Entrepreneurskompetisie wil Afrikaanse sakelui bemoedig, toerus

Nikkie Nel en Sanderien van der Walt van die AfriForum Sakenetwerk. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

AfriForum Sakenetwerk se jaarlikse Entrepreneur van die jaar-kompetisie gaan nie net oor titels en toekennings nie, maar het eerder ten doel om vir entrepreneurs unieke netwerk- en blootstellingsgeleenthede te bied wat sorg dat daar tegnies geen deelnemer is wat met leë hande huis toe gaan nie.

Dít was Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk, se boodskap aan entrepreneurs tydens die bekendstelling van dié unieke sake-inisiatief se entrepreneurskompetisie Donderdag in Pretoria.

Dié kompetisie word in samewerking met die Afrikaanse private hoëronderriginstelling Akademia aangebied, met die regsfirma Steyn IP en die digitale agentskap Kwikstert as hoofborge.

Verskeie entrepreneurs het die kompetisie se bekendstelling in Pretoria bygewoon. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Sedert die kompetisie vir die eerste keer in 2015 aangebied is, het meer as 300 entrepreneurs daarvoor ingeskryf. Noemenswaardige wenners sluit in Louis Loubser, ʼn sitrusboer en brein agter die unieke besproeiingstelsel genaamd Tree Hog, asook die susters Christine Buchanan en Louiza Rademan se organiese babavelsrogreeks, Oh Lief.

Die kompetisie is weens die Covid-19-pandemie nie in 2020 aangebied nie, maar het in 2021 ʼn nuwe baadjie aangetrek nadat deelnemers die behoefte aan opleidingsgeleenthede uitgespreek het.

“Ons het hierdie spesifieke areas – wat alles van arbeidswetgewing, sosialemediastrategieë tot finansiële bestuur insluit – geïdentifiseer en bied nou werkswinkels oor hierdie spesifieke onderwerpe as deel van die inskrywingsproses aan. Entrepreneurs wat deelneem moet dus sommige van dié werkswinkels of webinare voltooi as deel van hulle uiteindelike beoordeling,” verduidelik Van der Walt.

Sónel Botha, Anné van Zyl en Odette Koorsen van Kwikstert. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Inskrywings is tans oop en sluit op 27 Julie, waarna lede van die publiek hul toptien gunsteling-entrepreneurs sal aanwys. Dié finaliste moet dan ʼn portefeulje inhandig en sal ook die geleentheid gegun word om hulself aan ʼn uitgesoekte paneel beoordelaars voor te stel. Die beoordelaars sal dan op grond van dié indrukke en portefeulje ʼn finale groep finaliste aanwys wat in die laaste rondte dinge sal uitspook om as die entrepreneur van die jaar aangewys te word.

Die wenner ontvang onder meer ʼn R50 000 kontantprys, ʼn keuse van mentorskappe, nuwe promosiemateriaal en hope blootstelling.

Van der Walt het by die bekendstelling ook gesê dat die AfriForum Sakenetwerk daarop ingestel is om entrepreneurs te bemagtig en te bemoedig om ʼn merkwaardige verskil in hul direkte omgewing en gemeenskap te maak.

“Dit is ʼn onbetwisbare feit dat entrepreneurs die hartklop van die Suid-Afrikaanse ekonomie is. Die lewe van ʼn entrepreneur kan egter eensaam wees en daarom is dit vir ons belangrik dat entrepreneurs deel van ʼn sterk netwerk en gemeenskap moet voel, selfs al stap hulle nie met die topprys in die kompetisie weg nie.”

Soortgelyke bekendstellings word ook in Bloemfontein, George en Durbanville in die Wes-Kaap aangebied.

Entrepreneurs van ʼn wye verskeidenheid nywerhede, van mode tot myne, het die Pretoriase bekendstelling bygewoon en veral die jonger sakelui het bewys dat dit moontlik is om selfs deur ʼn pandemie met jou entrepreneursvaardighede te woeker.

Zellemari van Niekerk. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Zellemari van Niekerk, ʼn derdejaarstudent in voedsel- en verbruikerswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria, is deur haar ousus, Miquette van Niekerk, vir dié kompetisie ingeskryf.

Die 20-jarige is die brein én hande agter Foxi Boutique wat pasgemaakte babaklere en -bykomstighede verkoop.

Die flukse rooikop vertel dat haar passie aanvanklik by premature babas gelê het, maar dat sy studierigtings moes verander toe sy nie keuring vir medies gekry het nie. Sy het egter besluit om steeds dié passie uit te leef deur vrywilligerswerk te doen by Rock of Hope, ʼn plek van veiligheid in Pretoria vir babas en peuters wat mishandel en weggegooi is. Hier het sy besluit om haar studies én liefde vir kleingoed te kombineer en het sy in die grendeltydperk haar onderneming op die been gebring.

Soortgelyke bekendstellings word ook in Bloemfontein, George en Durbanville in die Wes-Kaap aangebied. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Elke item word sorgvuldig met haar eie hande gemaak. Dié jong entrepreneur glo ook in volhoubare en omgewingsvriendelike modepraktyke en probeer dit toepas sover sy kan.

Die bekende Afrikaanse aktrise Simoné Pretorius se eenjarige dogtertjie, Harper, is gereeld in Foxi Boutique-pakkies te sien en het selfs saam met haar bekende ma op die voorblad van die Huisgenoot in een van dié uitrustings gepronk.

Van Niekerk – wat tans haar onderneming vanuit haar ouerhuis bestuur – vertel dat sy nie kan byhou met die groot aanvraag na haar produkte nie en droom daarvan om ʼn personeellid aan te stel en ʼn klein ateljee van haar eie te hê.

Sy sê indien sy die kompetisie wen, sal sy die pryse benut om haar sakeonderneming uit te brei.

Nóg ʼn deelnemer en veelsydige jong entrepreneur is Franco van Wyk, mede-eienaar van Houthakker, ʼn onderneming wat gehalte dekoratiewe houtprodukte vervaardig.

Franco van Wyk. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die 22-jarige studeer tans BSosSci (politiek, ekonomie en filosofie) by Akademie en het dié onderneming saam met sy meisie, Corinne Landman, in 2020 op die been gebring.

Van Wyk vertel dat hy en Landman ʼn liefde vir houtwerk ontwikkel het nadat hulle tydens die pandemie in sy pa se werkswinkel ʼn meubelstuk saam gemaak het. “Ons het vinnig besef dat ons daarvan hou om saam meubels te bou en het besluit ons wil sleutelitems maak wat ʼn hele vertrek kan opkikker sonder om baie geld uit die sak te jaag.”

Dié jong entrepreneurs vervaardig tans onder meer snyborde, banke en stoele, sowel as “skinkborde” wat oor ʼn bad gehaak kan word om kerse en badsout op uit te stal. Hulle het onlangs ook begin uitbrei deur kussingslope te maak en van hul produkte was selfs al in Tuis-tydskrif te sien.

Van Wyk vertel dat hy geïnspireer is om vir dié kompetisie in te skryf nadat hy Daniel Strauss se boek Dink soos ʼn miljardêr gelees het waarin die belang van goeie mentorskap prominent beklemtoon word. “Ek het gelees dat mentorskap een van die pryse is wat op die spel is en wil bitter graag van só ʼn geleentheid gebruik maak om te groei as entrepreneur en sodoende ons besigheid van krag tot krag te vat.”

Inskrywings vir die AfriForum Sakenetwerk-kompetisie is nou oop en sluit op 27 Julie. Vir meer inligting en om in te skryf klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.