Elandspoort se skooltjie van hoop

Foto: Maroela Media/Minette Nel

Foto: Maroela Media/Minette Nel

Sy wag tot ek by die erf inloop en skuif die hek stewig toe. “Hulle steel mos kinders hier in Elandspoort,” sê Belinda Brönner terwyl sy seker maak die hek is gesluit.

ʼn Rilling trek deur my lyf en ek dwing my gedagtes na die geboutjie voor my. Vandag se besoek gaan nie oor verlore kinders nie.

“Sê hallo vir die tannie!” roep Belinda toe ons die vertrek binnestap. ʼn Swerm kinders kom nader gehardloop en gryp my aan die been – die langste van die klomp pas my by die heup.

Ongeveer 32 kinders tussen die ouderdom van twee en ses jaar oud bring die helfte van hul dag by Pikanini-dagsorg deur – ʼn projek wat bedryf word deur Hanna Charity.

Belinda is die areabestuurder in Elandspoort. “Jy is net betyds, dis koekietyd!” sê sy. Die kinders gaan sit by hulle tafels en ongeduldige handjies steek in die lug terwyl juffrou Anneke, Rose en Theresa koekies en sap uitdeel.

“Hierdie kinders kom uit huise waar omstandighede nie goed is nie – hulle raamwerk is net anders. Ons probeer dinge anders benader as wat hulle tuis gewoond is.”

Nadat vuil hande, monde en tafels skoongevee is, hardloop die groep buitentoe en dit lawaai omtrent soos daar gespeel word. Een klein lyfie bly agter en kom staan voor my met smeekogies, wag vir toestemming en maak haarself tuis op my skoot.

Foto: Maroela Media/Minette Nel

Foto: Maroela Media/Minette Nel

Die kindertjies hier kry twee etes per dag en Belinda sê sy glo Pikanini-dagsorg maak beslis ʼn verskil, hoewel hulle baie uitdagings beleef.

“Jy sien hoe groei die kinders”, sê Belinda en wys ʼn vinger na die kind op my skoot. “Toe Cindy en haar boetie hier aangekom het, was hulle brandmaer gewees. Toe ons vir hulle vaste kos gegee het, het hulle gehuil want hulle magies was nie gewoond daaraan nie. Hulle is nou ander kinders.”

Wanneer ʼn kind hier siek word, rus die onus op die personeel se skouers want die ouers het nie geld vir medikasie of ʼn selfoon waarmee die skool hulle kan kontak nie. Dié is maar net een van vele uitdagings.

“Die kindertjies is gebore in hierdie omstandighede en ʼn mens gee vir hulle die beste wat jy kan – liefde, kos en dissipline. Maar die Here is goed vir ons. Ons gaan aan.”

Belinda verskoon haarself en gaan loer wat buite aangaan. Terwyl die res van die personeel saam buite speel, kom juffrou Anneke Ellis (26) aangedraf en kom sit voor my op ʼn pers stoeltjie. Dié juffrou het teologie studeer, sommer haar honneursgraad ook gedoen, toe ʼn graad in sielkunde verkry en is tans ook besig met haar onderwysgraad. Ek wonder hardop wat sy by dié skooltjie doen.

Foto: Maroela Media/Minette Nel

Foto: Maroela Media/Minette Nel

“Ek het baie lank gebid oor waar ek moet wees en die Here het hierdie deur vir my oopgemaak. Ek glo dit is waar Hy my soek.” Sy is selfversekerd met ʼn sagte gees, maar Anneke beleef ook haar eie uitdagings.

“Ek moet my verwysingsraamwerk heeltemal aanpas. Ek het op ʼn dag vir die kinders gevra hoe ʼn mens se gesiggie lyk wanneer jy ʼn geskenkie kry, en hulle het geen idee gehad wat ʼn geskenkie is nie. Die armoede hier vang my soms.”

Sy gesels oor die kinders se ontwikkeling en meen sommige van hulle weet nie hoe basiese kleure lyk nie of sukkel met tel. Maar sy is vasberade: Dié juffrou werk met ʼn plan.

Foto: Maroela Media/Minette Nel

Anneke, Rose en Belinda. Foto: Maroela Media/Minette Nel

ʼn Kind kom al huilend aangestap en juffrou Anneke is reg om te troos. Cindy klim van my skoot af – blykbaar het die motorfietsies buite haar aandag getrek en ek gebruik die geleentheid om met Rose Lamoola (32) te gesels. Sy werk hier al sedert Pikanini-dagsorg se ontstaan drie jaar gelede.

“Hierdie werk is my alles. Ek is so lief vir die mense hier, ons is soos ʼn gesin. Ek glo in die werk wat ons hier doen, want die kinders is regtig gelukkig. God gee my krag wanneer ek swak voel, en dan kan ek weer aangaan.”

Die speelarea is klein, en ʼn mens moet mooi trap terwyl swart fietse om jou jaag. Ander lyfies draai pienk hoepels in die lug.

“Tannie! Tannie! Vir my! Vir my!” Ek vat die kamera om my nek vir ʼn laaste keer en neem ʼn kiekie van die laggende gesig. Soos wat ek na die hek beweeg, word ek deur talle lyfies omhels. Rose maak die hek agter my toe en maak dubbel seker die hek is gesluit.

Foto: Maroela Media/Minette Nel

Foto: Maroela Media/Minette Nel

Ek kyk af in die straat, ʼn straat so anders as dié een waarin ek grootgeword het, en ʼn klein dogtertjie hou my fyn dop. Ek glimlag en waai, maar kry geen reaksie nie. Haar gesiggie is strak, amper soos een wat al te veel gesien het…

Besoek Hanna Charity se webblad vir meer besonderhede oor hul projekte en hoe jy betrokke kan raak.

Pikanini-dagsorg se wenslysie:

  • Kos soos vars groente, vrugte, pasta, rys en blikkieskos
  • Skoonmaakmiddels
  • Skooltassies
  • Skryfbehoeftes

[fvplayer src=”https://youtu.be/2TJJRmkJFJ8″]

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Sê maar net ·

Het die skooltjie met al die kinderwette en menseregte toestemming om al die kindergesiggies so in die media mag wys?

Lientjie ·

Al wat nodig is, is die ouer of wettige voog se toestemming. Dit verander as dit kom by n kinderhuis, daai kinders is in veilige bewaring of ouer loos, dan mag fotos van kinders onder 16 nie versprei word nie. Maroela help my reg as ek verkeerd is.

Belinda Bronner ·

Hierdie kinders woon almal by hul ouers. Ons het toestemming om die fotos te gebruik v d ouers.
Ons sal nooit iets doen om die kinders te na te kom nie. Maar ons is ongelukkig net van donasies afhanklik want ons kry geen hulp van die staat nie. Artikels soos die help om mense bewus te maak. Baie dankie Maroela media

Magda ·

Dankie vir die artikel en ook vir almal wat daar help – Hartseer hoe so baie mense swaar kry en die kindertjies altyd die swaarste kry.

Daan Erasmus ·

Hanna Grobler doen fantastiese werk. Mense ondersteun asb. Die nood is Groot.

John ·

‘n Grootse poging vanuit Afrikanergeledere is dringend nodig onder ons armblanke-gemeenskappe wat oraloor in haaglike omstandighede probeer oorleef en swak mediese sorg in staatshospitale ontvang. Met net hier en daar ‘n paar barmhartige siele wat uitreik is nie genoeg nie. Waar werk witmense sonder kwalifikasies? Hoeveel toonbankassistente is witvroue of mans veral in die talle supermarkte? Is dit ‘n gegewe dat arm witmense net karre moet oppas vir ‘n lewe en hoe siek kilometers ver moet loop na hul naaste buitepasiente en na ure weer terug en ons kyk anderpad. Dit is tyd dat ons ons naaste se hand vat. Afrikaners met grade sonder werk sal ook so leef. Die regering spaar lekker want elke poging van hulp word toegeval deur ander wat voor in die ry indruk en ons (hoog heilig) val telkens bang daarvoor en so bly ons op die glybaan na verval.

Marisa ·

Dis ‘n baie oulike artikel. Maar mag julle die kinders se gesiggies by so ‘n storie plaas. Ek dink daar is wette wat die blootstelling van hierdie kindertjies beskerm. Dit voel vir my so verkeerd om hierdie gesiggies in die media te sit. Hulle het nie beheer oor hul omstandighede nie.

Marisa ·

Skies, ek sien julle het toestemming. Dit bly steeds hartseer….

Benita ·

Dankie vir die artikel en julle onbaatsugtige werk! Ons sal julle vir seker ondersteun.

Sylvia ·

Wow dis so verskriklik. My hart is nou so seer vir daardie arme onskuldige wesies.

Cherise ·

Marisa dis nie ‘n ou artikel nie. Datum van artikel is 15 February 2017.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.