hy het in elk geval niks om na terug te gaan nie. Die mense by binnelandse sake maak dit amper onmoontlik vir vlugtelinge soos Byamungu om wettig in die land te wees.

Terwyl ek na sy storie luister, weet ek een ding: Een van twee groepe mense in ons land gaan vir ’n kind soos Byamungu ’n familie wees – óf die misdadigers óf die kerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eliza-beth ·

Dankie Jaco dat jy die gedeel het. Die xenofobie wat nou weer oor ons land woed is so onnodig. Mense is mense en wil ook net son op hul vel voel skyn sonder om heeltyd te moet omkyk wie hul wil aanval. Vreemdelinge in ons land is ‘n baie moeilike kwessie. Daar is die wat met geen goeie bedoelings kom en met dwelmhandels en ander onwettigge bedrywighede in ons, oor die algemeen, wettelose samelewing kom floreer want dit pas hulle. Dan is daar die wat net ‘n werk wil hê, wat wil sorg vir hul mense tuis, want daar IS nie ander opsies waar hul vandaan kom nie. Ek weet ook dat die ander kant van die saak is dat hulle werk neem wat Suid Afrikaners kan doen. Maar ek weet ook baie Suid Afrikaners is lui en WIL nie werk nie, maar kan gou kla en vreemdelinge aanval. Baie van hierdie sg vreemdelinge word absoluut misbruik – hul kry hongerlone (kan nie kla, het nie unies, het niemand wat namens hul kan praat nie want hul mag mos eintlik nie hier wees nie)en moet ongelooflike lang ure werk, kry nie juis afdae, vakansies. bonusse ens. En hulle moet dit maar aanvaar want die mense tuis is honger…

Elfie ·

Die xenofobie is myns insiens sommer ‘b verskoning vir rampokkery. Daar word sommer links en regs nou weer ge-“loot” en winkels beskadig – wat het dit enigsins met enigiets te doene? Die mense wat so tyd het om ander aan te rand ens – hoekom spandeer hulle nie liewer hul tyd om geskool te raak en so werk te kry nie. Of skep self werk! Baie van die uitlanders kan julle ‘n ding of twee wys. Hulle kom hier met niks maar deur wilskrag en dekselse harde werk raak hul suksesvolle winkeleienaars! Dankie vir die mooi storie Jaco

Tammy ·

Hartroerende storie. Dankie. n Mens is eintlik maar net die eindproduk van die geleenthede wat jy in die lewe gekry het. Daar is wel wat n wesenlike verbetering is op hul geleenthede vir wie ons eintlik groot respek het, maar daar is dan wat besonderse geleenthede kry maar dit vertrap. (misdadigers word)

lynette ·

Aggenee soos wat ek dit sien is dit jaloesie . Ek self het twaalfjaar in Wes Afrika gebly en gewerk . Die mense kom hierheen om regtig n lewe te maak . Daar is nie vir hulle sulke geleenthede om vooruit te gaan nie . En glo my almal daar weet wie Madela was . Hulle was so opgewonde as hulle hoor jy kom van Suid Afrika . Ek se nie almal is hier te goede nie . Maar kyk hier kan mense skool opleiding kry . Soveel so omtrent gratis maar hulle besluit steel , roof en moor is makliker . Kan ons nie maar net in vrede lewe nie

nig ·

Die mense kom hier met NIKS en word suksesvolle spaza eienaars. Hoekom? Hulle is nie lui nie en werk! Hierdie kastige xenofobia is NET ‘n verskoning om winkels te beroof ens. Tipies. En nou het dit alles internasionale repurkussies wat ons ekonomie BAIE sleg gaaan beinvloed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.