[Entrepreneurskap] Hoe om ʼn sakenetwerk op te bou

Karin-Metz-KlipkouersKaren Metz is die uitvoerende direkteur van die BNI-Tshwane-streek. BNI (Business Network International) is die grootste sakeverwysingsnetwerkgroep in die wêreld. Sy het in 2015 sowat 300 sake-eienaars gehelp om meer as 64 miljoen rand se besigheid onder mekaar te verwys.

  • Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself

Ek het aan die Oos-Rand grootgeword, was in Boksburg op laerskool en in Benoni op hoërskool. Vandaar het ek direk na matriek ʼn draai in Durban gaan maak en toe by Tukkies gaan studeer, waarna ek vir so ses jaar in Witrivier, in die pragtige Laeveld, was voordat die stad my weer teruggeroep het. Ek bly tans in Lynnwood Glen, ʼn voorstad van Pretoria, ek is getroud en speel lekker met my broer se kinders.

  •  Watter probleme los jou onderneming op? 

Die groot probleem is ondernemings wat altyd op soek is na kliënte, as ek so na jou podsendings luister. Nog ʼn faktor is ook waar om nuwe kliënte te kry, want hoe slegter dit gaan met die ekonomie, hoe minder geld het mense beskikbaar om op verkeie sakeplatforms te bestee, want hulle is ook nie altyd seker dit gaan effektief wees nie. Dit word dus in sulke omstandighede belangriker om ʼn groep mense in jou onderneming te hê wat van jou hou en jou natuurlik ook vertrou en daarom bemark hulle jou aktief sonder dat hulle bakhand staan vir kommissie. Ons fokus by BNI (Business Network International) daarop om hierdie sake-eienaars effektief te leer hoe om ʼn sakenetwerk op te bou, deur die opleiding en later die platform te verskaf wat ons vir hulle daardeur skep. Ons gee ook vir hulle ʼn manier om sake te genereer, wat hulle effektief baie minder kos as byvoorbeeld ʼn advertensie in ʼn koerant en die opbrengs op belegging is baie groter.

  •  Wat maak jou anders as jou mededingers? 

Daar is heelwat netwerkgroepe in Suid-Afrika en veral in Pretoria en ek sien hulle glad nie as mededingers nie. Inteendeel, ek vat graag hande met hulle, want ek glo almal van ons het ʼn spesifieke doel en fokusarea waar ons speelveld is. Ek moedig altyd van ons lede aan om by minstens twee ander netwerkgroepe in te skakel, bo en behalwe BNI. Goeie groepe is byvoorbeeld die Capital City Business Chamber, asook die Centurion Business Chamber, maar by BNI fokus ons steeds daarop om ons lede te leer hoe om effektief te netwerk deur ook die belangrikheid van verhoudings te beklemtoon. Onthou wat ek vroeër gesê het: mense doen sake met mense van wie hulle hou en vertrou; mense koop jóú voordat hulle jou produk of jou diens koop. As ons dus nou sake-eienaars leer hoe om te netwerk, hoe om enige situasie, selfs by ʼn begrafnis, afhangende van hoe jy dit doen, te gebruik, kan hulle sodoende vir hulself ʼn sterk netwerk opbou wat onafhanklik is van hoe dit met die ekonomie gaan.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Dis ʼn maklike eentwoord. BNI bemark glad nie, ek doen glad nie advertensies nie en selfs ons sosiale mediaplatform is daarop gerig om kennis te deel eerder as om kliënte te werf. Ons effektiefste manier is spesifiek dít wat ons ons sake-eienaars ook leer: word of mouth-bemarking, waar my huidige en selfs vorige lede regtig aktief vir hul kliëntebasis en vriende vertel van die verskil wat BNI in hul ondernemings gemaak het, hulle nooi om saam met hulle ʼn chapter te besoek om te sien hoe lyk die groep en die span te ontmoet om te sien of dit iets is wat vir hulle kan werk. Ek word gereeld gevra om te verduidelik wat gebeur by BNI-vergaderings en jy sal met my saamstem dat om te verduidelik wat daar gebeur is letterlik soos om hare oor die foon te sny – dit wil maar net nie werk nie, want mens moet fisies daar wees om te sien wat daar gebeur en wat daar aangaan.

  • Julle het nou net onlangs ʼn negende groep in Hartbeespoort begin. Vertel bietjie meer oor die groepe en min of meer hoeveel lede die groepe het.

Ons staan nou op nege Chapters in my streek, en ons gemiddelde aantal lede per internasionale Chapter is 26 en op nasionale vlak staan ons op twee chapters, met 24 lede. Ek kan egter byvoeg dat dié in my streek die afgelope 24 maande konstant maandeliks met meer as 32 lede gemiddeld per Chapter funksioneer. Ek het lank terug die keuse gemaak dat ek liewer minder chapters in my streek wil hê, maar sterker chapters, want jou aantal verwysings wat in ʼn groter groep vloei, is eksponensieel meer; jy kyk byvoorbeeld na ʼn chapter van so 20 lede wat gemiddeld so 85 verwysings per maand onder mekaar genereer, maar sodra die groep by 40 lede trek, groei jou verwysings na so 380 toe.

  • Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou onderneming?

Daardie sake-eienaar wat dink hy kan miskien weekliks by BNI betrokke raak, wat een geleentheid bywoon en geen interaksie of deelname wys nie en dan verwag die geld en die kliënte moet in sy/haar skoot spring, is wat my oneindig frustreer. Ek is op ʼn punt in my streek waar ek voel as ʼn nuwe persoon kom kuier en hy is nie bereid om as sake-eienaar enigiets tussen vier tot ses ure per week aktief in sy dagboek in te werk nie, dan is dit die soort mens waarvoor BNI nie gaan werk nie, want jy het beslis daardie hoeveelheid tyd nodig.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Ek het vir te lank te veel dinge probeer doen. Ek het ook vir te lank dieselfde antwoord gegee as iemand my vra wat ek doen: ‘wat wil jy hê ek moet doen?’ En as ek nie geweet het hoe om te doen wat hy my vra nie, het ek ʼn kursus gaan doen om dit te leer en dan doen ek dit vir hom. Dit het wel sy voordeel gehad in die sin dat ek baie vaardighede en opleiding het, maar ek het mettertyd besef dis beter om een ding besonder goed te kan doen as om ʼn klomp goed sommer net halfpad te kan doen. My grootste persoonlike en progessionele groei het plaasgevind toe ek gaan dink het waarom Karen op hierdie aarde geplaas is. Wat is my sterk punte en wat doen ek graag; wat gee my energie as ek dít of dat doen en waar kan ek effektief ʼn verskil maak in lewens om my en dit het toe alles vir my bymekaar gekom by BNI. Nou is ek gefokus en ek weet ek is effektief in dít waarop ek fokus en dat ek regtig ʼn verskil maak.

  • Hoe hanteer jy daardie oomblikke van onsekerheid en vrees?

Dit kom gewoonlik wanneer ek uit my skeppingsdoel beweeg en betrokke begin raak by goed wat nie my verantwoordelikheid is om te doen nie. Ek raak dan stil en kom terug na wie Karen is en waar Karen se fokus moet lê. Ek is ʼn situasionele ekstrovert. As mense die eerste keer na my kyk, sê hulle ek is ʼn algehele ekstrovert, maar ek is nie regtig nie, tensy die situasie dit vereis. Eintlik is ek ʼn groot introvert en ek kry my energie van alleen wees en onsekerheid en vrees storm my gewoonlik as ek vir te lank voor en tussen mense was en nie kans gekry het om alleen te wees nie. Naweke is ek algeheel antisosiaal.

  •  Watter sagteware of toepassing is vir jou baie waardevol?

Ek is mal oor die integrasie wat Apple my toelaat, waar my foon met my iPad, rekenaar en alles praat, met outomaties skakeling en storing. Ek is erg oor SmartSheet; dis ʼn toepassing waar jy die eerste vyftien ontledingstate gratis kan gebruik en daarna kos hy vir jou ʼn klein bedraggie per maand. Dis baie soos Excel, waar jy ʼn Excel-ontledingstaat kan intrek en ek gebruik dit elke week vir al ons gaste waar gaste se inligting by die BNI gelaai word. Wat lekker is hiervan is dat ek elkeen van daardie lysies na iemand toe delegeer om te gaan opvolg met die gaste. Ons het ʼn sentrale punt waar almal kan sien wat doen die ander op daardie ontledingstaat en daar is geweldig baie goed wat jy met smartsheet.com kan uitrig.

  •  Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Jim Rohn – work harder on yourself than you work on your business.”

  •  Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

WhatsApp:  082 458 6104

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.