[Entrepreneurskap] Moenie vergeet om dit te geniet nie!

skitterblink_2Iaan van Niekerk is die stigter van Skitterblink Skoonmaakdienste, ʼn konsessiegewer van binnelandse kommersiële skoonmaakdienste in Pretoria, Suid-Afrika.

  • Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself

Ons woon tans in Centurion vanwaar ons die besigheid bedryf. Ek het op die Noord-Kaapse platteland grootgeword en op die Puk gestudeer waar ek ook my vrou ontmoet het. Ons het ses kinders – vyf seuns en een dogter.

Ek het my loopbaan destyds in die IT-omgewing begin toe ek die produkbestuurder van al die tolhekke in Suid-Afrika was. Dit was voordat die tolhekke geprivatiseer is. Daarna het ek Skitterblink begin en is die laaste tien jaar voltyds hierby betrokke.

  • Watter probleem los jou onderneming op?

Benewens die skoonmaakdienste wat ons verskaf is ons betroubaarheid in jou huis of onderneming vir ons belangrik. Mense het ʼn groot probleem daarmee om vreemdes in hul huise of ondernemings te vertrou. As ʼn skoonmaakbedryf kom ons dikwels in omgewings waar min ander mense kom en daarom is vertroue vir ons belangrik.

  • Wat maak jou anders as jou kompetisie?

Omdat ons ʼn konsessiegewer is moes ons spesiaal ʼn klomp stelsels en goed gaan skryf om seker te maak dat die konsessiehouers altyd dieselfde soort diens verrig. Daarby probeer ons verseker dat ons altyd ʼn persoonlike diens verskaf en ons is baie gemaklik om persoonlike of doelgerigte skoonmaakoplossings vir die kliënt te verskaf. Dit is juis waarom ons ons stelsel só verpak dat ons dat dit baie persoonlik en doelgerig kan maak.

  • Ek het so ʼn bietjie agtergrond van julle onderneming. Iets wat my opgeval het, is hoe julle gefokus is op die ontwikkeling van die individu selfs buite die sakemodel en -stelsel.

Ons het ʼn onderneming geneem en besluit om dit saam met ons sakeafrigter in agt funksionele areas te verdeel. Terselfdertyd het ons besef as daardie agt lewensareas nie in balans is nie, loop daar gewoonlik iets skeef, al is dit eers oor tien jaar. Ons probeer dus om ʼn werknemer wat lyk asof hy probleme het te help en te ondersteun waar ons kan. Dis natuurlik nie altyd moontlik nie, maar ons probeer ons bes.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ek dink bemarking is altyd ʼn uitdaging vir enige bedryf, maar ons het die afgelope tyd baie sterk begin fokus op die uurglas-model. Dit beteken ons gaan deur die sewe-stapproses waarin ons wil hê die kliënt moet ons eers leer ken. Daarna moet die kliënt van ons hou, dan wil ons hom vat na waar hy vertroue in ons opbou. Die volgende stap is waar hy ons diens uittoets en dan uiteindelik koop hy by ons. Naderhand wil ons hê hy moet vir ons verwysings lewer en dan moet hy natuurlik by ons herkoop. Ons het dus in daardie sewe fases vir elkeen produkte of spesifieke materiaal gaan ontwikkel om ʼn kliënt deur daardie fases te begelei. Dis nogal intensief en ʼn voortdurende ontwikkelingsproses.

  • Waar het julle aan die model gekom en wanneer het julle aktief begin om dit te implementeer?

Ek is deel van Action Coach se meesterbemarkingsplan en ons is nou so vyf maande besig met die kursus van tien maande. Ons het al van die goed geïmplementeer, maar om dit nou in ʼn sewe-stapproses te begin verpak is nie ʼn maklike taak nie! Ons is eintlik slegs die laaste vyf of ses maande besig om dit mooi te verpak vir die konsessiestelsel en ek hoop om dit teen September of Oktober ten volle in werking te kan stel.

  • Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou bedryf?

Ek dink die grootste probleem wat ʼn mens in die skoonmaakbedryf het, is dat omtrent sestig persent van jou omset aan arbeid bestee word. Veral in Suid-Afrika is eksterne arbeidsaspekte die grootste kopseer. Dis nie soseer ons eie mense wat probleme veroorsaak nie, maar goed soos openbare vervoer om hulle by die werk te kry en stakings, al is ons mense is nie eers deel van hierdie unies nie. Maar wanneer hulle in die stede staak, dan kom alles tot stilstand en ons mense kan nie by die werk uitkom nie. Dis omtrent een van die grootste probleme om altyd ʼn aantal bystandswerkers te hê wanneer hierdie faktore buite beheer ons bedryf tref.

  • Hoe gaan julle te werk om proaktief aan daardie probleem aandag te gee?

Die eerste ding wat ons vir ons konsessiehouers aanbeveel is dat hulle nie al hul werkers uit een woonbuurt moet aanstel nie. As  jy werkers uit verskillende woonbuurte kry, het jy darem speling wanneer een buurt ʼn staking ervaar. Sodoende sal minstens die helfte van jou werkers kan opdaag. Die ander faktor is ook om werkers op bystand te hê. Dit is ʼn nuwe ding wat ons nou begin implementeer om ouetehuise of sulke mense by te staan met skoonmaakdienste teen ʼn redelike kostebasis. Vandaar kan ons skoonmakers gebruik wanneer daar ʼn krisis is. Ek dink baie skoonmaakbesighede gaan kry sommer net mense op straat en gebruik hulle as bystand, maar ek dink nie dis baie eties nie. Ons probeer liewer om vir ons werknemers ʼn etiese oplossing in die skoonmaaksektor te kry.

  • Ek dink daar is altyd plek daarvoor, selfs as jy na die skoonmaakbedryf in Engeland kyk. Dis een van daardie noodsaaklike dienste wat ongelukkig altyd vir laaste gelaat word en die probleem is ook dat party ondernemings dit as ʼn kommoditeitsbedryf hanteer omdat hulle hul werksmense ook net as ʼn kommoditeit behandel. Dit is dus altyd vir my verfrissend om te hoor as ʼn skoonmaakonderneming besef dit gaan nie net oor die skoonmaak nie, maar ook oor die mense.

Ons probeer regtig hard om die skoonmaaksektor in Suid-Afrika te transformeer, en ons begin hiermee by Skitterblink sodat ons ʼn voorbeeld in die mark kan stel.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Ek dink dis iets wat ek voortdurend doen – my persoonlikheid is van so ʼn aard dat ek mense baie gou in my vertroue neem en ek vertrou hulle onvoorwaarlik. Dan dink ek baie keer mense se vermoë is baie hoog, soos byvoorbeeld as iemand sê hulle is rekenaarvaardig neem aan ek dit is op ʼn sekere standaard, maar dis nie noodwendig sy standaard nie dis iets wat my nogal hier en daar redelik negatief tref. Ek probeer darem deesdae om dit so ʼn bietjie meer met onderskeidingsvermoë te hanteer, maar dit byt so nou en dan.

  • Hoe hanteer jy daardie oomblikke van onsekerheid en vrees?

Ek dink dis ʼn gegewe dat dit oor enige sakeman/-vrou se pad kom, maar ek het nou al geleer om net op daardie oomblik stil te raak. Ek weet daar ís ʼn antwoord as jy net begin sê hierdie probleem voor my is ʼn uitdaging en die uitdaging is ʼn potensiële geleentheid. Dan begin jou brein onmiddellik op ʼn nuwe vlak funksioneer om oplossings te soek.

  • Dis ʼn baie goeie strategie vir die Klipkouers, en ek dink wat ek ook vir die Klipkouers wil noem is die belangrikheid van daardie rustigheid en om stil te wees in plaas van al hoe vinniger in ʼn warboel verstrengel te raak. Nog iets wat ek nogal graag doen is om maar te vra hoe los ek die probleem op. Baie keer staar ʼn mens jou blind teen die probleem. Ek het al gevind om die regte vrae te vra werk nogal goed.

Ja, jy weet, as jy in jou gedagtes dink dis ʼn probleem skakel jou brein sommer af en soek nie na oplossings nie. Sodra jy egter daaraan dink in terme daarvan dat dit ʼn geleentheid is, skakel hy onmiddellik oor na ʼn ander rat en begin oplossings soek en gewoonlik kom daar dan iets uit.

  • Watter sagteware of applikasie is vir jou baie waardevol?

Iets wat ons die afgelope tyd nogal baie gebruik is Google-vorms wat handig werk vir ons gebruik vir vraelyste wat ons aan ons kliënte of konsessies stuur as ons ʼn vinnige meningspeiling wil opstel. Met hierdie vorms kan mens ʼn vinnige vyf vragie-vorm opstel en dit via WhatsApp of e-pos uitstuur vir vinnige terugvoering.

  • Hoe gaan julle te werk om daardie inligting te verwerk en sien julle sekere neigings? Is daar al enigiets spesifiek wat vorendag gekom het met die terugvoer van die kliënte en die konsessiehouers?

Wel, eerstens het ons al gesien dat, wanneer jy Google-vorms uitstuur, jy nie lang vraelyste opstel nie; dit moet kort en bondig wees en verkieslik nie meer as vyf vrae bevat nie. As ons dan daardie terugvoering kry, verskaf Google dit outomaties in grafiekformaat sodat jy met een oogopslag kan sien wat dit behels en vinnig tendense uitwerk. Om vir jou ʼn praktiese voorbeeld te gee: Ons wil onsself bemark as die nommer een betroubare binnelandse skoonmaakdienste in Suid-Afrika en toe stuur ons verlede week ʼn Google-vorm uit. Die terugvoer van 97,7% wat ons teruggekry het, het getoon mense is gelukkig met ons betroubaarheid. Dit het onmiddellik vir ons gesê ons is op die regte pad met dít wat ons doen.

  • Definieer net vinnig: jy praat van betroubaar. Verwys jy daarna dat as jy sê jy is twee uur daar dan is jy twee uur daar, of is dit ʼn kwessie van ‘hoor hier, jy het die stof in die hoek gemis’, of is dit ʼn kombinasie van die twee?

Dis maar ʼn kombinasie van baie goed. Mense sal jou vra of jou skoonmakers steel. Dis eintlik ʼn vraag wat hulle baie vinnig vra en my antwoord is onmiddellik ek gaan nie vir jou sê nee nie, want enige skoonmaakmaatskappy wat dit ontken lieg, want dit gebeur. Ek sal eerder vir hulle sê van die prosedure wat ons volg as so iets gebeur. Ons het proaktiewe maatreëls van hoe ons ons werknemers ondersoek, maar as daar so iets sou gebeur, het ons stap een, twee en drie en dis daardie eerlikheid wat jy aan jou kliënt deurgee wat hom gemoedsrus gee. Natuurlik is ander goed ook belangrik soos stiptelikheid en die maandelikse fakture – sulke professionaliteit bring ook vir hulle ʼn rustigheid en vertroue en vertroue kan jy net met tyd opbou.

  • Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Moenie vergeet om dit te geniet nie.” Al is dit ʼn probleem wat jy het of ʼn nuwe konsessie wat inkoop, of ʼn admin-taak wat voorlê, ek sê altyd vir almal, “Onthou, moenie vergeet om dit te geniet nie!”

  • Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

E-pos: [email protected] of op ons webtuiste

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Betroubaar ·

Ek kan die tipe bedryf, en my aanbeveling is om die konsep van betroubaar uit te brei deur om veiligheid in te sluit. Julle doen dit seker klaar, maar dit is n groot leemte in die mark. Baie mense wil nie meer bediendes he nie omdat hulle eers te veel gesteel het, en deesdae almeer betrokke is by aanvalle of moord, al is die bediende self onskuldig was sy geintimideer vir inligting en toegang. So as julle julself so kan bemark dat julle skoonmaakdienste gee sonder vrees vir diefstal en aanvalle, dan sien ek baie groot sukses voorlê.

Getroue klient ·

Ek kan Skitterblink dienste met ‘n geruste hart aanbeveel. Ons gebruik hulle dienste al jare lank en ek sal nooit weer enige ander dienste wil gebruik nie! Hulle diens is puik en hulle is baie profesioneel. Enige probleme word dadelik uitgesorteer en die gemoedsrus is ongeken in ons tyd. Welgedaan aan elke werknemer van Skitterblink maar ook in spesiaal aan die eienaar – jy het ‘n ongelooflike wenplan en julle dienslewering is uitstekend! Ek is ‘n baie gelukkige klient.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.